Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB: Marcell sê tyd sal sy wonde genees

Hy het uit terugslae in die verlede geleer hoe om teleurstellings te verwerk en daarom bevind hy hom nie op moedverloor se vlakte nie.

Só sê die Springbok-losvoorspeler Marcell Coetzee, wat Woensdag ’n enkeloperasie moet ondergaan.

Einde van die pad. Marcell Coetzee verlaat die veld Saterdag in die toets teen Argentinië in Pretoria. Die teleurstelling is duidelik sigbaar op sy gesig. Foto: Gallo Images

Coetzee (28), wat 30 toetse op sy kerfstok het, het sy enkel die afgelope naweek in ’n WB-opwarmingswedstryd in Pretoria teen Argentinië beseer. Hy het die nr. 8-trui in dié toets gedra, maar moes die veld vroeg verlaat nadat hy ook ’n hou teen die kop gekry het.

Hy het die afgelope Pro14-seisoen uitmuntende rugby vir Ulster gespeel – nadat hy van ’n ernstige kniebesering herstel het – en sy goeie peil het hom plek in die Bok-oefengroep besorg.

Die toets op Loftus was ’n gulde geleentheid vir hom om Rassie Erasmus, Bok-afrigter, daarvan te oortuig dat hy in die finale groep van 31 spelers hoort vir die skouspel in Japan.

“Die grootste uitdaging is om die realiteit te aanvaar dat dit nou is wat dit is en om moed bymekaar te skraap om weer op die perd te klim.

“Maar deur gebeure in my verlede het ek geleer dat daar altyd iets goed uit ’n slegte situasie kom en deur hierdie een weet ek God het ’n groter plan vir my,” sê Coetzee.

Hy het sy toetsbuiging in 2012 op 21-jarige ouderdom vir die Bokke gemaak en voor hy in Julie as plaasvervanger teen die Wallabies opgestuur is in die Rugbykampioenskapstoets op Ellispark, was sy laaste toets op 8 Augustus 2015 teen die Poemas. Hy het in daardie wedstryd ’n ernstige kniebesering opgedoen, wat hom toe ook uit die WB-toernooi in Engeland gehou het.

“Ja, dit (sy jongste besering) sal vir enige persoon baie teleurstellend wees, maar dit is een van daardie dinge in die lewe waaroor jy geen beheer het nie. Maar, soos alles, sal tyd die wonde genees.”

Die grootste uitdaging is om die realiteit te aanvaar dat dit nou is wat dit is en om moed bymekaar te skraap om weer op die perd te klim.
Marcell Coetzee

Die Bok-groep is in Bloemfontein op ’n laaste oefenkamp voor die WB-groep Maandag bekend gemaak word.

Coetzee sê dit was vir hom hartseer toe hy besef hy gaan nóg ’n WB-toernooi weens ’n besering misloop.

“Ek het ’n goeie tyd saam die Bokke gehad en dit het gevoel of ek naby daaraan was om deel te wees van ’n Wêreldbeker-toernooi.

“Maar soos ek sê, dit was heeltemal buite my beheer en al wat ek nou kan beheer, is my houding vorentoe,” sê Coetzee.

Lucas Mensa, binnesenter van Argentinië, probeer Marcell Coetzee stuit in Saterdag se toets in Pretoria. Foto: Gallo Images

Hy sê gelukkig was sy vrou, Chanelle, saam met hom toe hy die slegte nuus ontvang en sy kon hom troos.

Met die volgende Wêreldbeker-toernooi (in Frankryk) sal Coetzee 32 jaar oud wees en dit sal nie wensdenkery wees om hom daar te sien nie, maar hy bly realisties oor sy kanse.

“Dit gaan baie moeiliker wees, maar niks is onmoontlik nie. Dit is hoekom ek my houding nou moet regkry, want daar is nog baie om te bereik. Gelukkig het ek my geloof, my vrou en familie wat my sal ondersteun.”

En die Bokke se kanse in Japan?

“Ek kan uit ervaring sê dat die Bokke op ’n goeie plek is en dat hulle ’n sterk leierskap en ’n goeie afrigtingspan het.

“Dit is ’n baie goeie groep spelers met diepte en hulle het selfvertroue. Dit is wat jy benodig in die opbou tot ’n Wêreldbeker-toernooi.”

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby  |  Marcell Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.