Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mielieboer-rugby: Weste was wild én taf

1920-2020: Mielieboere vier 100 jaar van kliphard speel – op en van die veld

Wes-Transvaler in Kiwi-land. Johan Claassen (regs) is gereed om bystand te verleen terwyl Popeye Strydom die bal probeer optel in die Boksege van 14-9 oor Otago in 1956. Daan Retief is links. Inlas: Prof Claassen in sy hoedanigheid as spanbestuurder van die Springbokke op hul betogertoer van Nieu-Seeland in 1981.
Leeutemmer 'n legende

Die naam Johan Claassen is si­noniem met die Wes-Transvaal. Die legendariese Springbok, wat verlede jaar op 89-jarige ouderdom dood is, het die Mielieboere van 1950 tot 1962 verteenwoordig, en was kaptein van die span wat in 1955 die Britse Leeus met ’n oorwinning van 9-6 geskok het op Olënpark.

“Wes-Transvaal het oor ’n uitstekende pak beskik,” het Claassen in 2009 in ’n onderhoud aan my gesê.

“Ons het ysters soos Harry Newton Walker en Dick Putter in die voorry gehad, terwyl ek en Stoffel Bosch die slotte was. Ek het een van my Springbok-baadjies aan Stoffel geskenk, want as iemand dit verdien het, was dit Stoffel.

“Hy was ’n skagdrywer op die myn, en waarskynlik die taaiste ou met wie ek saamgespeel het.”

Claassen self het eers in 1955 sy Springbok-kleure verwerf, aangesien hy vir ’n klein unie soos Wes-Transvaal gespeel het. Hy sou uiteindelik in 28 toetse uitdraf, maar het regdeur getrou gebly aan sy herkoms.

Ek het van die standpunt uitgegaan dat as ek ’n Springbok moes word, sou ek uit Potchefstroom een word . . .
Johan Claasen

“Ons het in 1950 teen Transvaal gespeel en ek het blykbaar nie te sleg gevaar nie,” het Claassen vertel.

“Agterna het die oud-Springbok en keurder Jan Lotz my probeer oorhaal om Krugersdorp toe te skuif en vir Transvaal te speel. Ek het egter daarteen besluit, aangesien ek geglo het dat God ’n mens se lot bepaal.

“Ek het van die standpunt uitgegaan dat as ek ’n Springbok moes word, sou ek uit Potchefstroom een word . . .”

Claassen se besluit was Potch se wins, en die inspirerende en opbouende invloed wat hy in Wes-Transvaal gehad het, was merkwaardig.

Daarvan getuig die loskopstut Jan Heenop (84), wat vir ’n rekord van 22 jaar klubrugby vir Potch Dorp gespeel het, tot op die ryp ouderdom van 42, en ook ’n dosyn keer vir Wes-Transvaal uitgedraf het in die jare 60.

“Een van my eerste wedstryde was teen Boland, en ek moes teen die veteraan-Springbok-stut Chris Koch sak,” onthou Heenop.

“Johan het egter vir my gesê, ‘Ag, ou Jan, daar word niks meer van jou verwag as om net jou gewone spel te speel nie.’

“Dit het my onmiddellik op my gemak geplaas, en ek het uitstekend gevaar teen Koch.”

Wyle Dick Putter, een van die helde van Wes-Transvaal se sege oor die Britse Leeus in 1955, het in 1963 sy Springbok-kleure verwerf teen Australië.

“Dick Putter was my oom, en hy was ’n ondeunde maar ongelooflike mens wat geen bang haar op sy kop gehad het nie,” vertel Jannie Putter, die bekende motivering­spreker en ‘kopdokter’, wat self 76 keer vir Wes-Transvaal uitgedraf het (1987-’92).

“Hy was vreesloos, byna roekeloos waaghalsig. Sy spanmaats vertel hoe hy ‘wegkruipertjie’ gespeel het en op die trein se dak rondgehardloop het wanneer hulle na Rhodesië getoer het, en hoe hy ’n handstand gedoen het op die reëling by die Victoria-waterval . . .

“Daar is talle stories van sy verbysterende krag en vaardigheid; hy was sterker as wat hy groot was.”

