Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-ster Pieter-Steph du Toit sal bly ás . . .

Pieter-Steph du Toit gaan ’n Stormer bly – mits die WP hom ’n nuwe kontrak met wesenlike toegewings aanbied.

Die Stormers se Springbokbreker Pieter-Steph du Toit warm op voor ’n Superrugbywedstryd in Durban. Foto: Gallo Images

Die kontrak-drama om Du Toit het die afgelope week ’n wending geneem nadat die Springbokke se groot sterspeler die reg uitgeoefen het om sy kontrak met die Kaapse franchise op te sê ingevolge die 21 dae-klousule.

Du Toit wil hê sy nuwe kontrak met die WP moet uitdruklik bepaal dat hy nou reeds elders kan begin onderhandel vir ’n kontrak wat in werking sal tree ná die toer van die Britse en Ierse Leeus in 2021 in die land.

Hy vra ook dat hy toegelaat moet word om sy kontrak te “herbeding”, sou die salarisvermindering van sowat 40% wat hy nou weens die Covid-19-pandemie moet aanvaar langer duur as Desember.

Du Toit wil ook dieselfde ooreenkoms vir beeldregte met die WP sluit as wat die geval tans is met Siya Kolisi.

Die Bok-kaptein beheer sy eie beeldregte, terwyl Du Toit s’n in die hande van die WP en SA Rugby is. Die besonderhede van die ooreenkoms is nie bekend nie.

Die 27-jarige Du Toit, Wêreldrugby se Speler van die Jaar, het Donderdagaand die 21-dae-klousule gebruik om sy kontrak met die WP te kanselleer.

Die WP het gister in ’n nuusverklaring bevestig hy het die 21-dae-opsie uitgeoefen.

Hy het sy kontrak ná ’n regsmening met die WP gekanselleer.

Rapport het by twee onberispelike bronne verneem dat Du Toit ’n Stormer wíl bly en sy rugby tot ná 2021 se besoek van die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika wíl speel.

“Hy het sy kontrak ná ’n regsmening met die WP gekanselleer,” het ’n ingeligte bron gesê.

’n Ander bron het gesê Du Toit se skuif is nie daarop gemik om nou ’n oorsese kontrak los te slaan nie.

“Pieter-Steph-hulle het die klousule gebruik om genoeg kans te kry om sekere probleme in sy kontrak met die WP uit te stryk,” het die bron gesê.

“Deur die 21 dae-klousule te benut, het hy nou die bedingingsmag om die aanpassings waarop hy aandring te laat doen. Pieter-Steph stap ’n harde en eerlike pad. Hy wil hê die hele proses moet deursigtig wees en nie oorhaastig gedoen word nie.”

Ná ’n week van drama het WP se regsafdeling gister met Suid-Afrikaanse rugby se werkgewersorganisasie, Sareo, gesprekke gevoer oor ’n nuwe kontrak vir Du Toit, asook die geldigheid daarvan.

Volgens die kollektiewe ooreenkoms mag die WP nie ’n nuwe kontrak of ’n derde party betrek om so ’n ooreenkoms met Du Toit te sluit nie.

Maar die WP het blykbaar vir Sareo gevra vir toestemming om Du Toit ’n nuwe kontrak op dieselfde verlaagde salarisvlak aan te bied, maar met die verandering aan die klousules waarop hy aandring.

As dit toegestaan word, sal dit ’n oorwinning vir alle partye wees en WP sal by die kollektiewe ooreenkoms kan hou.

Dreigemente van moontlike regstappe kan ook dan afgeweer word.

Cobus Wiese. Foto: Gallo Images

Die hoop is uitgespreek dat die nuwe kontrak gou geteken sal word. Slegs as dit onmoontlik is om ’n nuwe kontrak met die WP te sluit, sal Du Toit na oorsese opsies kyk.

“Sy verteenwoordigers het die mark getoets toe dit aanvanklik bekend geword het dat die salarisverminderings ingestel sal word. Hy het egter besluit hy wil bly. Sy aanvanklike plan om sy rugby tot ná 2021 se besoek van die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika te speel, bly onveranderd.”

Du Toit, Cobus Wiese en Jean-Luc du Plessis is die drie WP-spelers wat die 21-dag-klousule die afgelope week gebruik het.

Wiese het ’n kontrak met Sale Sharks gesluit, maar The Rugby Paper beweer hy het reeds vroeër ’n ooreenkoms met Saracens bereik. Du Plessis gaan sy rugby voortaan by die Japanse klub Honda Heat speel.

Die WP het in gister se nuusverklaring opnuut beweer dat die 21-dae-klousule nie vir sy spelers geld nie. Die WP kan selfs besluit om vrywaringsertifikate aan Wiese-hulle te weier om hul rugby elders te kan speel.

Rapport verstaan dat WP gewillig is om hof toe te gaan oor Du Toit, maar nie noodwendig as dit net die twee ander spelers is nie.

Du Toit se agent, Gerrie Swart, het aan Rapport gesê hy gaan geen kommentaar lewer nie.

Zelt Marais, president van die WPRU, het aan Rapport gesê Sareo moet dringend geherstruktureer word om te keer dat die klein unies die grotes oorheers. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.