Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wegner los Cheetahs vir Benetton

Carl Wegner het besluit sy toekoms lê in Italië.

Carl Wegner, kaptein van die Cheetahs, druk ’n drie teen die Haaie in Desember in Bloemfontein. Foto: Frikkie Kapp/Gallo Images

Die kaptein en vierslot van die Cheetahs gaan hom later vanjaar by die klubspan Benetton in Treviso aansluit.

Wegner se skuif is ’n gevoelige slag vir die Cheetahs. Nie net omdat hy kaptein is nie, maar aangesien die Cheetahs sedert verlede jaar onder meer slotte soos Walt Steenkamp, Sintu Manjezi (albei Bulle) en JP du Preez (Sale Sharks) verloor het.

Die 29-jarige Wegner het verlede jaar vanaf Jake White se voormalige Japanse klubspan Toyota Verblitz na Bloemfontein teruggekeer om onder meer die leemte van Steenkamp-hulle te help vul.

Hy het kort ná die aanvang van die Curriebekerreeks die Vrystaters se kapteinskap oorgeneem toe Ruan Pienaar beseer is.

Wegner het jarelange sterk bande met die Vrystaat gesmee vir wie sy pa, wyle Callie Wegner, destyds haker gespeel het.

Wegner het as ’n boorling van Ficksburg die Vrystaat se jeugspanne tussen 2009 en 2012 verteenwoordig.

In 2012 het hy die eerste keer vir die senior span gespeel. Kort ná sy buiging vir die senior span is hy weg na die Franse klubspan Stade Français.

In 2014 het hy na die Cheetahs teruggekeer waar hy tot 2018 gespeel het voordat hy ’n draai in Japan gemaak het.

Na die Bulle . . . Sintu Manjezi.

Sy skuif na Benetton het waarskynlik te make met die onsekerheid oor Eli Snyman se toekoms daar.

’n Sterk kans bestaan dat dié oud-Bul die klub sal verlaat.

Wegner kan egter steeds in Treviso ’n slotpaar met ’n Suid-Afrikaner vorm. Hy en die oud-slot van die Kings Irné Herbst kan langs mekaar sak.

Herbst het soos Snyman die laaste tyd wye belangstelling geniet, maar het besluit om sy kontrak vir drie jaar met Benetton te verleng aangesien sy gesin gelukkig in Treviso is.

Wegner, wat die laaste tyd deur voorbeeld gelei het en indruk by Benetton sal maak, is ’n donkiewerker wat nie altyd die verdiende erkenning kry nie.

Sy besluit sal Hawies Fourie se planne deurmekaarkrap, hoewel hy darem nog slotte soos Reniel Hugo en Ian Groenewald in sy slot-spens het.

Meer oor:  Italië  |  Cheetahs  |  Carl Wegner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.