Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallis stukkend oor Grand Slam misluk

Wallis se breier, Wayne Pivac, was ’n gebroke man nadat sy span in die doodsnikke met 30-32 teen Frankryk vasgeval het en daarmee saam ’n kans op ’n Grand Slam in die Sesnasies-reeks kwyt is.

Frankryk vier Brice Dulin se drie wat hulle tot ’n naelskraapse oorwinning oor Wallis gehelp het. Foto: Getty Images

In ’n chaotiese laaste paar minute is die Franse slot Paul Willemse koelkas toe gestuur nadat hy kontak met die Walliese stut Wyn Jones se oog gemaak het, terwyl die besoekers op hul beurt weer met 13 spelers moes klaarkom nadat Taulupe Faletau en Liam Williams afgestuur is.

Daardie geelkaarte het eindelik vir die Rooi Drake gekos met die Franse heelagter Brice Dulin wat met die laaste beweging van die wedstryd die doellyn oorgesteek het om Wallis se hoop aan skerwe te laat.

“Dit is ’n gedempte gevoel nadat die ouens so ’n fantastiese poging ingesit het,” het Pivac ná die wedstryd gesê.

“Dit was in ’n stadium moeilik om te verdedig, maar die ouens het uitstekend gevaar om vas te klou.

“Daar was egter een aanval te veel en ons dissipline in die laaste tien minute het ons vir seker geen gunsies bewys nie.

“Hulle (die Hane se bestuurspersoneel) het hul span aangemoedig en ons was weer gretig in terme van ons hoop vir omgekeerde besit.”

Pivac sê dat sy span die week sal besin oor wat hulle eindelik gepootjie het met die Franse wat volgende week Wallis se hoop op die Sesnasies-titel kan verydel indien hulle vir Skotland Vrydag met ’n bonuspunt-oorwinning kan klop.

Dit is ’n gedempte gevoel nadat die ouens so ’n fantastiese poging ingesit het.
Wayne Pivac

Dié wedstryd, een wat verlede maand uitgestel is nadat die Franse span deur ’n uitbreking van Covid-19 getref is, is een wat Pivac glo ’n moeilike uitdaging vir die Skotte gaan wees.

“Dit is ’n baie goeie Franse span, soos wat julle gesien het gedurende ’n oomblik in die afgelope wedstryd waar ek gedink het ons behoort te wen.

“Hulle hou net nie op nie, ’n spul groot mans wat hard vir die bal gaan. Hulle het ons onder baie druk geplaas en is veral in hul agterplaas ’n gedugte span.”

Die Walliesers se breier sê dat sy span vasgenael voor die kassie sal sit wanneer Frankryk en Skotland slaags is.

Vir Alun Wyn Jones, Wallis se kaptein, was die nederlaag ’n bitter pil om te sluk.

“Ek het gedink ons was redelik goed vir die 80 minute van die spel,” het hy luidens die Belfast Telegraph gesê.

“Met die laaste fase van die wedstryd het Frankryk natuurlik dit deurgetrek. Hulle het die druk gebou en ons swak dissipline het ons waarskynlik duur te staan gekom. Die Franse moet egter krediet kry vir die oorwinning.

“Wanneer dit (die titel) uit jou hande is, dan moet jy na die toekoms kyk. Dit sal interessant wees om te sien wat gebeur en ek wil nie daaroor spekuleer nie. – Sportredaksie

Meer oor:  Wayne Pivac  |  Alun Wyn Jones  |  Frankryk  |  Sesnasies-Reeks  |  Wallis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.