Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wêreld-sewes se kansellasie 'n ‘terugslag’
Daar gaan gun niks meer sewespret soos dié vir ondersteuners hierdie seisoen wees nie. Die Blitsbok Selvyn Davids word beetgekry deur drie Fidjiane tydens die Hamilton-toernooi in 2019 in Nieu-Seeland. Foto: Getty Images
Die Kiwi’s het koning gekraai by die Kaapstad-toernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Die nuus dat die oorblywende toernooie van die huidige seisoen van Wêreldrugby se sewesrugbyreeks gekanselleer is, is ’n “helse terugslag”.

Só sê die voormalige Blitsbok MJ Mentz, nadat Wêreldrugby Dinsdag bekend gemaak het dat die laaste vier toernooie weens die Covid-19-pandemie afgelas is. Nieu-Seeland, wat drie van die ses toernooie dié seisoen gewen het, is as kampioen gekroon, met Suid-Afrika wat met die tweede plek tevrede moet wees.

Dit is die eerste keer sedert die 2013-’14-seisoen wat die Kiwi’s as die reekskampioen gekroon word.

Die vier oorblywende toernooie in Singapoer, Hongkong, Londen en Parys, is vroeër vanjaar na September en Oktober uitgestel. Dit het in die laaste tyd al hoe onwaarskynliker gelyk dat die res van seisoen van dié reisende sirkus – soos sommige ondersteuners na die gewilde sewesreeks verwys – voltooi sou word.

Dit is weens die gesondheidsgevare van die Covid-19-virus, met die Wêreldreeks wat ’n wêreldwye voetspoor het, wat Wêreldrugby genoop het om die besluit te neem.

Dit is ’n gatslag; ouens word betaal om ’n jaar lank rugby te speel en dan is hulle slegs drie maande op die veld.
MJ Mentz

“Dit sal veral vir die ouens wat daarin spesialiseer (sewesrugby) baie moeilik wees om die terugslag te verwerk. Dit is ’n gatslag; ouens word betaal om ’n jaar lank rugby te speel en dan is hulle slegs drie maande op die veld,” sê Mentz.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke. Foto: Gallo Images

“Ek dink dit gaan vir Neil (Powell, afrigter van die Blitsbokke) ’n groot uitdaging wees om die ouens positief te hou vir die nuwe seisoen. Daar is baie onsekerheid, wat ook hul beplanning gaan beïnvloed.

“Die groot vraag is natuurlik nou of die nuwe seisoen (wat tradisioneel in Desember met toernooie in Dubai en Kaapstad) begin, wel op die regte tyd gaan kan begin.”

Mentz, wat hulpafrigter by die Pumas is, ervaar eerstehands die frustrasie wat die koronavirus op rugbyspelers het. Hy vrees dat die kansellasie van die Wêreldreeks sewesspelers se loopbane voortydig kan beëindig, omdat hulle nie blootstelling kry nie.

Nog ’n voormalige Blitsbok, Frankie Horne, sien egter ’n silwer randjie aan die donker wolk.

“Dit is vir seker ’n gatslag en nie die manier waarop sommige spelers dalk hul loopbane sou wou afsluit nie. Almal kry maar swaar en die groot vraag is waarheen rugby van hier gaan.

“Hoewel dit hartseer is, gaan Neil en Marius (Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) tyd hê om hul planne vir die nuwe seisoen agtermekaar te kry. Hy (Powell) is ’n strateeg en ek glo die Blitsbokke sal weer goed vaar,” sê Horne.

Die Blitsbokke nadat Nieu-Seeland hulle in die eindstryd van die Kaapstad-sewestoernooi in 2019 geklop het. Foto: Gallo Images

Die tweede plek ten spyt, is Powell tevrede met wat die Blitsbokke dié seisoen bereik het.

“Ons het by tye goeie rugby gespeel en ek beskou die seisoen as ’n sukses. Die meeste van die beplanning was gedoen met die Olimpiese Spele in gedagte.

“So ek dink ons het gehou by wat ons in daardie verband beplan het, en ek sal graag my bestuurspan en die span wil bedank vir hul vertoning,” sê hy.

• Die nasionale vrouespan se aspirasies om as kernspan (permanente lid) aan die Wêreldreeks deel te neem, het ’n knou gekry omdat die uitdaagreeks ook gekanselleer is. Dié toernooi sou aanvanklik in Maart in Stellenbosch beslis word, waar die Imbokodo, soos die vrouespan bekend staan, sou probeer om te kwalifiseer.

Dit beteken dat daar geen promosie of relegasie sal plaasvind nie, wat Suid-Afrika se planne vir minstens nog ’n jaar op die lange baan sal skuif.

Meer oor:  Neil Powell  |  Mj Mentz  |  Nieu-Seeland  |  Suid-Afrika  |  Gekanselleer  |  Wereldreeks  |  Blitsbokke  |  Covid-19  |  Sewesrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.