Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph SA se beste rugbyspeler

Die veelsydige Springbok-voorspeler Pieter-Steph du Toit is Donderdag vir die tweede keer in drie seisoene as Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Jaar aangewys.

Pieter-Steph du Toit het uitgetroon met sy vertonings vir die Springbokke in 2018. Foto: Getty Images

Du Toit, wat verlede jaar op steelkantflank én slot vir die Bokke uitgeblink het, is slegs die vyfde speler sedert 1992 wat dié prestigeryke toekenning meer as een keer kon verower.

Die ander groot name wat dit al vermag het, is Bryan Habana (2005, 2007, 2012), Schalk Burger (2004, 2011), Jean de Villiers (2008, 2013) en Fourie du Preez (2006, 2009).

Die 26-jarige Du Toit, wat sedert 2013 in 46 toetse uitgedraf het, het sy Bok-spanmaats Aphiwe Dyantyi, Franco Mostert, Handré Pollard en verlede jaar se wenner, Malcolm Marx, om die eerbewys geklop.

Du Toit, wat die Bokke verlede jaar teen Wallis aangevoer het in die VSA, het ’n enorme bydrae in elkeen van sy 14 toetse in 2018 gelewer.

Die statistieke vir dié kragmetings wys dat hy ’n verstommende 202 duikslae uitgevoer, 128 keer met die bal gestorm en 28 keer lynstaanbesit gewen het.

Hy en die loskopstut Steven Kitshoff was die enigste Bokke wat verlede jaar in elke toets gespeel het.

Die vleuel Sergeal Petersen was een van die groot uitblinkers in verlede jaar se Curriebeker-reeks. Foto: Gallo Images

Die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, het in ’n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie hulde aan Du Toit gebring en hom as ’n kanniedood-werkesel, wat nooit tou opgooi nie, beskryf. “Sy bydrae as ’n leier in die span was ook van onskatbare waarde. Hy verdien hierdie toekenning terdeë,” het Erasmus gesê.

Aphiwe Dyantyi het die drieë ingeryg in verlede jaar se Superreeks en is as Suid-Afrika se beste speler in daardie reeks aangewys. Foto: Gallo Images

Die Blitsbokke en hul afrigter, Neil Powell, het ook ’n unieke dubbel behaal deurdat hulle vir die tweede jaar agtereenvolgens as onderskeidelik die Span en Afrigter van die Jaar aangewys is.

Dié nasionale sewesspan het in die 2017-2018-seisoen sy Wêreldreeks-titel op dramatiese wyse suksesvol verdedig.

Die opwindende senter van die Leeus Wandisile Simelane is as die Junior Springbok van die Jaar aangewys, terwyl Nolusindiso Booi as die Vroue-uitblinker van die Jaar bekroon is.

Die WP-spoedvraat Sergeal Petersen is danksy agt drieë in agt wedstryde in die Premierliga van verlede jaar se Curriebeker-reeks as dié kompetisie se beste speler aangewys, terwyl die Valke se Etienne Taljaard danksy 13 drieë in net sewe wedstryde die beste speler in die Eerste Liga was.

* Die volledige lys van pryswenners is:

SA Rugby se Speler van die Jaar: Pieter-Steph du Toit.

SA Rugby se Jongspeler van die Jaar: Sbu Nkosi.

Span van die Jaar: Springbok-sewes.

Afrigter van die Jaar: Neil Powell.

Sewesspeler van die Jaar: Dylan Sage.

Junior Springbok-speler van die Jaar: Wandisile Simelane.

Superrugby-speler van die Jaar: Aphiwe Dyantyi (Leeus).

Curriebeker-speler van die Jaar (Premierliga): Sergeal Petersen.

Curriebeker-speler van die Jaar (Eerste Liga): Etienne Taljaard.

SuperSport-uitdaagreeks-speler van die Jaar: Chris Smith (Pumas).

Cravenweek-speler van die Toernooi: Evan Roos (WP).

Skeidsregter van die Jaar: Jaco Peyper.

Vroue-uitblinker van die Jaar: Nolusindiso Booi.

– Sportredaksie

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.