Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Wees geduldig, Blitse in herboufase’
Paul Delport duik oor vir ’n drie teen Frankryk tydens die toernooi in Port Elizabeth in 2012. Foto: Gallo Images

Die Blitsbokke sal suksesvol wees indien hulle die naweek die halfeindronde van die Las Vegas-toernooi kan haal, sê Paul Delport, oudkaptein van dié span.

“Ek dink die afgelope vier seisoene was goed vir die span, maar daar moet aanvaar word dat die span midde-in ’n herboufase is. Die Blitsbokke het baie goeie spelers verloor,” sê hy.

“Dieselfde het destyds met ons gebeur. Onthou die spelers verdien meer geld in vyftienman-rugby. Sodra die ouens presteer by die sewes, raap die spanne in die Superrugby-reeks hulle op,” sê Delport.

Dieselfde het destyds met ons gebeur. Onthou die spelers verdien meer geld in vyftienman-rugby. Sodra die ouens presteer by die sewes, raap die spanne in die Superrugby-reeks hulle op
Paul Delport

“Ouens soos Gio Aplon, Robert Ebersohn en Rayno Benjamin is ook weg nadat hulle by die Blitsbokke goed vertoon het,” sê Delport, wat in 33 toernooie tussen 2003 en 2013 vir die Blitsbokke gespeel het.

Hy rig deesdae die Suid-Afrikaanse vrouesewesspan af en was deel van die Blitsbok-span wat in 2009 die eerste keer die Wêreldreeks-kroon gedra het, net om die volgende seisoen sesde te eindig.

Suid-Afrika, wat die afgelope twee seisoene die Wêreldreeks-titel verower het, bevind hom tans in die vierde plek op die puntelys, maar Delport sê ondersteuners moet geduldig wees.

“Dit gaan tyd neem. As ons net die halfeindronde kan haal, sal dit goed wees. Dit is moeilik vir Neil (Powell, afrigter), maar die strukture is gestel en die span het die regte spelers. Hulle kort egter ervaring,” sê hy.

Suid-Afrika bevind hom in dieselfde groep as Engeland, Japan en Chili en skop sy aanslag Saterdagoggend (SA tyd) teen die Japanners af.

Desondanks sy onervarenheid, kan Mfundo Ndhlovu straks een van die Blitsbokke se dodelikste wapens in Las Vegas wees. Foto: Gallo Images

Slaag die Blitsbokke daarin om eerste in die groep te eindig, wag ’n ontmoeting met die naaswenner van Groep B, wat straks Argentinië sal wees.

“Ons bevind ons nie in die moeilikste groep nie en dit is dalk goed vir die ouens se selfvertroue,” sê Delport.

En waar baie ondersteuners skepties is oor die baie jongelinge soos Sako Makata, JC Pretorius, Mfundo Ndhlovu en Ryan Oosthuizen, voel Delport dit tel in die span se guns.

“Ryan sal die span ekstra woema gee, terwyl Mfundo regtig talentvol is. Sako gaan dit ook nog ver bring.”

Een van die groot vrae die naweek is natuurlik of Amerika wéér gaan strooijonker wees. Dié span, wat saam met Nieu-Seeland bo-aan die puntelys is, het die afgelope vier toernooie in die eindstryd vasgeval.

Blitsbok-afskoptye:

Saterdag

03:10 (SS 1) teen Japan

06:11 (SS 1) teen Chili.

Sondag

00:08  (SS 1) teen Engeland (SS 6)


Meer oor:  Paul Delport  |  Jc Pretorius  |  Las Vegas  |  Rugby  |  Sewesrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.