Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Warrick emosioneel oor Kaapse skuif

Hy sien baie uit na die uitdaging in die Westelike Provinsie, maar Warrick Gelant gaan sy rugbyfamilie by die Blou Bulle later vanjaar met ’n seer hart groet.

Dis met ’n seer hart wat Warrick Gelant afskeid gaan neem van die Bulle-familie. Foto: Gallo Images

“Toe alles ’n werklikheid begin word en die aankondiging van die skuif gemaak is, het ek nostalgies geraak. Jy besef dan hoe jy gegroei het, die vriende wat jy gemaak het wat jou die res van jou lewe sal bybly en wat jy deur al die goeie en moeilike tye geleer het,” het Gelant in ’n eksklusiewe onderhoud aan Netwerk24 gesê.

“Ek kan net dankbaar wees vir die afgelope sewe jaar. Die ondersteuners in Pretoria was ook só spesiaal. Dis ’n emosionele gevoel, maar soveel liefde as wat hulle vir my gegee het, soveel het hulle teruggekry.

“Ek kan wegstap met die wete dat ons mekaar op goeie voet groet.”

Die 25-jarige Gelant, ’n lid van Suid-Afrika se groep vir verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi, meen egter die Westelike Provinsie sal vir hom die beste geleentheid op groei bied. ’n Skuif Wes-Kaap toe bring hierdie boorling van Knysna ook nader aan die “huis”.

Niemand kan vervang wat Dillyn vir die Stormers gedoen het nie. Hy’s ’n goeie vriend en ons het altyd gehoop dat ons eendag saam kan speel.
Warrick Gelant

“Van kleins af was ek altyd ’n WP-ondersteuner. Die geleentheid wat ná skool vir my gebied is, was by die Blou Bulle. Daar was nie ’n ander opsie nie. Ons was maar net dankbaar om ’n geleentheid te kan kry,” sê hy.

“Ná sewe jaar dink ek vir my, om as speler te groei, is dit die beste skuif. By die Bulle het ons elke jaar onder verskillende afrigters gespeel, by wie ek elkeen baie geleer het. Maar dis vir my ideaal om nou Kaap toe te skuif.”

Dat daar talle van sy WB-spanmaats by die Stormers is – Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Frans Malherbe, Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Herschel Jantjies en Damian Willemse – het die skuif straks aantrekliker gemaak. Met Gelant en die moontlike aanwins van die Bok-vaskopstut Vincent Koch bygereken, kan die getal dalk na nege toe swel.

Gelant verlede jaar met die Webb Ellis-trofee. Foto: Getty Images

Met slegs nege toetse agter sy naam sedert sy buiging teen Italië in Padua in 2017, is daar baie wat Gelant nog in die Groen en Goud wil bereik.

Hy besef egter dat daar ook baie druk gaan wees om aan verwagtinge in die Stormers en WP se agterste driehoek te voldoen. Hoe anders as jy die leemte gaan vul wat deur Dillyn Leyds gelaat is?

“Niemand kan vervang wat Dillyn vir die Stormers gedoen het nie. Hy’s ’n goeie vriend en ons het altyd gehoop dat ons eendag saam kan speel. Dis hartseer dat hy weggaan wanneer ek kom,” sê Gelant.

“Al waarvoor ek kan hoop, is om die standaarde wat heelagters soos Gio Aplon, Cheslin Kolbe en Dillyn Leyds gestel het, te handhaaf.

“Dis tog opwindend om te weet dat ek nie dieselfde as hulle kan bring nie, maar met iets anders aan die verwagtinge kan voldoen.”

Iets wat Gelant nie eens sal probeer nadoen nie, is Leyds se “aangee van die eeu” in ’n Superrugby-wedstryd teen die Chiefs op Nuweland in 2017.

“Daai’s ’n Dillyn-speciality. Dis die soort ding wat hom só spesiaal gemaak het,” sê hy.

Maar vir eers gaan die WP en Stormers nog ’n bietjie moet wakker lê oor wat Gelant dalk teen hulle gaan doen. As alles volgens plan verloop word daar van Julie af agter geslote deure gespeel, wat kan beteken dat Gelant die Bulle nog op ’n hoë noot kan groet.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Stormers  |  Warrick Gelant  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.