Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB-hartseer wag op een van Bokke se bielie-slotte

Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, kan met die samestelling van sy Springbokgroep vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Japan verras deur net drie slotte in sy groep van 31 spelers in te sluit.

Eben Etzebeth
Lood de Jager
RG Snyman
Franco Mostert

Vanweë Pieter-Steph du Toit se veelsydigheid oorweeg die Bok-breier om net drie slotte pleks van die gebruiklike vier in sy finale groep te kies. Minder slotte sal Erasmus dus groter beweegruimte gee om ander posisies aan te vul.

Met die Bokke wat dit nogal breed aan slot-talent het, kan die aankondiging van die Wêreldbeker-groep vir ’n paar van die land se top-slotte ’n hartseer­oomblik wees, want dit kan beteken dat selfs een van Eben Etzebeth, Lood de Jager, RG Snyman of Franco Mostert die Wêreldbeker sal mis. Du Toit speel as slot hoofsaaklik op 5, wat Mostert en De Jager eerder in die spervuur plaas.

Spelpeil in Superrugby kan bepaal wie van Etzebeth-hulle saamry of bly. Bogenoemde vier spelers en Du Toit (hy speel deesdae hoofsaaklik sewe-flank) staan gemeet aan 2018 se Bok-23-talle voor in die tou op slot.

Slotte soos Marvin Orie, JD Schickerling, Jason Jenkins, Ruan Botha en Salmaan Moerat sal slegs in die geval van beserings in die prentjie kom.

Daar wag egter nie net op ’n slot ’n Wêreldbeker-teleurstelling nie.

Soos in 2015 toe spelers soos Heinrich Brüssow, Cobus Reinach, Vincent Koch en Marcel van der Merwe die ongelukkiges was om tuis te bly, wag daar dalk ook hartverskeurende nuus op ’n top-senter.

Erasmus kan dit in sy kop kry om net drie senters te kies, wat waarskynlik in dié stadium Damian de Allende, Jesse Kriel en Lukhanyo Am sal wees.

Tensy ’n speler soos André Esterhuizen hom uit sy skoene speel vir die Haaie in die Superreeks, sal Erasmus eerder in die rigting kyk van veelsydige spelers soos Damian Willemse en Frans Steyn in die geval van beserings tydens die Wêreldbeker.

Selfs op skrumskakel kan daar trane van teleurstelling rol.

In ’n interessante verwikkeling kan die Bokke, soos Eddie Jones met Engeland beplan, met net twee skrumskakels na die Wêreldbeker reis.

Dit is egter baie ongewoon om nie met drie skrumskakels te reis nie.

Volgens die WB-reëls het spanne tot twee dae voor ’n toets die reg om ’n beseerde speler in die groep te vervang. Die waagstuk is as een van die skrumskakels in die 48 uur voor die begin van die toets beseer raak. In so ’n geval mag die speler nie vervang word nie. Dit is daarom onwaarskynlik dat die Bokke op net twee skrumskakels sal besluit.

  • Erasmus het die week bevestig dat die Bokke hul Wêreldbeker-oefenkamp in Bloemfontein sal hou. Die datums moet nog aangekondig word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.