Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers bo met Bokke se bloudruk

Vir John Dobson, nuwe afrigter van die Stormers, is dit ’n belangrike en noodsaaklike eerste. Eweneens so vir die Stormers-span wat gewys het hulle kan Super-sukses behaal deur ’n bloudruk van die Springbokke se wedstrydplan met sukses toe te pas, soos gister toe die Kaapse span hul Nieu-Seelandse teenstander, die Hurricanes, op Nuweland deeglik geklop het.

Vir Dobson, die spelers én die ondersteuners was daar oorgenoeg positiewe dinge om oor te jubel.

Die Stormers se Bok-buks Herschel Jantjies. Foto: Getty Images

Maar yskoue water op dit alles is dat Siya Kolisi en Bongi Mbonambi, en dalk ook Jaco Coetzee, nie Saterdag teen die Bulle op Nuweland in die voorste linie sal wees nie.

Die Springbok-kaptein en die Bok-haker is in die Stormers se wegholsege van 27-0 oor die Hurricanes ernstig beseer met albei Wêreldbeker-wenners wat straks vir etlike weke langs die kantlyn kan wees. Coetzee se besering is straks minder ernstig.

Kolisi het ’n kniebesering en het gisteraand vir skanderings gegaan. Mbonambi het ’n dyspierbesering en dit lyk ook ernstig.

“Dis nie ’n klein besering nie en dit was ’n hengse slag om ons kaptein ná die eerste 20 minute van die stryd te verloor,” het Dobson ná sy span se sege gesê.

“Hy sal vir minstens ’n paar weke uit wees en sal nie gereed wees vir volgende week (teen die Bulle) nie. Wat hy vir ons op en van die veld af beteken; dis ’n groot terugslag. Ek hoop egter dat dit niks meer ernstig is as ’n paar weke nie.

“Bongi het skade aan sy dyspier opgedoen en hy is ook nie in die planne vir volgende week nie. Ons weet nog nie oor Jaco Coetzee (liesbesering) nie, maar ek hoop dis nie te ernstig nie.”

Ondanks die slegte nuus wat hul sege oor die Nieu-Seelanders effe bederf het, was Dobson in sy skik met die wyse waarop sy span die sege behaal het. Dit vat ook ’n hengse poging op die verdediging om die gevaarlike Kiwi’s punteloos te hou.

Dobson voel egter dat daar nog ruimte vir verbetering is, veral met die kanse wat sy span op die aanval verspeel het.

“Hulle het beslis nie die sege aan ons gegee nie. Ek was heel in my skik met hoe ons oorheers het, maar ons was nie naastenby so klinies soos wat ons wil wees nie. Dis egter ’n riem onder die hart om ons rolmaal so suksesvol te sien werk.

Dit het gevoel of ons hulle heeltemal oorheers het, veral toe ons die rolmaalbewegings en skrums aan die gang gekry het. Dit het tot ’n sneeubal-effek gelei met alles wat saamgekom het.

“Ons het ook geweet hulle gaan alles in die skrums plaas en dat ons teen die einde die vrugte van ons moeite sou pluk. Vanuit ’n beplanningsoogpunt het alles uitgewerk. Daar was ook opflikkerings op die aanval, maar ons het te veel balle laat val.”

Steven Kitshoff, wat die kapteinskap by die beseerde Kolisi oorgeneem het, het dié sege as ’n “absolute spanpoging” beskryf.

Hy was in sy skik dat sy span so kon oorheers, ondanks die foute wat hulle soms gemaak het. “Ons het elke keer teruggeveg as ons ’n fout gemaak het en die druk weer verplaas deur die balbesit terug te wen,” het Kitshoff gesê.

“Dit het gevoel of ons hulle heeltemal oorheers het, veral toe ons die rolmaalbewegings en skrums aan die gang gekry het. Dit het tot ’n sneeubal-effek gelei met alles wat saamgekom het.”

Vir die sowat 18 700 toeskouers was dit ’n genotvolle sege – nie net oor die manier waarop die Stormers die Kiwi’s tot oorgawe gedwing het nie, maar ook het die drieë vir die bonuspuntsege groot genot verskaf.

Verlede seisoen was daar maar hier en daar skouspelagtige vyfpunters aangeteken, maar gister se drieë het gewys waarvoor die Nuwelandse skare hulle gereed kan maak vir die res van die seisoen.

Dit was die perfekte afskop tot Nuweland se laaste Super-seisoen.

’n Monsterpak wat skrik vir niks en ’n agterlyn wat toeslaan wanneer hulle moet. Dis waarna Nuweland al vir seisoene hunker en dit lyk of hulle dit hierdie seisoen gaan kan aanskou.

Die Stormers se hele verdediging was ’n amperse bloudruk van die Springbokke se Wêreldbeker-plan, met die aanvalle van die ’Canes wat pal in die kiem gesmoor is.

Dis met die voorspelers waar die grondslag vir die sege gelê is.

Die Hurricanes is in die skrums pak gegee, hulle het ’n paar keer lynstaanbesit verloor en hul besit is pal vertraag by die losskrums, waar die Stormers letterlik onder hulle ingeklim het. Die Hurricanes hou daarvan om van vinnige balbesit af te speel, maar gister kon hulle niks regkry om ouens soos Jordie Barrett en Ben Lam op die voorvoet te kry nie.

Die Bok-skrumskakel Herschel Jantjies het met sy flink diens die tuisspan vir ’n groot deel van die eerste helfte op die voorvoet gehou. Die manier waarop hy gister die Hurricanes se verdediging op hul tone gehou het, wys hy gaan nie maklik ’n slagoffer word van die gevreesde tweedeseisoen-sindroom nie.

Sy vermoë om gapings langs losskrums te vind, het tot twee bresse vroeg in die wedstryd gelei en hy het ’n aandeel in twee van die tuisspan se eerstehelfte-drieë gehad.

Sy bres was die katalisator vir ’n aanval tot in die Hurricanes se kwartgebied, waarna sy dwarsskop die vleuel Ser­geal Petersen gevind het.

Petersen het in die hoekie oorgeduik.

Die Bok-stut Kitshoff het met sy brute krag self die tweede drie geskep toe hy deur ’n stuk of drie ’Canes-verdedigers gebars het om oor te val.

Selfs toe die Stormers se besielende kaptein, Kolisi, in die 26ste minuut af is met ’n kniebesering, het die Stormers nie hul voet van die Hurricanes se strot af gehaal nie. En die Hurricanes het die wurggreep duidelik gevoel.

Die Stormers verdien ook ’n pluimpie vir hul verdediging in die laaste tien minute van die eerste helfte en die eerste tien minute van die tweede helfte.

Al wat ’n Hurricanes-aanval was, is gestuit.

Die Stormers se hele verdediging was ’n amperse bloudruk van die Springbokke se Wêreldbeker-plan, met die aanvalle van die ’Canes wat pal in die kiem gesmoor is.

Om ’n Kiwi-span punteloos te hou, sit nie in enige Superrugby-span se broek nie.

Maar die Kapenaars het dit met oorgawe en welslae gedoen.

Meer oor:  Stormers  |  Hurricanes  |  Superrugby-Reeks  |  John Dobson  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.