Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB-toernooi: Jaco Peyper bly droom

Sy bereidwilligheid om tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi saam met Walliese ondersteuners vir ’n foto te poseer, het hom by sy “base” in die sop laat beland. Soveel so dat hy summier as skeidsregter van die lys verwyder is om in die halfeindstryde of eindstryd te blaas.

Jaco Peyper sê dit was vir hom ’n duur les. Hoe duur, kom jy agter as hy sê dat hy versigtig moet wees om nie iets omstrede daaroor te sê nie, want net perdalks beland hy weer in die moeilikheid.

Jaco Peyper by 2019 se Wêreldbeker. Foto: Wêreldrugby

Maar die begeerte om in dié stryde te blaas, bly ’n groot geelwortel, so hy mik na 2023 se toernooi in Frankryk.

Peyper, wat nou die blaser geword het met die meeste Superrugby-wedstryde agter sy naam, was aangestel om verlede jaar se WB-halfeind tussen Engeland en Nieu-Seeland te hanteer, maar ’n foto wat op sosiale media verskyn het, het hom daarvan weerhou.

Nadat die foto onder Wêreldrugby se aandag gekom het, is Peyper met Nigel Owens vervang. Peyper moes tevrede wees as assistent-skeidsregter vir die bronsmedaljewedstryd tussen Nieu-Seeland en Wallis.

Op die foto staan Peyper saam met Walliese ondersteuners in wat lyk na ’n posering van die oortreding wat gelei het tot die rooikaart waarmee hy die Fransman Sébastien Vahaamahina in die kwarteindstryd teen Wallis gestraf het.

“Ja, dit was teleurstellend,” erken Peyper. “Ek is versigtig om nie iets omstrede oor die voorval te sê nie. Die groot teleurstelling was dat daar nie baie konteks rondom dit (die foto) was nie. So moet ’n ou leer. Ek het baie daaruit geleer. Baie ander mense ook. Almal is beter voorbereid om so iets volgende keer beter te hanteer.” 

Wallis
Dís hoe Sébastien Vahaamahina vir hom ’n rooikaart op die hals gehaal het, spot Jaco Peyper en Walliese ondersteuners. Foto: Argief

Peyper se mond was destyds gesnoer. SA Rugby se skeidsregtervereniging het darem vir hom in die bres getree met ’n verklaring.

“In effek het dit beteken hy was geskors. Peyper se betrokkenheid in die foto kan beswaarlik as vuilspel kwalifiseer. Dis hoogs onwaarskynlik dat hy op die foto sou poseer met die bedoeling dat dit gepubliseer word vir die wêreld om te sien.

“Dit het bloot na ’n bietjie pret gelyk en die meeste mense sou bly gewees het om ’n skeidsregter te sien wat soos ’n normale mens optree,” het die vereniging toe in ’n verklaring gesê.

Die 39-jarige Bloemfonteiner sê as SA Rugby teen 2023 dink hy is nog goed genoeg en “hy maak niemand kwaad nie”, hoop hy om weer by rugby se skouspel aan te tree. “Ons werk in daai rigting. Die neiging is om in vierjaar-siklusse met skeidsregters te werk.”

Al raak dit taai op die veld, is dit altyd lekker om ná die wedstryd met die spelers te meng en daar is baie respek.

Hy het in die laaste naweek van Superrugby, voordat die reeks weens die koronavirus vir tyd en wyl gestaak is, Steve Welsh se rekord vir die meeste wedstryde in die kompetisie na 111 verbeter.

“Dis net ’n getal, maar ’n ou is trots daarop, trots op jou duursaamheid en bestendigheid. Jonathan Kaplan (wat hy in die tweede ronde van Superrugby verbygesteek het as die SA blaser met die meeste verskynings) was eerste om ’n boodskap te stuur. Ook Craig Joubert het gebel met gelukwensings. 

“Ons is nog goeie vriende en het jare saam sakke sout geëet.

“Maar ’n mens moet jou nie blind staar teen die feit dat daar in die destydse Super12 net 11 rondes voor die uitspeelwedstryde was teenoor die 16 van deesdae nie.

“Ek kan vir jou sê van elkeen van daai 111 kan ek iets onthou. Daar is ’n paar wat uitstaan, soos 2015 se eindstryd (tussen die Highlanders en die Hurri­canes) wat baie spesiaal was vanweë die rugby wat gespeel is. 

Die voorval waarvoor die Fransman Sébastien Vahaamahina met 'n rooikaart gestraf is. Foto: Detty Images

“Niemand het ná die wedstryd oor my geworrie nie, wat altyd lekker is, maar nie altyd moontlik is nie, want ’n man moet jou werk doen.”

Só moes Peyper twee jaar later weer in die eindstryd “sy werk doen” en ’n rooikaart aan Kwagga Smith toon. Smith is in die eerste helfte van die wedstryd tussen die Leeus en Crusaders vir ’n gevaarlike duikslag afgestuur. 

Die Leeus het met 14 man heldhaftig probeer, maar die onderspit voor 62 000 toeskouers – wat ’n rekordskare in die reeks is – gedelf.

“Dis uit die aard van die saak nie lekker om iemand met ’n rooikaart van die veld te stuur nie, maar die reëls is die reëls en as ek nie my werk gedoen het nie, het ek reaksie gekry.”

In 2019 was hy nogmaals die man in die middel vir sy derde eindstryd. Voeg daarby ’n rapsie meer as 50 toetse, vier Curriebeker-eindstryde en ’n toets tussen die All Blacks en Britse Leeus in 2017. 

“Daar is niks soos ’n Suid-Afrikaanse derby nie. Daar is altyd ’n bietjie ekstra daarin en jy moet goed voorbereid wees. Al raak dit taai op die veld, is dit altyd lekker om ná die wedstryd met die spelers te meng en daar is baie respek.”

Vir nou is sy fluitjie stil, want met die koronavirus-inperking is hy terug by die huis.

“Dis belangrik dat ons steeds so fiks as moontlik probeer bly en die tyd positief gebruik. Ons weet nie wanneer wedstryde weer hervat word nie, maar wanneer ons terugkom in die ding, moet ons gereed wees. Jy het nou weer tyd om aandag aan die tegniese goed te gee.”

Al is hy sowat 150 tot 180 dae van die jaar van die huis af weg, sê hy die genot van rugby oortref die ongerief van reis.

“Daar kom ’n punt waar die pak van tasse te veel word. As rugby jou passie is, pak jy maar die tasse en jy gaan. Bygesê, as die ondersteuning nog daar is.

“My gesin (hy en sy vrou het twee dogtertjies) het al baie lekker saam met my getoer. Hulle is baie ondersteunend en my vrou (Zenobia) vat baie van die houe met die verantwoordelikhede met die kinders. Ek is ook dankbaar vir SA Rugby se volgehoue ondersteuning.”

Peyper, ‘n regsgeleerde, doen tussendeur sy skeidsregterloopbaan ook konsultasiewerk vir Peyper Prokureurs (waar sy ouer broer, Hannes, betrokke is), bestuur die koffiewinkel Café Cura in Bloemfontein, is betrokke in ‘n spysenieringbesigheid.

Meer oor:  Skeidsregter  |  Blaser  |  Wêreldbekerrugby  |  Jaco Peyper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.