Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Walt neem swaar afskeid van Cheetahs

Die naweek neem die Cheetahs afskeid van twee ysters wanneer hulle die laaste keer die wit en oranje trui in ’n Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Leeus in Johannesburg oor die kop trek.

Walt Steenkamp speel Saterdag sy laaste wedstryd vir die Cheetahs voor hy hom in November by die Bulle aansluit. Foto: Gallo Images

Die slot Walt Steenkamp sluit in November by die Bulle aan en die senter Benhard Janse van Rensburg by die NEC Green Rockets in Japan.

Steenkamp was verlede week teen sy nuwe werkgewer op sy stukke en het die Bulle se slotte oorskadu, maar hy fokus ’n laaste keer om nog vir die Cheetahs uit te blink.

“Ja, nee, dit begin stadig maar seker insink dat ek waai. Veral ná die afgelope naweek se wedstryd wat my laaste een was waar ek vir die Cheetahs in Bloemfontein uitgedraf het, het dit aan my begin vat,” sê Steenkamp.

Hy het aanvanklik sy stempel in die Varsitybeker-reeks vir die Pukke afgedruk en toe hy hom by die Cheetahs aangesluit het in 2018, het die 25-jarige Rustenburger selfs nog beter rugby begin speel. Hy sê by die Cheetahs het hy baie geleer en het hy altyd welkom gevoel.

“Die Cheetahs was ongelooflik. Dit was ’n voorreg om hier te kon wees en ek sal altyd alles en almal waardeer wat oor my pad gekom het en op hulle eie manier bygedra het tot my loopbaan tot dusver.”

Hy sê om van Varsitybeker- na Pro14-rugby te moes skuif, was vir hom ’n groot aanpassing, maar hy het gedoen wat nodig was om sy voete te vind.

Hopelik kan dit in die toekoms bydra dat ek die Bok-trui dra.

“Die manier van speel was heel anders en daarby moes ek in Europa gaan speel. Om in ’n omgewing te kom wat baie meer beroepsgerig is, leer dit jou om harder te werk en gee dit jou die motivering om elke week beter te wil raak,” sê hy.

Steenkamp sê sy skuif na die Bulle gaan nie noodwendig daaroor dat hy vir die Springbokke wil speel nie, want dit is in elk geval elke speler se droom, maak nie saak vir watter unie hy speel nie.

“Ek voel die Bulle is ’n nuwe uitdaging vir my en dit is ’n groot geleentheid om deur Jake White afgerig te kan word. Hopelik kan dit in die toekoms bydra dat ek die Bok-trui dra.”

Oor die naweek se wedstryd teen die Leeus, sê Steenkamp daar moet nie in dié span se nederlae vasgekyk word nie, want by die huis is hy ’n gevaarlike kat.

“Kyk, die Leeus het nie slegte rugby gespeel sover nie. Ek dink hulle was ongelukkig om in die laaste minuut van die wedstryd teen die Haaie te verloor.

“Hulle het nou twee wegwedstryde verloor en daarom glo ek hulle sal die seisoen op Ellispark op koers wil kry. Ons verwag ’n taai stryd.”

Meer oor:  Cheetahs  |  Bulle  |  Walt Steenkamp  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.