Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB-kans ‘geelwortel’ vir Jonker

Die moontlikheid om in ’n Wêreldbeker-toernooi te speel, is ’n groot motivering.

Die Warriors-mokerman Christiaan Jonker, die enigste nuweling in die Proteas se eendaggroep. Foto: Gallo Images

Só sê Christiaan Jonker, die enigste nuweling in die Proteas se eendag-krieketgroep vir die komende reeks teen Zimbabwe, wat Vrydag aangewys is.

’n Paar gevestigde spelers kry in die bedrywige Wêreldbeker-seisoen ruskans, wat die keurders ook ’n kans gee om na ’n paar ander opsies te kyk.

Die Proteas se afrigter, Ottis Gibson, het op die toer in Sri Lanka gesê hy sal Jonker, wat reeds ’n T20-wedstryd vir Suid-Afrika gespeel het, iewers weer in aksie wil sien.

Hy gaan nou sy kans in ’n eendagwedstryd teen Zimbabwe kry.

Dié buurland se toer begin op 30 September in Kimberley, met die eerste van drie kitswedstryde. Daarna volg nog drie T20-wedstryde.

Jonker (31) sê ofskoon moontlike deelname aan die WB-toernooi ’n geelwortel is, wil hy ook nie te ver vooruit kyk nie. Hy wil vir eers kyk of hy hom nie in die span kan vestig nie. Die volgende eendagreeks is hoeka teen Australië, wat ook ’n aansporing is.

Rassie van der Dussen maak skouers oop in die Karibiese Premierliga. Sy goeie vertonings daar het hom ’n plek in die Proteas se T20-groep besorg. Foto: Getty Images

“Dis lekker om weer in die groep te wees. Ek wil nou in elke kans wat ek kry net my beste doen en glo as ek bestendig bly, dit tot nog kanse sal lei.”

Die keurderbaas, Linda Zondi, sê hulle sal graag wil sien of die kolwer ook die wa deur die drif in eendagkrieket kan kry.

“Hy het ’n uitstekende T20-debuut teen Indië gehad (49, 24 balle) en ons wil nou sien of hy dit in die langer weergawe kan voortsit.

Khaya Zondo is ook weer in die eendaggroep ná goeie kolfvertonings vir Suid-Afrika A in Indië.

Die kaptein, Faf du Plessis, is in albei groepe ingesluit, maar sy deelname is onderhewig aan ’n fiksheidstoets.

Du Plessis het verlede maand in die derde eendagwedstryd teen Sri Lanka sy skouer beseer toe hy met veldwerk sleg geval het.

Dale Steyn, wat nie in die eendagreeks teen Sri Lanka in aksie was nie en Imran Tahir, wat ’n ruskans gekry het met die toer na Sri Lanka, is ook terug in die eendaggroep.

Gihahn Cloete van die Warriors gaan ook eersdaags sy debuut vir die Proteas se T20-span maak. Foto: Gallo Images

Quinton de Kock en David Miller kry ’n blaaskans in die eendagreeks. Hulle sal terug wees vir die T20-reeks waarin Kagiso Rabada weer op sy beurt ’n ruskans sal geniet.

Die Lions se Rassie van der Dussen en Warriors se Gihahn Cloete is die nuwelinge in die T20-groep.

Van der Dussen het in die Karibiese Premierliga beïndruk in die paar wedstryde wat hy vir die St. Kitts & Nevis Patriots gespeel het.

Die tiener Matthew Breetzke, ’n belowende aanvangskolwer van die Suid-Afrikaanse o.19-span, is genooi om ’n voorsmaak van die Proteas se kleedkamer te kry.

Eendaggroep: Faf du Plessis (k), Hashim Amla, JP Duminy, Reeza Hendricks, Imran Tahir, Christiaan Jonker, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Dale Steyn, Khaya Zondo.

T20-groep: Faf du Plessis (k), Gihahn Cloete, Junior Dala, Quinton de Kock, JP Duminy, Rob Frylinck, Imran Tahir, Christiaan Jonker, Heinrich Klaasen, David Miller, Lungi Ngidi, Dane Paterson, Andile Phehlukwayo, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen.

Meer oor:  T20  |  Christiaan Jonker  |  Rassie Van Der Dussen  |  Zimbabwe  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.