Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Warren ‘gefrustreerd’ teen Haaie

Warren Whiteley, die Leeus se agtsteman en kaptein, was met tye gefrustreerd in sy span se eerste Superrugby-stryd Saterdag op Ellispark teen die Haaie.

Warren Whiteley, die Leeus se agtsteman en kaptein, Saterdag in aksie teen die Haaie. Foto: Gallo Images

Die Leeus het dié stryd met 26-19 gewen.

“Ek was betreklik gefrustreerd met tye; ek dink albei spanne sou gefrustreerd wees met hul vertonings. Niemand kon regtig aan die gang kom nie en daar was baie verbroude kanse. Dit is seker wat jy van jou eerste wedstryd verwag,” sê Whiteley.

Op die oog af het dié stryd egter nie baie soos ’n tipiese eerste wedstryd van die seisoen gelyk nie.

Sulke stryde word gewoonlik deur ’n magdom hanteerfoute gekenmerk, maar albei spanne het bykans voortgegaan waar hulle verlede jaar geëindig het.

Die Leeus moes in die laaste tien minute ’n verwoede aanslag op hul doellyn afweer.

“Tog is ek trots op die ouens; ons het baie karakter gewys om hulle van ons doellyn weg te hou. Ons het deurgeskraap en ons weet daar is nog baie harde werk wat voorlê,” erken die kaptein.

“Dit is ’n baie goeie uitslag vir ons. Die Haaie is regtig ’n goeie span. Ons het geweet daar gaan baie druk wees, maar ek voel ons het onsself gereeld onder druk geplaas. Ons was dikwels ons eie grootste vyand.”

Ons het geweet daar gaan baie druk wees, maar ek voel ons het onsself gereeld onder druk geplaas. Ons was dikwels ons eie grootste vyand.
Warren Whiteley

Whiteley het vir die eerste keer sedert Mei verlede jaar vir die Leeus uitgedraf.

“Ek het dit baie geniet. Ek is mal oor die reeks. Dit is so ’n groot eer om vir dié span en vir dié unie te speel.”

Swys de Bruin, die Leeus se nuwe hoofafrigter, was net so tevrede met die sege.

“Baie geseënd, tevrede en verlig. Dit is my eerste reaksie,” het De Bruin sy gevoelens opgesom.

Swys de Bruin. Foto: Gallo Images

“Dit is altyd ’n moeilike stryd teen die Haaie. Warren kom van daar af, ek het vir 12 jaar daar gebly en ek dink Rudolf Straeuli (uitvoerende hoof) besit steeds die helfte van Durban,” skerts De Bruin.

“Dit is altyd baie lekker om die Haaie te klop, ek moet dit erken.”

Die Leeus se voorspelers het puik gespeel en veral die Haaie se rolmaalbewegings goed gesmoor. Dít is ’n pluimpie vir die jong voorspeler-breier, Philip Lemmer, wat die agttal onder hande geneem het ná Johan Ackermann se vertrek na Gloucester.

“Dit is nou tyd om op die toekoms te fokus. Philip Lemmer is ’n afrigter met goeie vooruitsigte.

“Ackers het ’n goeie grondslag gelê en ons is steeds groot vriende. Maar ons moet nou vir Philip ’n kans gee om te ontwikkel en so goed soos Ackers te word,” sê De Bruin.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Johannesburg  |  Haaie  |  Leeus  |  Kaptein  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.