Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Warren geniet afrigting, maar wil nie uittree

Dit is ’n groot teleurstelling dat hy nie betyds gaan herstel vir die Wêreldbeker-toernooi nie, maar Warren Whiteley vind nou nuwe maniere om uiting aan sy passie vir rugby te gee.

Whiteley, wat sy hare vir kankerbewustheid afgeskeer het, het Woensdag in Johannesburg gesê hy het twee weke gelede reeds begin vrede maak daarmee dat sy kniebesering hom uit die WB-toernooi in Japan gaan hou.

Warren Whiteley het sy hare vir kankerbewusmaking afgeskeer. Foto: Gallo Images

“Dit was ’n uitdagende tydperk, maar ek het tyd gehad om dit te verwerk,” sê Whiteley.

“Dit was taai en gaan moeilik wees om die ouens dop te hou. Die besering het ongelukkig net nie vinnig genoeg herstel nie.

“Ons het probeer om die herstelproses te versnel. Die voorspelde hersteltyd vir ’n mikrofraktuur is vier maande. Ons het probeer om dit in twee maande te doen en dit het ongelukkig nie gewerk nie.”

Whiteley moes onlangs begin hardloop en ander veeleisende oefeninge doen, maar omdat sy knie nog nie herstel het nie, was dit te seer.

“Ek kon nie vooruitgang toon nie en dus kon ek nie spiermassa bou nie.”

Dit was taai en gaan moeilik wees om die ouens dop te hou. Die besering het ongelukkig net nie vinnig genoeg herstel nie.

Hy sê nou benader hy sake baie rustig wat die herstel van sy besering betref.

“Ek druk nie meer vir die WB nie, so nou fokus ek daarop om tot die Goue Leeus by te dra en om my rehabilitasie te doen.

“Ná die laaste drie weke van die Curriebeker-reeks sal ek hopelik kan begin om die lading op my knie te vermeerder.

“Dit is ’n lang voorseisoen en nou fokus ek daarop om gereed te wees vir die Superrugby-reeks.”

Dit is juis sy betrokkenheid as hulpafrigter vir Ivan van Rooyen by die Goue Leeus se Curriebeker-span wat die teleurstelling meer draaglik maak.

“Ek het baie uitgehelp by die Curriebeker-span as ’n afrigter en dit is bevrydend vir my, ek geniet dit ongelooflik baie om uit te help en ’n bydrae te lewer.

“Afrigting is ’n groot passie van my en dit is beslis iets wat ek ná my loopbaan sal wil doen.

Die mees frustrerende ding vir my is dat dit voel of ek ander mense in die steek laat, soos my afrigters en my spanmaats.

“Ek het nog altyd ’n groot passie vir die spel gehad. Toe ek jonk was, was ek ’n enorme rugbyondersteuner en daarna het ek ’n beroepspeler geword en ek hoop om eendag op afrigting te fokus. So my identiteit is nie net in die speel van rugby gewortel nie.”

Whiteley is in sy loopbaan deur die een besering ná die ander lamgelê. Hy probeer om die positiewe daarin raak te sien.

“Die mees frustrerende ding vir my is dat dit voel of ek ander mense in die steek laat, soos my afrigters en my spanmaats.

“Dit is teleurstellend. Die moeilike ding met beserings is dat dit gewoonlik uit jou hande is. Dit maak dit frustrerend, want jy wil net daar wees en ’n bydrae lewer.

“Maar dit is die lewe. Jy raak geestelik taaier. My geestelike taaiheid is nou baie beter as wat dit twee jaar gelede was.”

En al word hy oor minder as ’n maand 32, oorweeg hy dit nog nie om halt te roep nie.

“Ek het nog nie eens daaraan gedink nie, ek fokus heeltemal op die hier en nou.”

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.