Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wegseges vir Crusaders en Blues

Die Crusaders en die Blues se kragmneting in Auckland op 16 Augustus in die Aotearoa-reeks stuur af op ’n eindstryd-kleedrepetisie met albei spanne wat die naweek oortuigende wegseges beklink het.

Dit het Sondag in Dunedin meer as een verdediger van die Highlanders gevat om die Blues se vleuel Caleb Clarke grond toe te bring. Foto: Getty Images

Die Blues het Sondagoggend (SA tyd) hul eerste oorwinning in Dunedin se Forsyth Barr-stadion sedert 2011 behaal toe hulle die Highlanders met 32-21 verslaan het.

Die sterk en bonkige Blues-vleuel Caleb Clarke en hul bedrywige skrumskakel, Finlay Christie, was aan die voorpunt van die besoekers se aanslag.

Die manne van Auckland – met die All Black Beauden Barrett op losskakel – het vroeg beheer geneem en was met 24-16 voor teen rustyd.

Veral die 21-jarige Clarke, seun van die oud-All Black Eroni, gebruik dié kompetisie om sy aanspraak op ’n plek in die nasionale span te verstewig.

Hy is vol rugby en het die Highlanders deurgaans laat bontstaan wanneer hy aan die hardloop geraak het.

Die Blues het uiteindelik vyf keer die tuisspan se doellyn oorgesteek, wat die groei en vooruitgang vanjaar onder Leon MacDonald se afrigting onderstreep.

Dit is egter steeds die Crusaders wat die pas aangee nadat hulle Saterdag die Chiefs in Hamilton met 32-19 geklop het.

Nogmaals het die Chiefs rede om oor ’n beslissing of twee te kla. Veral oor die drie van die Crusaders se vleuel Sevu Reece in die 61ste minuut toe sy span met 20-19 voor was.

Dit het gelyk of Quinten Strange die bal aangeslaan het voordat Reece gaan afrond het en Warren Gatland, afrigter van die Chiefs, was agterna mismoedig oor die besluit.

“Ek het gedink Sevu Reece se drie was ’n aanslaan, maar jy moet daardie besluite aanvaar. Dit is ongelukkig nie die eerste keer dat ons aan die verkeerde kant (van sulke beslissings) is nie.”

Die druk is intussen aan die oplaai in Hamilton met die span van Gatland, voormalige breier van Wallis, wat nou sewe agtereenvolgende nederlae in die Aotearoa-reeks gely het.

Blues 32 (24). Drieë: Finlay Christie (2), Akira Ioane, TJ Faiane, Ofa Tu’ungafasi. Strafdoel: Beauden Barrett. Doelskoppe: Barrett (2).

Highlanders 21 (16). Drieë: Ash Dixon, Shannon Frizell. Strafdoele: Josh Ioane (3). Doelskop: Ioane. – Reuters, stuff.co.nz

Meer oor:  Blues  |  Crusaders  |  Aotearoa-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.