Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallis spel gevaar vir WB-toernooi
Vreugde is... Grand Slam-sukses. Wallis se inspirerende kaptein, Alun Wyn Jones, hou die trofee wat die Rooi Drake die naweek in Cardiff verower het. Foto: Getty Images

Wallis lyk na die Europese rugbyspan wat vanjaar Wêreldbeker-glorie kan smaak, veral ná sy Grand Slam-sukses die naweek in die Sesnasies-reeks, maar beserings kan die span se kanse erg in die wiele ry.

Die Rooi Drake het Saterdag hul beste vir laaste gehou en Ierland in Cardiff met 25-7 oorrompel om die reeks onoorwonne af te sluit.

Dit was ’n gepaste afskeidsgeskenk vir die breier, Warren Gatland, wat die tuig ná die WB-toernooi gaan neerlê.

Dit was ook Gatland se derde Grand Slam saam met die span, wat hom die suksesvolste breier in die Europese reeks maak.

Wallis is nou die eerste Europese span sedert Engeland in 2003 wat as Grand Slam-kampioen die Wêreldbeker-toernooi takel.

In daardie jaar het die Rose, onder breierskap van Clive Woodward, boonop die wêreldwye skouspel gewen.

Die Rooi Drake het egter nog nooit in ’n WB-eindstryd gespeel nie. Indien die span dit vanjaar wil vermag, sal hy onder meer met Nieu-Seeland, Gatland se geboorteland, moet afreken. Nog geen Wallis-span kon dit sedert 1953 vermag nie.

Ierland, afgerig deur die Kiwi Joe Schmidt, het daarenteen in November verlede jaar die All Blacks met 16-9 in Dublin kafgedraf.

Daar moet boonop gesien word hoe Wallis sal vaar as hy sonder sy veteraan-kaptein en monster-slot, Alun Wyn Jones, en ander sleutelspelers moet klaarkom.

Jy kan aan vaardighede skaaf en finale afrondingswerk doen, maar beserings bly ’n groot bekommernis.
Warren Gatland

Die uitmergelende Sesnasies-reeks en die daaropvolgende klubrugbyverpligtinge in Wallis kan sy tol eis.

“Ek is baie opgewonde oor die WB-toernooi, want jy kry twee, drie maande saam as ’n span en jy kan voorberei asof dit ’n klubspan is. Jy kan aan vaardighede skaaf en finale afrondingswerk doen, maar beserings bly ’n groot bekommernis,” het Gatland na Saterdag se sukses gesê.

Gatland was aan die stuur toe die span in 2011 in die halfeind van die WB-toernooi deur Frankryk uitgeskakel is en ook vier jaar gelede teen Suid-Afrika in die kwarteind verloor het.

“In die twee vorige toernooie was ek betrokke by waarskynlik die fiksste spanne wat ek tot dusver afgerig het. Ons sal hopelik ook in ’n goeie toestand wees vir vanjaar se skouspel,” het Gatland gesê.

Vrae oor Engeland, wat vroeër in die reeks met 21-13 deur Wallis geklop is, se aanslag het weer opgeduik ná die Rose se verstommende gelykop-uitslag van 38-38 teen Skotland Saterdag op Twickenham.

Die Rose het ’n breinfloute beleef en ’n voorsprong met 31-0 op sy tuisveld weggesmyt, iets wat ’n span soos Nieu-Seeland op Edenpark in Auckland byvoorbeeld nooit sal doen nie.

Maro Itoje (Foto: Getty Images)

Engeland, wat ’n groot groep spelers het om van te kies, sal hoop ’n staatmaker-slot soos  herstel betyds van sy besering voordat die WB-toernooi in Japan afskop.

Itoje sal egter, soos verskeie Engeland-kandidate, insluitende die kaptein, Owen Farrell, steeds Premierliga-verpligtinge hê.

Meer blootstelling in dié kompetisie beteken ’n groter kans op beserings.

Selfs al “oorleef” die toetskandidate die klubstryde, is die vraag of Engeland weer sy voete kan vind in aanloop tot die WB-toernooi.

“Jy het dié tipe lesse nodig voordat ’n WB-toernooi begin,” was Eddie Jones, die afrigter se filosofiese antwoord nadat sy span so byna skandes gemaak het op Twickenham.

“As jy hierdie tipe ding in ’n groepwedstryd teen iemand soos Tonga herhaal, kan jy jouself in ’n moeilike situasie later in die toernooi bevind.”

As jy hierdie tipe ding in ’n groepwedstryd teen iemand soos Tonga herhaal, kan jy jouself in ’n moeilike situasie later in die toernooi bevind.
Eddie Jones

Ierland kon nog nie verder as die kwarteind van die WB vorder nie.

Die span moet ook die vrees oorkom dat hy sy beste peil bereik het met sy Grand Slam-sukses in 2018 en die daaropvolgende sege oor die All Blacks en dat hy sedertdien sukkel om weer dié vlak te haal.

“Ons was nie katastrofies nie, maar ons was ook nie goed nie. Die span weet hy kan beter,” het Joe Schmidt, die breier, Saterdag na die loesing gesê. Reuters

Meer oor:  Eddie  |  Warren Gatland  |  Jones  |  Ierland  |  Engeland  |  Wallis  |  Rose  |  Sesnasies  |  Rugby  |  Wereldbeker-Toernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.