Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB-toernooi ‘bestand’ teen natuurramp

Hoe gemaak as Japan tydens vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi deur ’n groot aardbewing of tifone getref word?

Toemaar, sê die toernooi-direkteur, Alan Gilpin, daar ís ’n plan.

Die Wêreldbeker-toernooi in Japan se toernooi-direkteur, Alan Gilpin. Foto: Getty Images

“Baie van ons fokus oor die volgende ses maande gaan op gebeurlikheidsplanne wees,” sê Galpin, wat die versekering gee dat planne gemaak is indien ’n stadion of die infrastruktuur beskadig word.

“Dis vroeg in die toernooi tifoonseisoen in Japan en ons kan dan moontlik probleme hê. Dis die besigste deel van die toernooi, so ons móét gereed wees,” voeg hy by.

Die WB-toernooi skop op 20 September af en die eindstryd is op 2 November.

In September verlede jaar het ’n tifoon Osaka se lughawe getref terwyl nóg een deur die ganse land verwoesting gesaai het. Die bykans ondenkbare (vir Japan) was toe Tokio se openbare vervoerstelsel gevolglik vir ’n ruk gestaak is.

Dieselfde maand het die noordelike eiland van Hokkaido onder ’n aardbewing gebuk gegaan. Dosyne mense het gesterf en elektrisiteit is afgesny.

Daar sal op die ooreenkomstige naweek vanjaar vyf wedstryde in Japan gespeel word. Dit sluit die kragmeting tussen Australië en Wallis, asook die gasheerland se wedstryd teen Ierland in.

Gilpin benadruk egter dat planne gemaak kan word vir soortgelyke toestande.

“Ons siening is dat jy daarvoor kan beplan. Jy moet net seker maak dat jy deur al die verskillende kombinasies gewerk het,” sê hy.

Uitklopwedstryde kan uitgestel word, maar die skedule is te beknop om dit met groepwedstryde te doen. As ’n groepwedstryd afgeskaf word, sal die wedstryd as ’n gelykopstryd gereken word.

Gilpin was aanvanklik bekommerd oor die beplanning vir ’n WB-toernooi wat nie in ’n tradisionele rugbyland gespeel word nie, maar sing nou ’n ander deuntjie.

“Vanjaar se toernooi sal ’n groter invloed as enige een voor hom hê. Ons neem die spel nou verder vorentoe as wat die geval sou wees as Engeland, Nieu-Seeland of Frankryk die gasheer was.”

Hy het ook duidelikheid gegee oor die toernooi-organiseerders se gesindheid jeens spelers met tatoeërmerke. Tatoeërmerke word deur sommige Japanners met georganiseerde misdaad geassosieer.

Gilpin sê beamptes se tatoeërmerke sal bedek moet word, maar spelers sal hul eie oordeel moet gebruik. Hulle weet dat dit in ’n openbare area (buite die speelveld) van pas is om tatoeërmerke te bedek. Hulle is baie gemaklik daarmee. Dis nie vir ons nodig om reëls te maak nie,” sê hy.

“Dit was nooit vir ons ’n kwessie nie. Dis meer ’n geval dat dit in Japan ’n kwessie geraak het. Ek dink nie daar’s enige verwarring onder beamptes en spelers nie.”

Meer oor:  Toetsrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.