SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Tinus van Staden gesels met Squidge
Wêreldbeker se breker-bleeksiel

Hy is nie so sterk soos ’n Springbok-voorspeler nie, maar met sy humorsin en rugbyintellek het die YouTube-ontleder Squidge die aanlyn rugbypubliek by die Wêreldbeker (WB)-toernooi net so hard getref soos dáái Bok-rolmaal vir Engeland in die eindstryd.

Robbie Owen (24) is versot op rugby. Of liewer: “Ek is obsessief oor rugby sedert 2009 se Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika,” vertel Owen uit sy tuisdorp Derby in Engeland.

SA teen Eng in eindstryd.
SA teen Eng in eindstryd.

Sedert 2018 lê hy die duistere kunste van internasionale rugbyspanne se wedstrydplanne vir aanhangers op You­Tube uit. Sy halfuurlange ontleding van die WB-eindstryd is al bykans ’n halfmiljoen keer gekyk.

Hy wys hoe die Bokke hul middelveld-rolmaal opstel, hoe Pieter-Steph du Toit die Engelse losskakel George Ford vir vyf fases soos ’n skuldige gewete volg en teister. En tientalle ander truuks en toertjies.

Hy vermeng sy ontledings met skerp humor: “Marx vertraag Engeland se bal . . . nes sy naamgenoot sou sê kapitalisme vertraag ons groei tot ’n gelyke, gelukkige samelewing.” Squidge verwys na Du Toit as ’n huilende Action Man (met verwysing na die reus se trane ná Wellington 2018) en noem Faf de Klerk die aktrise Reese Witherspoon se onvleiende stunt double.

Dít is sy suksesresep. Skerp waarnemings wat hy met humor aanbied. Dit stel hom in staat om ’n lewe uit sy video’s te maak.

Hy hoef nie meer sy sente te verdien uit die aflewer van pakkies, of werwingswerk vir ’n universiteit in Derby nie. Rugby koop nou sy bier – selfs al was hy nooit self ’n uitstekende speler nie.

“Ek het ’n bietjie rugby gespeel, maar nie op ’n hoë vlak nie. Die kennis kom van baie rugby kyk en lees oor die spel,” vertel Squidge, wat Wallis ondersteun al is hy in Nottingham gebore. Sy ouers is Walliesers en die naam Squidge is iets wat sy pa hom genoem het toe hy klein was – glo eg Wallies.

“Ek speel steeds raakrugby, maar ek is fisiek nie baie vermoënd nie. Ek was die heelagter of vleuel wat nie kon têkkel nie.”

Hy en sy broer, Will (22), het gereeld opnames van Wallis se wedstryde gekyk en dit dan ontleed – soortgelyk aan hoe hy dit deesdae in sy video’s doen.

Voordat die Squidge-kanaal begin het, het Owen kreatiewe skryfkuns in Derby gestudeer. Nadat het in 2017 klaar gestudeer het, het hy vir ’n wyle by die universiteit gewerk.

Robbie Owen, oftewel Squidge.

“Daarna het ek per ongeluk ’n werk by ’n afleweringsmaatskappy gekry. Ek is nie gemaak om swaar goed te dra nie . . . Ek hoort nie in ’n Springbok- vaste vyf nie. Ek is meer van ’n liggewig-Cheslin Kolbe.

“Ek het pakkies afgelewer en elke oomblik daarvan gehaat. My eerste twee video’s het ek in my kop geskryf terwyl ek in die afleweringsvoertuig gesit het.”

Hy het een middag terstond besluit om ’n rekenaar te gaan koop en het sy eerste video daarop geredigeer. Teen einde Januarie 2018 is sy eerste video – een oor die Walliese klubspan Ospreys – opgelaai.

“Ek het ’n paar Sesnasies-wedstryde gedoen en dinge het vinnig begin groei. Ek was verbaas, al het ek gedink daar was ’n gaping in die mark.”

Toe verander ’n gewilde Ierse skrumskakel alles.

“Ek het ’n video oor Conor Murray gemaak. Dit lyk of Ierse ondersteuners almal mekaar ken. As jy iets oor Ierland doen, deel alle Ierse ondersteuners dit.

“Voor dit het ek video’s opgelaai van Skotland en Wallis en ek was gelukkig as 2 000 mense daarna kyk.”

In 2018 het internet-ster nog pakkies afgelewer

Die Murray-video is steeds sy YouTube-video wat die meeste mense gekyk het, met meer as 606 000 kyke.

“Ek het ook ’n video van Sam Warburton gemaak die week nadat hy uitgetree het. Ek het uit ’n fliekteater ge­stap waar ek die nuwe Mission Impossible-fliek gekyk het en ’n twiet van Warburton gekry wat sê: ‘Dankie vir hierdie video, dis so wonderlik.’

