Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA sterre oorsee moet 25% van lone prysgee

Die salaris-sekerheid van Suid-Afrikaanse spelers wat in Europa speel, is in die gedrang weens die koronavirus wat rugby wêreldwyd tot stilstand geruk het.

Die Engelse klubspan Gloucester, vir wie verskeie SA sterre speel en deur die voormalige Leeus-breier Johan Ackermann afgerig word, het briewe aan hul spelers gestuur om hulle in te lig dat hul salarisse dadelik met 25% gesny word.

Francois Venter
Nizaam Carr

Dit word gedoen om die klub in die “onaktiewe tyd” finansieel te laat oorleef en hulle nie te dwing om weens geldelike verliese hul deure te sluit nie.

Ofskoon geeneen van die Suid-Afrikaanse franchises die salarisse van spelers verklein het weens die opskorting van kompetisies nie, word dit vorentoe nie uitgesluit nie.

Eugene Henning, besturende direkteur van die spelersorganisasie MyPlayers, het gesê dit is nog te vroeg om te weet of daar ’n finansiële impak vir die spelers gaan wees, en indien wel, wat die omvang kan wees.

“As bedryf is ons besig om met mekaar te gesels om te bepaal watter maatreëls ons sal moet oorweeg om gesamentlik enige negatiewe kommersiële impak te absorbeer, indien nodig,” het Henning uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt gesê.

Die webtuiste rugbypass.com berig Bristol, Wasps, Worcester Warriors, Leicester Tigers en Saracens is die ander Engelse klubs wat soos Gloucester reeds amptelik die drastiese stap gedoen het om onder meer hul spelers se salarisse dadelik met 25% te sny.

Franco Mostert
Juan de Jongh
Francois Hougaard

Verskeie bekendes soos Franco Mostert (Gloucester), Francois Hougaard, Francois Venter (albei Worcester Warriors), Juan de Jongh, Ashley Johnson, Nizaam Carr (almal Wasps), Hanro Liebenberg, EW Viljoen, Jaco Taute (almal Leicester) en Vincent Koch (Saracens) speel vir die klubs wat reeds openlik gesê het dat hulle die salarisse van spelers weens die gevolge van die koronavirus-pademie ingekort het.

Nog Europese klubs kan volg.

’n Oorsese speler wat verkies om anoniem te bly, het aan Rapport gesê dit sal geen sin maak vir spelers om oorsee te speel as die salarisse met 25% gesny word nie.

“Hulle kan dan netsowel in Suid-Afrika bly.”

Ons het begrip vir die impak wat die virus het en dat baie mense hul werk kan verloor.
Gert van der Merwe

Rapport verneem daar is selfs Franse klubspanne, onder meer in hul ProD2-liga, wat weens die onsekerheid aanbiedinge aan spelers teruggetrek het.

Die Engelse klubspanne beskou die huidige stand van sake as die ernstigste situasie waarin hulle hulself nog bevind het.

“Dit het as ’n skok vir die spelers gekom,” het Gert van der Merwe, agent van Mostert, gesê.

“Ons is tans in gesprekke met die Engelse spelersvereniging. Ons het begrip vir die impak wat die virus het en dat baie mense hul werk kan verloor.

“Ons oorweeg op die oomblik al ons opsies alhoewel sekere dinge in die lewe onvermydelik is en aanvaar moet word.

“Spelers soos Franco en Vincent Koch verstaan dat die klubs deur moeilike tye gaan en hulle (die klubs) probeer om nie onredelik te wees nie.”

Die koronavirus het egter ’n yslike geldelike impak op rugby.

Weens die wedstryde in die Engelse Premierliga wat vir vyf weke afgelas is, en die verdere moontlikheid wat bestaan dat geen wedstryde tot einde September sal plaasvind nie, sal klubs geen betaling van die Premierliga ontvang nie omdat die beheerliggaam geen inkomste uit televisieregte, kaartjieverkope en borge sal kry nie.

“Van vandag af lyk dit asof die klub geen inkomste vir die volgende ses maande sal ontvang nie,” lui een van die klubs se skrywe aan spelers, wat Rapport onder oë gehad het.

Meer oor:  Myplayers  |  Eugene Henning  |  Koronavirus  |  Gloucester  |  Salarisse  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.