Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB: Rassie kies tussen Warrick, Kwagga, Elstadt

Een van Warrick Gelant, Kwagga Smith of Rynhardt Elstadt gaan waarskynlik die ongelukkige speler wees wat uit Rassie Erasmus se Wêreldbeker-groep gelaat word.

Erasmus het Maandag sy oefengroep by die kamp in Bloemfontein van 36 spelers tot 32 verminder deur vir Thomas du Toit, Lizo Gqoboka, Marvin Orie en André Esterhuizen vir Curriebeker-diens vry te stel.

Warrick Gelant vang ’n bal in die Bokke se wedstryd teen Argentinië Saterdag op Loftus. Foto: AP

Hy kondig Maandag sy WB-groep van 31 spelers aan, wat beteken een speler wat tans in die Rosestad saamoefen, sal met Jan Tuisbly se karretjie ry.

Gegewe alles wat Erasmus reeds gesê het – soos dat hy drie skrumskakels en drie hakers, al vier sy voorkeurslotte, sy twee losskakels en twee buitesenters gaan saamvat – kan ’n mens se rugbysomme slegs op een antwoord uitloop: Erasmus moet kies tussen Gelant, Smith en Elstadt.

’n Mens se eerste reaksie is natuurlik dat Gelant soos ’n seer vinger onder dié drietal uitstaan, aangesien hy ’n heelagter is en die ander twee losvoorspelers.

As Erasmus besluit om Gelant saam te neem en een van die ander twee agter te laat, sal die Bokke met 17 voorspelers en 14 agterspelers reis.

Dit is egter nie onmoontlik dat Gelant agterbly, Smith én Elstadt na Japan gaan en die Bokke dus 18 voorspelers en 13 agterspelers kies nie.

Hoewel dít na ’n waagstuk mag lyk, het die Bokke eintlik goeie dekking in elke agterlynposisie, sou Gelant uitgelaat word.

Die drie skrumskakels is Faf de Klerk, Herschel Jantjies en Cobus Reinach. Die losskakels is Handré Pollard en Elton Jantjies.

Die senters is Frans Steyn, Damian de Allende, Lukhanyo Am en Jesse Kriel.

Die buiteagterspelers is dan Cheslin Kolbe, Sbu Nkosi, Makazole Mapimpi en Willie le Roux.

’n Mens kan aanvaar dat Le Roux die voorkeur-heelagter gaan wees. Maar in ’n noodgeval is daar drie spelers – Kolbe, Kriel en Steyn – wat met gemak in dié posisie sal kan uithelp.

Rynhardt Elstadt kan een van die losvoorspelers in Rassie Erasmus se Wêreldbeker-groep wees. Foto: Gallo Images
Kwagga Smith sal hoop Rassie Erasmus soek ’n bykomende “X-faktor-losvoorspeler” in sy groep. Foto: Deaan Vivier

Kriel kan ook vleuel speel, wat ’n groot kopseer kan oplos, sou iemand seerkry.

Aphiwe Dyantyi is uiters ongelukkig dat hy ’n besering opgedoen het, want hy sou waarskynlik Erasmus se eerste keuse op linkervleuel gewees het.

Die Bokke het steeds genoeg dekking op die punte om dit te waag om Gelant tuis te laat.

Maar hoe gemaak as Erasmus voel Gelant moet wél saam?

Dan moet hy kies tussen Smith en Elstadt.

Die voorkeur-lostrio sal uit Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit en Duane Vermeulen bestaan. Francois Louw sal saamreis en het homself reeds as ’n uiters waardevolle plaasvervanger bewys.

Smith het Erasmus vanjaar in die Superrugby-reeks klaarblyklik mateloos beïndruk, want hy was die breier se voorkeur-oopkantflank in Kolisi se afwesigheid. Hy het in die belangrike wedstryde teen die All Blacks en Argentinië weg gespeel.

Elstadt is half uit die bloute van Toulouse af ingeroep en het sy buiging vir die “B”-span teen Australië gemaak. Hy word waarskynlik gesien as nog ’n Pieter-Steph du Toit – iemand wat slot of steelkantflank kan speel en dit met groot aggressie doen.

Erasmus sal moet besluit of hy ’n X-faktor-losvoorspeler soos Smith wil vat, of ’n beenbreker soos Elstadt.

Of dalk voel hy dis wys om albei te vat en sodoende goeie dekking vir sy losvoorspelers te bied.

Bloemfontein kan dus vir eers die laaste sien van sy Bok-maats vir Gelant wees.

Die Bok-groep van 32: Buiteagterspelers: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Sbu Nkosi, Makazole Mapimpi, Warrick Gelant. Senters: Lukhanyo Am, Jesse Kriel, Damian de Allende, Frans Steyn. Losskakels: Handré Pollard, Elton Jantjies. Skrumskakels: Faf de Klerk, Herschel Jantjies, Cobus Reinach.Losvoorspelers: Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Francois Louw, Kwagga Smith, Rynhardt Elstadt. Slotte: Eben Etzebeth, Franco Mostert, RG Snyman, Lood de Jager. Stutte: Beast Mtawarira, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Trevor Nyakane, Vincent Koch. Hakers: Bongi Mbonambi, Malcolm Marx, Schalk Brits.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.