Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB in SA ‘nie eens op Saru se radar’

Die kanse is ontsettend skraal dat Suid-Afrika sal bie om die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2027 of 2031 aan te bied, want die land kan dit nie meer bekostig nie.

Wêreldrugby het vandeesweek die bodproses vir die volgende twee Wêreldbekertoernooie aangekondig. Die gasheerlande sal albei in Mei 2022 aangekondig word.

Volgens Rapport se bronne maak dit nie sin om nou weer te bie nie nadat Suid-Afrika se bod vir die 2023-skouspel onsuksesvol was.

Ons enigste mikpunt nou is om deur die pandemie te kom. As ons nie deur vanjaar kom nie, is daar geen toekoms vir SA Rugby nie.

“Die regering sal nie tans die waarborg van R2 miljard, wat laas deur Wêreldrugby vereis is, kan verseker nie. Nie nou met die stand van die ekonomie nie, en veral nie met hoe die ekonomie gaan lyk ná die Covid-19-pandemie nie,” het een ingeligte gister aan Rapport gesê.

’n Hooggeplaaste amptenaar het ook aan Rapport gesê die kwessie is tans nie eens op die agenda is nie.

Hoewel die aansoekproses wat die week aangekondig is, vier maande gelede op ’n Wêreldrugby-forum goedgekeur is, het SA Rugby se uitvoerende komitee die saak nooit bespreek nie.

“Ons enigste mikpunt nou is om deur die pandemie te kom. As ons nie deur vanjaar kom nie, is daar geen toekoms vir SA Rugby nie,” is aan Rapport gesê.

Vir die finansiële volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse rugby is dit noodsaaklik dat daar vanjaar weer rugby gespeel word.

“Ons moet eers seker maak die rugbybedryf is veilig ná die pandemie, en dan is ons volgende mikpunt om te verseker daar is ’n suksesvolle Britse en Ierse Leeus-toer. Die Wêreldbeker is nie eens op ons radar nie.”

Met SA Rugby wat vanjaar noodgedwonge salarisverminderinge moes instel om die sport se finansies te red, maak dit waarskynlik nie saak of daar ’n begeerte is om vir ’n WB-toernooi te bie nie. Die spaarvark is in elk geval te dun.

Die regering sal nie tans die waarborg van R2 miljard, wat laas deur Wêreldrugby vereis is, kan verseker nie.

Die wysheid daarvan om miljoene rande te bestee aan ’n bodproses (waarvan die uitslag van politieke steun kan afhang), word ook betwyfel.

Australië is die voorloper om die Wêreldbekertoernooi in 2027 aan te bied. Rusland het ook reeds aangedui dat hy vir dié toernooi wil bie en dat hy die steun van sy president, Wladimir Poetin, het daarvoor.

Argentinië stel ook belang om ’n bod in te dien.

Engeland het die week te kenne gegee dat hy ’n bod vir die 2031-toernooi oorweeg. Hul bod sal uit ’n finansiële oogpunt moeilik geklop word.

In Suid-Afrika is daar steeds ongelukkigheid oor die toekenningsproses vir die 2023-toernooi. ’n Tegniese komitee het Suid-Afrika as die gasheer aanbeveel, maar die stemproses onder lidlande het gesorg dat Frankryk naelskraaps wen.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Bod  |  Wêreldbeker-Rugbytoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.