Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat skort met Ivan se CB-Leeus?
Jordan Hendrikse, losskakel van die Leeus, probeer Vrydag in Johannesburg uit die hande van die Pumas se senter Matt More bly. Foto: Gallo Images

Ná die Leeus se soveelste nederlaag in vanjaar se Curriebeker (CB)-reeks, is die ongemaklike werklikheid dat iets duidelik nie pluis is in die rugbykamp van die Johannesburgers nie.

Die Pumas, een van die kleiner unies in die Suid-Afrikaanse rugbylandskap, het Vrydag die Leeus met 36-33 in die Goudstad geklop. Dít nadat die telling teen rustyd 21-10 in die tuisspan se guns was.

Dinge raak nie makliker vir die Leeus nie. Hulle kom Vrydag teen die Griekwas, wat Saterdag die Haaie geskok het, in Kimberley te staan.

Ivan van Rooyen, afrigter van die Johannesburgers, is op die aanlyn nuuskonferensie ná die nederlaag gevra hoe moeilik dit is om elke Maandag die spreekwoordelike stukke op te tel.

Die Leeus, wat reeds vier keer verloor het, bevind hulle in die voorlaaste plek op die CB-punteleer met 16 punte.

Dit is nie weens ’n tekort aan harde werk of ouens wat nie wil speel nie. Dit is frustrerend – vir ons, die spelers en ook die bestuur.
Ivan van Rooyen

“Ek sal jok as ek sê dit is nie moeilik nie. Dit is nie weens ’n tekort aan harde werk of ouens wat nie wil speel nie. Dit is frustrerend – vir ons, die spelers en ook die bestuur,” sê Van Rooyen.

“Vir ons is dit belangrik om so gou as moontlik oor dit te kom, sodat ons kan voorberei en beter raak. Sodat ons volgende week in Kimberley ’n wegwedstryd kan wen – waaroor ons nie ’n keuse het nie. Ek dink ’n mens kan sien die ouens se selfvertroue is taamlik geknak.”

Hy sê verder daar is ongelukkig ’n paar ouens wat besig is om harde lesse te leer.

“As jy op hierdie vlak te veel foute maak, is dit nie goed genoeg nie, dan gaan jy verloor.”

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, erken dit is moeilik om elke Maandag die stukke op te tel ná nog ’n nederlaag. Foto: Gallo Images

Die vraag is natuurlik wat skort in die Leeus se kamp? Die Johannesburgers het so onlangs soos 2019 in die eindstryd van die Curriebeker-reeks gespeel. In Januarie het hulle naelskraap met 21-26 teen die Bulle in die halfeindstryd van 2020 se CB-reeks in Pretoria verloor.

Daar is talentvolle spelers. Ouens soos Wandisile Simelane, wat heelagter teen die Pumas gespeel het, Jordan Hendrikse (losskakel) en Sibusiso Sangweni (flank) is allermins gemiddeld.

Daarby is dit algemeen bekend dat die Leeus oor ’n uitstekende skrum beskik. Dit is veronderstel om ’n goeie platform te skep om aanvalle van te loods, wat spelers soos Simelane met die bal onder die arm moet laat baljaar.

Die Johannesburgers se spel in die lynstane teen die Laevelders was wel vrotsig, met balbesit wat meer as een keer op die tuisspan se ingooi verloor is.

Van Rooyen het dit beklemtoon dat die spelers “lesse moet leer” en “verantwoordelikheid moet aanvaar”.

Dat daar grondpad op die Leeus wag, is nie altemit nie. Kimberley is nie ’n plek waar jy met ’n tekort aan selfvertroue wil opdaag nie.

• Die Pumas het vandeesweek ’n loslootjie. Jimmy Stonehouse, afrigter van die Laevelders, het Sondag gesê die drie stutte wat op die krukkelys was, Marné Coetzee, Morgan Naudé en Justin Forwood, is almal weer perdfris. Ook die slot Jaco Willemse, wat ook beseer was, kan vir die Pumas se volgende wedstryd, op 11 Augustus teen die Haaie in Mbombela, oorweeg word.

Meer oor:  Ivan Van Rooyen  |  Johannesburg  |  Rugby  |  Pumas  |  Leeus  |  Verloor  |  Afrigter  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.