Wêreldrugby het gespring in die nadraai van die Wallieser George North se omstrede drie teen Engeland en onmiddellik ’n aanpassing aan die spel se reëls gemaak.

Wallis se George North druk Saterdag sy omstrede drie teen die Engelse. Foto: Getty Images
Kragtens die nuwe bepaling, wat die beheerliggaam op sy amptelike webwerf bekend gemaak het, mag spel nie voortgaan nie totdat ’n speler wat vir bloed of ’n kopbesering die veld verlaat, vervang word.
North het Saterdag in Wallis se sege met 13-6 oorgeduik nadat die Rooi Drake se losskakel Dan Biggar ’n strafskop vinnig geneem het terwyl Engeland gewag het om Willi Heinz te vervang.
Die skeidsregter Pascal Gauzere, wat pas die Engelse vleuel Anthony Watson na die koelkas gestuur het, het Biggar toegelaat om die bal skuins oor die veld in Josh Adams se hande te skop terwyl Heinz op pad was na die kleedkamer. Ben Youngs het nog op die kantlyn gewag om Heinz te vervang toe spel voortgaan, wat beteken het Engeland het op daardie stadium slegs 13 spelers op die veld gehad.
Biggar het in die volgende fase weer die bal skuins oor die veld geskop, die keer in North se rigting, vir die vleuel om sy 40ste toetsdrie in die 34ste minuut aan te teken.
Biggar het met die doelskop geslaag en die sewe punte was uiteindelik beslissend in Wallis se oorwinning, terwyl die span ook die boonste plek op die wêreldranglys by die All Blacks afgerokkel het.
Eddie Jones, Engeland se afrigter, het ná die toets gesê hy was oortuig die wedstryd sou stop totdat Youngs hom by die aksie aansluit.
“Ek dink ons het almal gedink dit is die reëls,” sê hy.
“So miskien moes die geelkaart aan die skeidsregter gegaan het.”
Wêreldrugby sê in ’n verklaring die wysiging “kodifiseer ’n aspek wat voorheen aan die diskresie van die skeidsregter oorgelaat was”.
Die beheerliggaam meen die wysiging dien twee doele.
“Dit bevorder die behoefte om spelers se welstand eerste te plaas, terwyl dit ook verseker dat spanne nie benadeel word deur met minder spelers te speel nie.”
– Sportredaksie