Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Warren byt vas, bly hoop vir WB-toernooi

Warren Whiteley veg teen die frustrasie om met die hulp van krukke te loop en erken dat hy in ’n emosionele tweestryd is.

Die Springbok- en Leeus-kaptein sê dis moeilik om geduldig te bly met sy herstel. Hy sê ook dit verg groot dissipline om op sy herstel te fokus en nie oorhaastig en gefrustreerd te raak nie.

Warren Whiteley. Foto: Gallo Images

“Dit gaan baie goed. Ek is nou net gefokus om weer op die veld te kom,” sê die Leeus se inspirerende kaptein toe Rapport die afgelope week met hom gesels het.

“Ek behoort die krukke volgende week te los, en dit sal wonderlik wees. Ek kan klaar reeds sonder die krukke loop, maar die dokters dring daarop aan dat ek nie oorhaastig raak nie en die knie genoeg ruskans moet gee sodat dit kan herstel.

“Van volgende week af sal ek sonder die krukke loop, en hopelik ná nog ’n week of so sal ek kan begin draf. Ek gaan egter nie ’n sperdatum vir my terugkeer stel nie. Ek vat dit maar week vir week en fokus net op wat nou voor my is. Maar dit voel goed, en ek is positief.”

Die baie besoeke wat hy vanjaar van die besering­spook gekry het, het hom hard geslaan.

“Dit is frustrerend. Ek kan nie jok nie. Dit is moeilik en ’n uitdaging. Maar oor die laaste twee jaar of so is ek deur ’n paar beserings. My kop moes sterker raak en ek moes dit vinniger aanvaar. Maar dit gaan goed en ek is vasberade om terug op die veld te kom.

En die Wêreldbeker? En die Springbokke? Whiteley wil nie nou daaraan dink nie. Een tree op ’n slag, sê hy.

“Om eerlik te wees, ek fokus nie eens daarop nie. Ek fokus net daarop om myself weer terug op die veld te kry en om die geduld te hê om dit reg te doen. Ek word emosioneel daaroor en dan is ek gretig om weer op die veld te kom. En dit kan my benadeel omdat dit nie die beste vir my is nie.

“Die laaste ding wat ek wil doen, is om terug te keer en twee of drie wedstryde te speel en dan weer beseer te raak. Dit was die geval sover vanjaar. Ek wil regtig terugkom en in ’n goeie toestand wees sodat ek op die veld kan bly. Dit is my doelwit, dit is al waarop ek nou fokus, om op die veld te kom en dan daar te bly.”

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Besering  |  Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.