Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat voer Hansen in die mou?

Gewoonlik smeer afrigters hul teenstanders in ’n toetsweek by uitstek heuning om die mond.

Baie selde skyn hulle ’n lig op ’n moontlike swakplek in hul teenstander se mondering, om sodoende te verhoed dat die teenstander daardie potensiële Achilleshiel voor die wedstryd hanteer.

Beauden Barrett breek deur die Bokke se verdediging tydens vanjaar se All Black-toets in Wellington. Foto: Getty Images

Maar Steve Hansen het Maandag in Tokio ’n heel ander rigting ingeslaan, wat ’n mens laat wonder wat die All Black-afrigter se ware bedoelings was toe hy die Springbokke se verdedigingspatroon as “riskant” gebrandmerk het. Die Bokke se verdedigingspatroon sal vir die All Blacks geleenthede bied in die spanne se Wêreldbeker-wedstryd Saterdag in Jokohama, sê Hansen.

“Hul verdedigingspatroon het baie verander. Hulle rol die dobbelsteen uitermatig,” het Hansen volgens Stuff.co.nz gesê.

“Om die dobbelstene so te rol soos wat hulle doen, moet jy baie fiks wees. So (Rassie Erasmus, Bok-breier) het hulle fiks gekry.”

Hansen verwys na die Bokke se strategie om hul vleuels na binne te laat opskiet wanneer hy na die rol van dobbelstene verwys.

Hy gee Suid-Afrika krediet: “En hulle is goed daarmee; baie, baie goed daarmee.”

Dan weer die slim frasering: “Jy wil hê hulle moet ’n paar ‘ene’ rol, liewer as ’n paar sesse.”

As die Bokke se vleuel-dobbelstene op ’n spreekwoordelike “een” land en die snellers skiet te vroeg, of te laat, op, dan kry Nieu-Seeland sy kans.

“Is daar geleenthede? Ja. As daar een ding is wat ek weet, is dit dat Suid-Afrika vir ons geleenthede gaan gee, omdat hy die dobbelstene rol.

“Is ons goed genoeg om daardie geleenthede te benut? Sal die weerstoestande ons toelaat om die geleenthede te benut? Dit is dinge wat ons sal moet wag om te sien.”

Hansen is waarskynlik reg – ’n verdedigingspatroon wat op opskietverdediging geskoei is, is altyd riskant. Veral as die vleuels van buite na binne opskiet en dus ruimte aan die buitekant ooplos.

Die Bokke se verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, is egter ’n uitgeslape taktikus, nes Erasmus.

Hoewel daar ruimte in die wye kanale oopgelos word, het die Bokke altyd spelers op dekverdediging. Skarrelverdediging is ook by die Bokke ingedril.

Beauden Barrett klop vir Willie le Roux, maar die Bok-flank Kwagga Smith skarrel om te help keer. Foto: Getty Images

Die Bokke benut hierdie verdedigingspatroon boonop al sedert Erasmus verlede jaar in Junie oorgeneem het. Engeland het in die eerste toets in die spanne se reeks verlede jaar dié verdedigingspatroon uitgebuit, maar toe was die Bokke nog nie vertroud met die patroon nie.

Suid-Afrika het hierdie juiste patroon in die laaste drie toetse teen Nieu-Seeland gebruik – in die oorwinning met 36-34 verlede jaar in Wellington, in die nederlaag met 30-32 in Pretoria en in die gelykopuitslag van 16-elk vanjaar in Wellington.

Die drieëtotaal in dié drie toetse gesamentlik is 11 vir die All Blacks en nege vir die Bokke.

Is dit dus die enigste voordeel wat die All Blacks in die laaste drie toetse uit dié “riskante verdedigingspatroon” van die Bokke kon buit?

Suid-Afrika is boonop nou meer vertroud as ooit met dié patroon. Die vleuels weet nou beter wat om te doen as in die laaste drie toetse teen Nieu-Seeland.

Hansen glo om die Bokke te klop, verg onder meer geduld, ’n goeie skopplan en die regte ingesteldheid. Hy sou beslis planne beraam het om Suid-Afrika se lakplanne te fnuik, maar net so sal Erasmus en Nienaber planne van hul eie hê om seker te maak die kodes is moeilik om te ontsyfer.

Miskien wyk Hansen af van die norm in sy mediakonferensie omdat hy juis bekommerd is oor die Bokke se verdediging. Dalk wil hy hê Erasmus moet gaan torring waar dit nie nodig is nie.

Of dalk is dit ’n rookskerm en beplan Nieu-Seeland om met ’n hengse direkte aanslag met sy voorspelers te kom, liewer as om wyd aan te val. Dit blyk immers asof die nat weer wat voorspel word, só ’n patroon sal bevoordeel.

Hansen is geen gek nie en sy woorde sal beslis ’n doel dien. Maar dit blyk of Erasmus en kie die verdedigende kampioen gewis so ietwat bekommerd het.

Bykomende bron: Stuff.co.nz

Meer oor:  Bokke  |  Steve Hansen  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.