Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WB: Wallis van dun lug in Alpe na Turkse hitte

’n Mens moenie nou al te veel lees in die Wêreldbeker-opwarmwedstryde waarin spanne van die Noordelike Halfrond by betrokke is nie, maar tog kan die oorwinnings wat Wallis, Frankryk en Italië Saterdag behaal het, ’n goeie aanduiding wees wie die kitaar in Japan sal slaan.

Frankryk se Fidjiaanse vleuel Alivereti Raka op pad doellyn toe Saterdagaand in Nice teen Skotland. Ali Price is te laat om te keer. Foto: Reuters

Die Europese spelers het aan die einde van Mei of die eerste week van Junie laas gespeel en die WB-opwarmwedstryde is die enigste kans om hul slaggereed te kry.

Wallis het Engeland met 13-6 in Cardiff geklop nadat die Engelse verlede naweek se kragmeting op Twickenham gewen het.

Die Franse het die Skotte met 32-3 in Nice afgeransel en Italië het Rusland in San Benedetto del Trento met 85-15 oorrompel.

Saterdag se oorwinning oor Engeland het Wallis op die voorvoet geplaas en ook aan die Rooi Drake die eerste plek op Wêreldrugby se ranglys bo die All Blacks besorg.

Dit sal die Sesnasies-kampioene se selfvertroue ’n verdere hupstoot gee.

Daar was voor die kragmeting kommer oor die kniebesering wat die Walliese losskakel Gareth Anscombe uit die WB-toernooi gaan hou, maar Dan Biggar het die toets met vlieënde vaandels geslaag.

Dan het die heelagter Leigh Halfpenny ook van sy besering herstel wat hom sedert November verlede jaar langs die kantlyn gehou het.

Die Walliesers, wat in die Europese somer hoog bo seevlak in die Switserse Alpe geoefen het, gaan die volgende paar dae ’n tweede oefenkamp in Turkye hou.

“Ons tweede oefenkamp is ’n warmweer-kamp om die spelers voor berei op dit (hitte) wat in Japan op hulle sal wag. Ons sal vier keer per dag oefen,” het die Walliese afrigter, Warren Gatland, kort voor die span se vertrek gesê.

* Die onvoorspelbare Franse was vol flair in hul oorwinning van 32-3 oor Skotland.

Die Skotse afrigter, Gregor Townsend, het geen doekies oor sy span se swak vertoning omgedraai nie en gesê daar sal groot verbeteringe aangebring moet word.

“Ons het 40 spelers in ons groep en die meerderheid van hulle gaan Japan toe. Sommige sal nie baie geleenthede kry nie, maar dit sou in elk geval gebeur het,” het ’n teleurgestelde Townsend gesê.

Die Skotte het veral in die skrums teen die Franse gesukkel en is voorlangs deur die fisieke Franse geboelie.

Die rol van die gewese Franse kaptein Fabian Galthie, wat die afrigter Jacques Brunel bystaan voordat hy ná die WB-toernooi die leisels by Brunel neem, kon baie duidelik gesien word.

Een van Galthie se groot oogmerke is om die Franse topfiks te kry en dit het hy binne ’n paar weke reggekry.

Die Fidjiaanse vleuel Alivereti Raka, wat sy Franse buiging gemaak het, het binne 94 sekondes die Hane se eerste drie gedruk en van toe af was dit eenrigtingverkeer.

* Intussen het die Italiaanse afrigter, Conor O’Shea, sy groep van 31 spelers bekend gemaak wat na Japan sal reis nadat Italië 18 drieë in hul oorwinning met 85-15 oor Rusland gedruk het.

Die Italianers sal deur die veteraan-agtsteman Sergio Parisse aangevoer word en 23 van die 31 spelers het geen WB-ervaring nie.

Parisse sal swaar leun op die ervare haker en onder-kaptein Leonardo Ghiraldini, asook die slot Alessandro Zanni, wat in sy vierde WB-toernooi sal speel.

Italië skop die WB-toernooi af op 22 September teen Namibië, gevolg vier dae later teen Kanada, die Bokke op 4 Oktober en All Blacks op 12 Oktober.

Italië se WB-groep: Voorspel;ers: Simone Ferrari (Benetton), Andrea Lovotti (Zebre), Tiziano Pasquali (Benetton), Nicola Quaglio (Benetton), Marco Riccioni (Benetton), Federico Zani (Benetton), Luca Bigi (Zebre), Oliviero Fabiani (Zebre), Leonardo Ghiraldini (geen klub), Dean Budd (Benetton), Federico Ruzza (Benetton), David Sisi (Zebre), Alessandro Zanni (Benetton), Maxime Mbanda (Zebre), Sebastian Negri (Benetton), Sergio Parisse (Toulon, kaptein), Jake Polledri (Gloucester), Abraham Steyn (Benetton). Agterspelers: Callum Braley (Gloucester), Guglielmo Palazzani (Zebre), Tito Tebaldi (Benetton), Tommaso Allan (Benetton), Carlo Canna (Zebre), Tommaso Benvenuti (Benetton), Michele Campagnaro (Harlequins), Luca Morisi (Benetton), Mattia Bellini (Zebre), Giulio Bisegni (Zebre), Jayden Hayward (Benetton), Matteo Minozzi (Wasps), Edoardo Padovani (Zebre). – Sportredaksie en rugby365.com

Meer oor:  Frankryk  |  Skotland  |  Wallis  |  Italië  |  Engeland  |  Wêreldbekerrugby  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.