Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wees op uitkyk vir dié 5 brekers in Kaap

Met die Suid-Afrikaanse sewesspan terug op tuisbodem is die verwagting dat die span die naweek voor sy tuisskare sy ware kleure sal wys. Dit ná die teleurstelling van verlede naweek in Doebai.

Alle kaartjies vir die Kaapstad-toernooi is immers so te sê uitverkoop, sonbrandroom is gekoop en toeskouers beraam planne hoe om die beste gees te vang.

Maar, soos die oud-Blits Stephan Dippenaar vroeër dié week opgemerk het, kan een hop van die bal ’n wedstryd in jou guns beslis. Of een speler.

Hier is vyf spelers wat straks die naweek dinge kan laat gebeur:

Jy kan nie die Amerikaner Perry Baker baie van sewes vertel nie. Foto: Getty Images

1. Perry Baker (Amerika)

Die 32-jarige Baker is die afgelope twee jaar Wêreldrugby se Sewesspeler van die Jaar, die enigste speler wat die prys meer as een keer kon wen. Hy is ’n driedrukmasjien, wat die gang van ’n wedstryd in ’n oogwink kan verander.

Jy kan maar weet dat sy span se nederlaag in die eindstryd in Doebai teen Nieu-Seeland vir hom as ekstra motivering sal dien.

Andrew Knewstubb seil verlede naweek in Doebai onder twee Amerikaners uit. Foto: Getty Images

2. Andrew Knewstubb (Nieu-Seeland)

Hy is dalk net 23 jaar oud en het sy buiging vir die Kiwi’s eers in 2017 gemaak, maar diegene wat weet, praat met lof van hom.

Hy is vinnig, het ’n oog vir ’n gaping en is as spelskepper die generaal in Nieu-Seeland se span. Die Kiwi’s is die verdedigende kampioenspan in die Moederstad en nadat hulle verlede naweek ook die titel in Doebai verower het, sal Knewstubb en sy spanmaats oorloop van selfvertroue. En ’n Nieu-Seelandse span met baie selfvertroue spel altyd gevaar vir die res.

Argentinië se Marcos Moroni sit hier af op ’n lopie verlede seisoen teen Wallis in Parys. Foto: Getty Images

3. Marcos Moroni (Argentinië)

Ook ’n jongeling, met 23 winters agter die blad, maar hy ken die pad doellyn toe.

Die afgelope naweek in Doebai was hy met sewe drieë die voorste driedrukker.

Die Argentynse span word selde as ’n ernstige aanspraakmaker in die reeks beskou, maar die blitsige Moroni kan maklik die kollig steel. En jou in trane by jou eie partytjie laat.

Dan Norton duik in 2017 op Twickenham in Londen oor die doellyn teen die Blitsbokke. Foto: Getty Images

4. Dan Norton (Engeland)

Jy is nie vir geen rede die voorste driedrukker van alle tye nie.

Die 30-jarige Norton, wat met 302 drieë agter sy naam spog, het die mylpaal van 300 in Doebai bereik. Behalwe dat hy weet waar die doellyn is, beskik hy oor dekades se ervaring. En ervaring, het ons verlede naweek geleer, is nie te versmaai nie.

Al moet ek vlieg . . . gaan jy my steeds nie keer nie. Rosko Specman duik verlede jaar teen Australië oor die doellyn in Sydney. Foto: Getty Images

5. Rosko Specman (Suid-Afrika)

Dit is die 29-jarige boorling van Grahamstad in die Oos-Kaap se swanesang (hopelik net tydelik!) in sewesrugby, voordat hy hom by die Bulle in Pretoria aanmeld.

Hy’s een van daardie elite-groepie spelers wat iets uit niks kan skep en wanneer hy aan die bal raak en hakskene vir sy teenstanders wys, is daar vuurwerk. Hopelik spoor “Specmagic”, soos ondersteuners hom ken, se towerkuns sy spanmaats aan om self towenaars voor hul tuisskare te wees.

* Die Blitsbokke se teenstanders op die eerste dag is Samoa (12:27), Zimbabwe (15:48) en Nieu-Seeland (19:56). Slaag hulle daarin om eerste of tweede in die groep te eindig, wag straks Australië of Skotland in die kwarteindronde.

* Alle wedstryde word van 09:50 af regstreeks op SS 1 uitgesaai.

Meer oor:  Sewes  |  Kaapstad-Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.