Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘WB in Rusland kan kanse vir SA spelers skep’
Enisei-STM se Suid-Afrikaanse verbintenis: Rynhard van As, Carel du Preez, Friedle Olivier, Earl Douwrie en Nic Oosthuizen ná die Russiese Beker-eindstryd. Foto: Verskaf

Rusland is nie ’n slegte opsie om as gasheer vir die Wêreldrugbytoernooi op te tree nie, sê Rynhard van As.

Van As, ’n voormalige hoofafrigter van die SWD-Arende, is die hulpafrigter van Enisei-STM, wat die afgelope Vrydag die Russiese Beker-reeks gewen het.

Eintlik, sê Van As, kan dit ook beteken dat meer Suid-Afrikaners speelkans in ’n WB-toernooi kan kry indien die toernooi wel in Rusland aangebied word.

Rusland het aangedui dat hy daarin belangstel om die WB-toernooi in 2027 of 2031 aan te bied.

“Al hoe meer Suid-Afrikaners speel in Rusland rugby en van hulle kan kwalifiseer om vir die volgende WB-toernooi vir Rusland te speel. ’n Speler moet vyf jaar in Rusland speel om vir die nasionale span te kwalifiseer,” sê Van As.

Rynhard van As, tevrede hulpafrigter van Enisei-STM ná die Russiese Beker-eindstryd. Foto: Verskaf

Volgens Van As spog Rusland, wat sokker se WB-toernooi in 2018 met groot sukses aangebied het, met van die beste stadions in die wêreld.

“Die land se vervoerstelsel en infrastruktuur is uitstekend en die misdaad is min,” sê Van As.

Van As glo ook dat die Russiese regering en nasionale rugbyunie voortaan al hoe meer geld in rugby sal stort met die oog op die aanbieding van die WB-toernooi.

“Rusland het ook na vore getree as ’n goeie opsie vir Suid-Afrikaanse spelers met die uitbreek van die Covid-19-pandemie. As ’n mens kyk wat in ons land aangaan, met unies en klubs wat gelikwideer word en finansieel sukkel en party wat glad nie eens vanjaar rugby speel nie, dan is daar baie vir ons manne in Rusland om voor dankbaar te wees,” sê Van As.

Hy is tans, ná nege maande, terug in Suid-Afrika en geniet ’n blaaskans tot Februarie volgende jaar wanneer hy terugkeer na Krasnojarsk.

Enisei-STM speel in Maart in die kwarteindronde van die Russiese ligareeks teen Strela, wat deur die voormalige Blou Bul JP Nel afgerig word.

Van As sê die Russiese Beker-eindstryd teen Krasni Jar was maar ’n “taai storie”.

Enisei-STM vier fees ná die Russiese Beker-eindstryd. Foto: Verskaf

Enisei-STM het met 19-11 gewen met Carel du Preez (agtsteman) en Earl Douwrie (regtervleuel) wat vir die wenspan goeie spel gelewer het.

Friedle Olivier (losvoorspeler) en Nic Oosthuizen (stut) het as plaasvervangers ook ’n goeie impak gemaak.

Oliver Zono, wat voorheen vir die Southern Kings gespeel het, het vir Krasni Jar heelagter gespeel.

“Dit was ’n tipiese eindstryd, met albei spanne wat probeer het om so min foute moontlik te maak en wat verbete verdedig het,” sê Van As.

Hy was baie tevrede met die taktiese en stelskopwerk van sy span se losskakel, Ramil Gaisin, saam met wie hy baie ure op die oefenveld deurgebring het.

“In die laaste drie wedstryde het hy nie ’n skop pale toe gemis nie,” sê Van As.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.