“Dit was ’n onwerklike oomblik. Hy was die nasionale kaptein vir tien jaar, iemand na wie ek so baie opgesien het . . . En hy het na my video gekyk! Die ware, egte Sam Warburton.”

Só het die Squidge-kanaal stoom opgetel. Maar toe, vroeër vanjaar, seil die organiseerders van die Sesnasies-reeks met ’n Pieter-Steph du Toit-duikslag onder Owen in.

“Dit was angswekkend. Ek het ’n e-pos van die Sesnasies gekry wat sê hulle wil die video’s van You­Tube afgehaal hê. Ek het ’n e-pos teruggestuur wat baie billik was, waarin ek na kopieregwette verwys het.

“Ek het ’n aggressiewe e-pos teruggekry. Ek het gesê ek wil tyd hê om raad in te win. ’n Paar dae later het ek ’n twiet gekry van iemand wat sê hulle kan nie my video’s opspoor nie.

“27 van my video’s is verwyder.”

Volgens YouTube-reëls kon die Squidge-kanaal heeltemal verwyder word. Toe Owen dít besef, het hy ’n twiet uitgestuur om vir sy aanhangers te verduidelik wat gebeur het. “Ek het gaan slaap en nie regtig geweet wat ek gaan doen nie. Ek was baie bang.”

Die volgende oggend sien hy op Twitter hoeveel mense vir hom in die bres getree het.

“Daar was ’n oorweldigende reaksie. Daar was selfs mense wat e-posse aan die Sesnasies gestuur het. Daardie aand het die Sesnasies uitgereik en alles is binne drie dae uitgesorteer.”

Hy was vir ’n wyle neergevel, maar met behulp van sy ondersteuners kon hy voortspeel. En die WB-toernooi gaan takel.

Vlymskerp video’s gryp derduisende aan op web

“Ek was sewe weke op my eie. Dit was ’n ongelooflike ervaring, selfs buite rugby. Mense het my herken.

“Daar was selfs ondersteuners met Namibiese truie wat met my kom gesels het.” In Japan het hy ook kortstondig ’n kopieregprobleem gekry, maar dit aanvanklik omseil deur sy video’s op die platform Vimeo te laai, voordat hy dit later stelselmatig terug op YouTube geplaas het.

Dit het nie sy geesdrif gedemp nie.

“Ek het nou besluit ek gaan vir die res van my lewe na elke Wêreldbeker-toernooi toe. Tot die dag dat ek doodgaan.”

Hy hoop om weer wedstryde te sien soos dié tussen Uruguay en Fidji en tussen Japan en Skotland – sy gunsteling-wedstryde van die toernooi.

Tog kom sy eie gunsteling-ontleding nie uit een van daardie wedstryde nie.

“Daar was iets wat die All Blacks in die kwarteindstryd teen Ierland gedoen het . . . Hulle het hul formasie elke paar fases verander. Dit is iets wat ons meer gaan begin sien, maar nie op die skaal waarop Nieu-Seeland dit in die kwarteindstryd gedoen het nie.

“Die meeste spanne gebruik hul voorspelers gewoonlik in ’n 1-3-3-1-formasie, met een voorspeler op elke vleuel en dan twee groepe van drie voorspelers in die middelveld. Die Springbokke gebruik gereeld hul voorspelers in groepe van twee.

“Die All Blacks het hul formasies ná verskillende afbreekpunte verander. Dit het dit bitter moeilik gemaak om teen hulle te verdedig.”

Iemand wat sulke spelpatrone kan identifiseer en soveel tegniese kennis het, sal ’n skitterende afrigter maak. Maar Owen stel nie belang nie. Selfs al word daar in hom belang gestel. “ ’n Universiteit in Amerika het my genader. Ja, ek was ook verbaas.

“Ek is meer geïnteresseerd in rugby op die hoogste vlak. Ek sien boonop raak wat ander mense doen en dink dan idees uit om dit oor te dra, liewer as wat ek my eie rugby-planne wil maak.”

Hy het al verskeie Bok-planne raakgesien en sê hoe meer hy na hul wedstryde in Japan kyk, hoe meer besef hy hoe baie Suid-Afrika die Webb Ellis-trofee verdien.

“Die Bokke was absoluut fantasties. Mense sê dalk hulle het dit nie verdien nie omdat hulle ’n wedstryd verloor het, maar dit is bog.”

Hy dink dit sal goed wees as iemand in Rassie Erasmus se bestuurspan, soos Jacques Nienaber, die leisels oorneem.

Wêreldrugby gaan voortaan ook meer “demokraties” wees, sê hy.

“Verskeie lande is op dieselfde vlak en ’n span soos Japan toon vordering.”

’n Opwindende tydperk lê in die rugbywêreld voor. En selfs as ’n volbloed-Rooi Draak moet Squidge erken: “Dis die regte tyd om ’n Bok-ondersteuner te wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.