Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wayne Pivac gee Drake nog Kiwi-vuur

Wayne Pivac, Wallis se nuwe afrigter, gaan nie skroom om met Nieu-Seeland se kalwers te ploeg nie.

Hy het Dinsdag twee gebore Kiwi’s, Johnny McNicholl en Willis Halaholo, in sy groep gekies vir volgende Saterdag se kragmeting met die Barbarians in Cardiff.

Willis Halaholo. Foto: Getty Images

Dié wedstryd sal Pivac, ook ’n Nieu-Seelander, se eerste aan die stuur van die Rooi Drake wees. Hy het vandeesmaand die leisels by Warren Gatland, nóg ’n Kiwi, geneem.

Gatland, wat vir 12 jaar aan die stuur van Wallis was, sal ironies genoeg die Barbarians vir hierdie feeswedstryd afrig.

McNicholl, ’n vleuel, was van 2013 tot 2016 in die Crusaders se groep, waarna hy deur die Scarlets in Wallis gekontrakteer is.

Halaholo, ’n senter, was in 2016 lid van die Hurricanes se span wat die Superrugby-titel die eerste keer gewen het. Hy speel sedertdien vir die Cardiff Blues.

Dié wedstryd teen die Barbarians bied ’n goeie geleentheid vir die nuwe afrigtingspan om sy visie met die spelers te deel en die grondslag vir volgende jaar se Sesnasies-reeks te lê.
Wayne Pivac

McNicholl en Halaholo het vandeesmaand vir Wallis gekwalifiseer op grond daarvan dat hulle die afgelope drie jaar permanent in dié land bly. Albei is 29 jaar oud.

Hulle tel onder vyf spelers sonder enige toetservaring in die Rooi Drake se groep. Die ander drie is Taine Basham, Shane Lewis-Hughes en Ashton Hewitt.

Altesame 22 spelers wat Wallis tot in die halfeindronde van die afgelope Wêreldbeker-toernooi help voer het, is in Pivac se groep van 35.

Die Walliese kaptein, Alun Wyn Jones, is beseer en sal nie die span op die veld lei nie. Ander groot name soos Liam Williams (heelagter) en Jonathan Davies (senter) is ook op die krukkelys.

Dan Biggar (losskakel) en Rhys Carre (stut), wat hul klubrugby in Engeland speel, is ook nie beskikbaar nie, aangesien dié wedstryd buite die amptelike toetsvenster val.

“Dis lekker om die groep te kon aankondig en die bal aan die rol te kry voor ons die eerste keer saamtrek en volgende week speel,” sê Pivac.

Johnny McNicholl. Foto: Getty Images

“Dié wedstryd teen die Barbarians bied ’n goeie geleentheid vir die nuwe afrigtingspan om sy visie met die spelers te deel en die grondslag vir volgende jaar se Sesnasies-reeks te lê.”

Pivac is goed vertroud met Walliese rugby omdat hy die Scarlets lank afgerig het.

Die Barbarians, wat Springbokke soos Beast Mtawarira, Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am in sy geledere het, speel Woensdag in São Paulo teen Brasilië, waarna hy na Wallis sal terugkeer.

Die Baabaas het die afgelope naweek op Twickenham met 31-33 teen ’n onervare Fidjiaanse span vasgeval.

* Hadleigh Parkes, een van die gevestigde senters in die Walliese groep, is ook ’n Nieu-Seelander van geboorte.

* Wallis se groep is: Voorspelers: Elliot Dee, Ryan Elias, Ken Owens, Rob Evans, Wyn Jones, Nicky Smith, Leon Brown, Samson Lee, Dillon Lewis, Jake Ball, Adam Beard, Bradley Davies, Seb Davies, Taine Basham, Ollie Griffiths, Shane Lewis-Hughes, Ross Moriarty, Aaron Shingler, Justin Tipuric, Aaron Wainwright.

Agterspelers: Aled Davies, Gareth Davies, Tomos Williams, Sam Davies, Jarrod Evans, Willis Halaholo, Hadleigh Parkes, Owen Watkin, Owen Lane, Josh Adams, Steff Evans, Ashton Hewitt, Johnny McNicholl, Hallam Amos, Leigh Halfpenny.

Meer oor:  Wallis  |  Warren Gatland  |  Rooi Drake  |  Wayne Pivac  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.