Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat? Sergio Parisse ’n beter nr. 8 as Duane?
Suid-Afrika se beste nommer agt? Duane Vermeulen lyk maar net soos ’n lieftallige beertjie. Foto: Getty Images

Is Duane Vermeulen die beste agtsteman wat die afgelope 46 jaar vir die Springbokke gespeel het?

Twee gesoute Britse rugbyskrywers dink so. Maar hulle dink nie hy is naastenby so goed soos die All Blacks Wayne Shelford, Kieran Read of Zinzan Brooke nie.

Selfs die Italianer Sergio Parisse word hoër aangeslaan as Vermeulen.

Stephen Jones en Stuart Barnes se lys van die wêreld se topagtstemanne het in die naweek se Sunday Times verskyn.

Jones reken Shelford, wat tussen 1986 en 1990 vir Nieu-Seeland gespeel het, is die beste nommer agt nóg.

Wayne Shelford was op sy dag ’n agtsteman om mee rekening te hou. Foto: Getty Images

“Dis moeilik om aan enigiemand anders in enige posisie te dink wat die onblusbare vurigheid, die rugbywysheid en die veggees van die suksesvolste All Black-spanne so verpersoonlik as hy,” skryf Jones oor Shelford.

Barnes raak weer skoon liries oor Read, wat die All Blacks ná Richie McCaw se uittrede aan die einde van die 2015-seisoen tot einde verlede jaar aangevoer het.

“Sy werkverrigting en uitstekende voorgevoel en bestendige spel van hoë gehalte gedurende ’n lang loopbaan maak hom so goed,” sê Barnes.

Die beste agtsteman sedert 1974? Kieran Read besig om die haka te doen. Foto: Getty Images

Dis interessant dat Barnes aan die ander kant nie eens vir Shelford onder sy toptienagtstemanne tel nie. Hy kies vir Vermeulen op nommer 9, terwyl Jones die Suid-Afrikaanse breker op nommer 6 plaas.

Dit wil voorkom asof die twee skrywers hul keuses gemaak het uit spelers wat sedert 1974 gespeel het, want Mervyn Davies haal albei se lysies. Davies was in 1974 een van die Britse en Ierse Leeus se grootste uitblinkers op hul toer deur Suid-Afrika.

Gary Teichmann was self ’n agtsteman duisend! Foto: Getty Images

Plaaslike rugbyondersteuners sal dalk wonder watter tuisgemaakte tabak Jones en Barnes gerook het.

Want regtig, hoor, die Springbokke het sedert 1974 darem maar briljante agtstemanne opgelewer.

Die vier wat dalk dadelik in ’n mens se brein opskiet, is Morné du Plessis, Wynand Claassen, Gary Teichmann en Tiaan Strauss.

Dan was daar ook nog manne soos Bob Skinstad, André Vos, Jannie Breedt en Joe van Niekerk – om enkeles te noem – wat sommige van die manne op die twee Britte se lysie ’n ding of twee sou kon wys.

Dit sal regtig interessant wees om te hoor wie Suid-Afrikaners dink die wêreld en die land se beste agtsteman nog was. Hulle moet dan nes Jones en Barnes net spelers van 1974 af oorweeg.

Stephen Jones se lysie:

1. Wayne Shelford (NS), 2. Sergio Parisse (Italië), 3. Taulupe Faletau (Wallis), 4. Lawrence Dallaglio (Engeland), 5. Mervyn Davies (Wallis), 6. Duane Vermeulen (SA), 7. Kieran Read (NS), 8. Tim Rodber (Engeland), 9. Billy Vunipola (Engeland) 10. Imanol Harinordoquy (Frankryk) en Dan Lyle (VSA).

Stuart Barnes se lysie:

1. Read (NS), 2. Zinzan Brooke (NS), 3. Harinordoquy (Fr), 4. Dallaglio (Eng), 5. Davies (Wal), 6. Parisse (It), 7. Faletau (Wal), 8. Toutai Kefu (Australië), 9. Vermeulen (SA), 10. Dean Richards (Eng).


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.