Dis ook waar van Luiperds Rugby. Wes-Transvaal moes oor die jare meestal ’n Dawid-teen-Goliat-stryd voer, maar het by geleentheid van die groot unies sleg op hul neus laat kyk.

Volgens Putter het dit grootliks te doen gehad met geestelike taaiheid.

“Alles gaan oor wat ’n mens glo,” meen hy.

“Die spansinergie het ’n reuse-impak op die prestasie van ’n span. Die outoriteit van sekere spanmaats maak dat ’n mens ’n groter geloof het; as hulle glo, kan jy ook.

“Uiteindelik gaan dit oor mindset; jou ingesteldheid. Ons het destyds gesê: ‘Die opposisie is mense, nes ons . . . Hulle moet eet, slaap, $#% en @#$ . . .’

“En die ‘grap’ agter alles het dikwels die ‘krag’ agter hul naam verminder.

“Die gehardheid van die vroeër jare se spelers het vir seker bygedra tot hul sielkundige taaiheid.

“Die eenvoud van daardie tyd het hulle eenvoudig ‘gemaklik’ gemaak, en die brute geweld (krag) was destyds natuurlik ’n groot voordeel wat van sommige spelers legendes gemaak het – spesifiek omdat hulle so ‘hard en stout’ was . . .”

Een legende wat opgesom kan word as ‘hard en stout’, was Jan Tromp (77), wat in die vroeë jare 70 in bykans 50 wedstryde op slot gesak het vir Wes-Transvaal.

Op die vraag wie sy moeilikste teenstanders was, het Tromp droogweg geskerts: “Daar was ’n paar, maar ek was mos darem mooi groot en sterk. Daar was nooit ’n ou vir wie ek rêrig bang was nie.

“Hulle moes my maar bekruip.

“Wat wel waar is, is dat ons teen die groot unies, met al hul Bokke, moes speel dat dit bars.”

Daai tyd het die manne mekaar nog rondgestoot. Die lynregter het nie ’n sê gehad nie, so as die ref jou nie gesien het nie . . .
Jan Tromp

Veral Tromp se slot-tweestryd met Moaner van Heerden, wanneer Wes- en Noord-Transvaal mekaar gepak het, was indrukwekkend.

“Moaner het by afskoppe ’n manier gehad om op ’n ou af te storm en jou dan te loop voordat jy nog die bal kon vang,” onthou Tromp.

“Ek het egter die storie so uitgekyk en hom ’n slag goed platgemaak.”

Hoewel hulle saam met ‘Oom Jan’ vir Wes-Transvaal gespeel het, het die Pukke ’n doodse ontsag vir Tromp gekoester wanneer hy vir Klerksdorp teen hulle gespeel het. (Tromp het met mielies by Hartbeesfontein geboer.)

“Ja, ons het die Pukke redelik rondgestoot. Ockie Oosthuizen en André Markgraaff was nog jong outjies.

“Markies sê nou nog die hoogtepunt van sy loopbaan was toe hy hoor dat ek gaan ophou speel.”

Vandag: Jan en Rita Tromp

Een van Tromp se gunsteling-spanmaats was die woelige haker van die Weste, wyle Warren Jevon.

“Warren was ’n besonderse ou, vreesloos en lekker om aan jou kant te hê,” vertel Tromp. “Hy het daarvan gehou om te ‘mix’, en het net vir my gesê ek moet hom ‘back’.

“Daai tyd het die manne mekaar nog rondgestoot. Die lynregter het nie ’n sê gehad nie, so as die ref jou nie gesien het nie . . .”

Dan was dit oorlog.

Die hoogtepunt van Tromp se loopbaan was toe Wes-Transvaal teen Willie John McBride se Leeus gespeel het in 1974.

“Die destydse staatspresident, Jim Fouché, het die manne voor die afskop kom groet op die veld,” onthou Tromp.

“Hy was so ’n vriendelike oompie, en toe ek sy hand vat, sê ek: ‘President, vandag vat ons die Boereoorlog weer oor.’

“Hy’t dit vreeslik geniet.”

