Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB-loting: ‘Rose, Wallabies glimlag breed’

Die wêreldmedia is dit eens dat Engeland en Australië se rugbyspanne die grootste wenners was toe die Wêreldbeker-loting vir 2023 se toernooi in Frankryk Maandag in Parys gemaak is.

Bill Beaumont, die voorsitter van Wêreldrugby, het Maandag ’n video-boodskap gelewer op die Wêreldbeker-loting vir die 2023-toernooi in Frankryk. Foto: Reuters

The Telegraph in Brittanje skryf dat die loting ’n gunstige een vir Engeland was, terwyl die Springbokke “waarskynlik die moeilikste gaan wees”.

Engeland is saam met Japan en Argentinië geloot. Japan is weliswaar onvoorspelbaar en het in die afgelope twee WB-toernooie met Suid-Afrika (2015), Ierland én Skotland (albei 2019) afgereken, maar Jones het dié span lank afgerig en sal nie onkant betrap word nie.

Argentinië het op sy beurt onlangs met die All Blacks afgereken en kan ook probleme veroorsaak, maar Engeland het in 2019 maklik met die Poemas afgereken en het ’n goeie rekord teen die Suid-Amerikaners.

The Sydney Morning Herald glo nes Engeland het die Wallabies dit ook goed getref met die loting. Die sterkste spanne saam met die Aussies in Groep C is Wallis en Fidji.

Die Walliesers is nie ’n skadu van die span wat die WB-halfeindronde in Japan gehaal het nie, terwyl Australië in die twee vorige WB-toernooie met Fidji afgereken het in die groepfase.

Louise Ekland, die seremoniemeester by die Wêreldbeker-loting in Parys. Foto: Reuters

Die koerant wys egter daarop dat indien die Wallabies een van sy groepwedstryde verloor, ’n kwarteindstryd teen Engeland weer, soos in 2019, sy voorland kan wees. Die Rose het in Japan die Wallabies se toernooi kortgeknip.

Dave Rennie, die Wallabies se afrigter, sê niks in sy groep is ’n gegewe nie en het daarop gewys dat Fidji, onder die afrigting van die ervare Vern Cotter, oor drie jaar groot gevaar gaan inhou.

Die Ierse media berig dat Ierland sy lippe sal aflek vir die kans om die Springbokke in die WB-groepfase te pak.

Die Ierse legende Brian O'Driscoll het aan RTE gesê jy moet die wêreld se beste spanne klop om die toernooi te kan wen en dat die Iere sommer vroeg al voor só ’n toets te staan kom wanneer hulle die wêreldkampioen pak.

Andy Farrell, Ierland se afrigter, sê sy beplanning vir 2023 sal ’n bietjie anders wees nou dat hy weet die Springbokke wag op hulle in die groepfase.

“Die ander spanne in ons groep gaan min of meer dieselfde wees as verlede jaar, maar die feit dat ons nou teen die Springbokke gaan speel, eerder as Japan, gaan my anders moet laat dink oor wat die volgende treë op ons reis moet wees,” het Farrell aan die Ierse media gesê.

Gregor Townsend, afrigter van Skotland, het volgens The Scotsman gesê die uitgebreide Pro16-reeks, waarin die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers van volgende jaar af gaan speel, sal Skotse spelers help om vinniger te ontwikkel en sy span meer mededingend in 2023 te wees, wanneer hy met Ierland of die Springbokke sal moet afreken om die uitkloprondes te haal.

Wêreldrugby het ook in verskeie berigte wêreldwyd deurgeloop omdat hy drie jaar voor die toernooi al die loting gedoen het, eerder as om nader aan die toernooi die wêreldranglys te gebruik om spanne vir die toernooi te keur.

Wallis, was byvoorbeeld vierde gekeur danksy sy vertoning in Japan verlede jaar, maar het vanjaar erg gesukkel en is slegs negende op die ranglys. Die Wallabies is ook net sesde op die ranglys, wat beteken dat daar volgens die huidige ranglys nie ’n topvier-span in Groep C is nie en dus ’n groter konsentrasie van sterk spanne in die ander groepe, wat die kompetisie skeeftrek.

Bykomende bron: New Zealand Herald

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.