Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wêreldrugby steek sy hand in sak vir Blitse
blitsbokke
Die Bltsbokke maak kringetjie. Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images

Die Springbok-sewesspan gaan ’n stewige en broodnodige geldelike inspuiting van Wêreldrugby kry om hul sewesprogram in die opbou tot die Olimpiese Spele aan die gang te hou.

Rapport verneem die Blitsbokke gaan $100 000 (sowat R1,6 miljoen) by die internasionale beheerliggaam kry om die span te help met voorbereiding vir volgende jaar se Spele. Dít nadat die eerste vier toernooie van die internasionale sewesreeks – wat die opbou tot Tokio sou begin – vroeër afgelas is weens die koronavirus-pandemie.

Dubai, Kaapstad, Hamilton en Sydney se blitstoernooie is reeds geskrap, terwyl daar onsekerheid is of die res van die seisoen se toernooie wel gespeel gaan word in opbou tot die skouspel in Japan.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, het die afgelope week aan Rapport bevestig hulle het aansoek gedoen om die befondsing, wat hulle in staat sal stel om plaaslik toernooie aan te bied.

Die plan is om aanvanklik net plaaslike spanne te kry om teen die Blitsbokke te speel, waarna daar gekyk sal word om internasionale spanne na Stellenbosch te lok. Weens die Covid-19-pandemie was daar aanvanklik nie geld vir dié planne nie, maar die inspuiting van Wêreldrugby is soos ’n reddingsboei vir die Blitse.

Volgens Powell kyk hulle daarna om in November of Desember met wedstryde te begin, met die volgende maand of wat waarin hulle uitsluitlik op kondisionering en wedstrydgereedheid gaan fokus.

“Elke unie word finansieel uitgedaag. Suid-Afrika is nie ’n uitsondering nie,” het Powell gesê.

“Ons wil die geld gebruik vir moontlike toernooie wat ons kan hou. Ons sal teen einde November, begin Desember kyk na plaaslike spanne teen wie ons kan speel.

“Hopelik kan ons teen Februarie volgende jaar Australië toe gaan, ons isoleer vir tien of 14 dae, en dan ’n dubbelronde-toernooi teen Fidji, Australië, Nieu-Seeland en Samoa oor twee naweke speel.”

Die vooruitsigte vir die Blitse is om hul litte in November los te maak teen plaaslike universiteit- en klubspanne. Daarna is die plan om Kenia, Uganda en Zimbabwe na Stellenbosch te nooi vir ’n week van internasionale wedstryde om uiteindelik volsterkte teenstand te kry.

Meer oor:  Wêreldrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.