Mielieboere se Bokke
  • Bokke opgelewer uit unie: Nic du Plessis, Hans Aucamp, Champion Myburgh, Jack van der Schyff, Harry Newton Walker, Dick Putter, Johan Claassen, Lofty Nel, Albie Bates, Johan van der Schyff, Dirk de Vos, Paul Durand, Flippie van der Merwe en Botha Rossouw.
  • Spelers wat die unie verlaat het en Bokke geword het: Ockie Oosthuizen, Gert Smal, Deon Oosthuysen, Kobus Wiese, Robert du Preez, Schutte Bekker, Marius Hurter, Henry Tromp, Henno Mentz, Tiaan Liebenberg, Franco van der Merwe, Gerhard Mostert, Lood de Jager, Akker van der Merwe.
  • Springbok-afrigters en -hulpafrigters: Johan Claassen, John Williams, André Markgraaff, Gert Smal, Matt Proudfoot.

Puk-rugby het in die jare 70 en 80 tot sy reg gekom, en heelwat sterre opgelewer vir Wes-Transvaal. ’n Aantal van hulle het, nadat hulle die unie verlaat het, ook Springbokke geword.

Een so ’n speler is Gert Smal, die uitblinker-flank wat as “Tarzan” bekend gestaan het, en vir sowel Suid-Afrika gespeel as help afrig het.

Smal het in 1980 op 19-jarige ouderdom reeds sy buiging vir die Mielieboere gemaak in ’n wedstryd teen SWA in Windhoek, waar hy met die intrapslag twee drieë gedruk het.

“Ek sal die wedstryd egter nooit vergeet nie, omdat ons vliegtuig amper geval het,” onthou Smal vanuit Japan, waar hy Toyota Verblitz help afrig.

“Ons was ongeveer 20 minute uit Johannesburg toe die glasie Coke voor my skielik deur die lug trek en die lugwaardin se trollie met mening in die gang afrol.

“Blykbaar het die pompie wat lugdruk binne die kajuit beheer, ingegee, en die vlieënier, ’n kapt. Joubert, moes ’n nooddaling van 32 000 voet na 2 000 voet uitvoer om te verhoed dat die vliegtuig disintegreer.

“Die wedstryd kon eers die daaropvolgende naweek plaasvind, maar die ouens was nie juis gretig om weer te vlieg nie.”

Volgens Smal was sy vier seisoene by Wes-Tranvaal ongelooflik lekker en ’n waardevolle leerskool.

Die afrigter wat die grootste invloed op sy loopbaan gehad het, was James Stoffberg.

“Net die manier waarop hy spelers gehanteer het; ons het ’n uitstekende rapport met hom gehad,” vertel Smal.

“Dit was James wat my ook gehelp het met my liggaamsbou as jong speler. Ek het aanvanklik heelagter gespeel op skool, en het maar 93 kg geweeg toe ek by die Puk aangekom het. James het my ’n piramide-program laat volg, waarmee ek lyf kon aansit vir Curriebekerrugby.”

Nog ’n Wes-Transvaler wat Bok geword het nadat hy groener (en gouer) weivelde opgesoek het, is Robert du Preez.

Die voormalige Haai-breier is dit eens dat Stoffberg, wat Rusland in ’n stadium afgerig het, ’n onderskatte afrigter was.

“James was my mentor, en soos ’n pa vir baie van ons,” sê hy. “Ek kon altyd by hom aanklop vir advies, selfs nadat ek weg is by Wes-Transvaal.

“Hy’t my ook my groot deurbraak gegee in 1982.

“Ek was met vakansie by die see toe die Wes-Transvaal-keurders my bel om te sê ek moet vir die B-span se wedstryd teen Noord-Vrystaat terugkom. Ek het sommer die Saterdagoggend deurgery, en toe ek by die veld aankom, het James my op die bank gesit vir die A-span.

“Ná skaars vyf minute het Tjaart Marais seergekry, en moes ek opgaan as losskakel om my Curriebeker-debuut te maak.”

Meer oor:  Albert Heenop  |  Gert Smal  |  Robert Du Preez  |  Rugby  |  Luiperds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.