Die Goue Leeus het ’n onverwagse bondgenoot in die weerlig gevind om hul eerste Curriebeker-wedstryd van die nuwe seisoen met ’n sege te begin.

Een, twee, drie, dis ’n lekker drie hierdie! Griekwas se Eduan Keyter duik oor vir sy drie. Foto: Gallo Images
Die Johannesburgers het Griekwas Saterdag met 20-17 in Kimberley gewen – met die weerlig wat spel in die 48ste minuut onderbreek het. Daarna is die spelers nooit weer terug na die veld nie.
Vir die Poubloues, wat steeds segeloos vanjaar is, sal die onverwagse ingryping ’n hoofpyn wees. Hulle was vir die grootste gedeelte van die eerste helfte die beste span op die veld.
Die tuisspan het gou drie drieë gedruk om met 17-3 voor te loop.
In daardie tyd was die Poubloues baas by die afbreekpunte, koning met die rolmaalbewegings, terwyl hulle ook baie min foute gemaak het.
Dit was ’n plesier om te aanskou hoe Eduan Keyter (vleuel) gaan druk nadat Zak Burger (skrumskakel) die Leeus aan die slaap gevang het met ’n breekslag.
Nadat die heelagter James Verity-Amm die Noord-Kapenaars se derde drie gaan druk het, sou getroue Griekwas-ondersteuners gewis geglo het dat hul span op die wenpad gaan kom. En sou daardie bier net soveel beter geproe het.
Maar die uitdaging vir Griekwas sou altyd wees of hulle die vertoning enduit kan volhou.
Die vraag is gou beantwoord toe die Johannesburgers se vleuel Courtnall Skosan oorduik vir sy eerste drie. Eerste drie, ja, want hy het oomblikke voordat die fluitjie vir rustyd geblaas het, weer gaan druk.
Dit het die telling 17-13 in die guns van die tuisspan met rustyd gemaak.
Daardie tweede drie van Skosan was baie goed vir die Leeus se selfvertroue.
In die tweede helfte, met wolke wat saamgepak het in Kimberley, was die Leeus eerste op die telbord danksy ’n strafdrie.
Dit nadat die Poubloues moedig hul doellyn verdedig het, maar die skeidsregter se geduld uiteindelik opgeraak het met die tuisspan.
Dit was duidelik dat die Leeus die Poubloues in die skrums wou teiken – maar die tuisspan het nie ’n tree teruggedeins nie.
In die 48ste minuut is die spelers van die veld geneem met die weerlig wat skynbaar net om die hoek was. ’n Ruk later is die besluit geneem dat die wedstryd nie gaan hervat nie, en het die Leeus met ’n sege na die Goudstad teruggekeer.
• Puntemakers:
Goue Leeus 20 (13): Drieë: Courtnall Skosan (2), Strafdrie. Strafdoel: Elton Jantjies
Griekwas 17 (17): Drieë: HJ Luus, Eduan Keyter, James Verity-Amm. Doelskop: Tinus de Beer.