Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake White: ‘Dit was weerlig-vrees!’

Rugbyafrigters het al menige interessante redes (want “ons maak nie verskonings nie”) vir so-so vertonings gegee, maar Jake White het gisteraand wrintiewaar met iets nuuts vorendag gekom.

Bulle
Die Bulle se binnesenter, Cornal Hendricks, beur doellyn toe met die Cheetahs se Rosko Specman op sy rug. Foto: Gallo Images

Die Bulle se louwarm eerste helfte teen die Cheetahs was die weer se skuld, verduidelik White.

“Voor die wedstryd het die weervoorspelling gesê daar is ’n kans op ’n donderstorm. Ek het vir die ouens gesê ons moet sorg dat ons teen rustyd voor is, sodat ons kan wen as die wedstryd afgelas sou word.”

Die Bulle se wedstryd op Loftus Versfeld teen die Stormers is vroeër die seisoen in die tweede helfte weens weerlig afgelas. Griekwas was ook die slagoffer van die weergode in hul kragmeting met die Leeus in Kimberley.

“Ons het gesien hoe die weer wedstryde vanjaar al beïnvloed het. Ek dink toe ons in die eerste helfte met 13-3 voorgeloop het, het ons dalk sielkundig besluit om te begin verdedig, sodat ons nie teen rustyd agter moes wees nie,” sê White.

Hulle was nie agter nie, maar die rustydtelling was 13-elk. En selfs Hawies Fourie, die Cheetahs se breier, het erken sy span het nie goed gespeel in die eerste 40 minute nie.

Dit was wel waar die Bulle se so-so-rugby end gekry het. In die tweede helfte het hulle self soos ’n donderstorm gespeel en die wedstryd met 40-13 beklink.

“Die tweede helfte was skitterend. Alles wat ons geoefen het, het uitgewerk. Ons het terug in ons sisteem gekom en ons plaasvervangersbank het ook ’n verskil gemaak,” sê White.

Impakspelers soos die Springbokke Trevor Nyakane en Nizaam Carr en ’n toekomstige Bok in Ruan Nortjé het die Bulle gehelp om die Cheetahs te bêre.

White was verheug om te sien dat sy span weer, soos verlede week teen die WP, kon aanpas. Dié keer net op ’n ander manier.

“Verlede week het ons met karakter gespeel toe ons (weens ’n rooikaart) net 14 spelers op die veld gehad het. Vanaand het ons nodig gehad om goed te speel in die tweede helfte en toe kon ons selfs in die laaste vyf minute hard druk om die bonuspunt te kry.

“Dit is goed om sulke boublokke in plek te kry. Ons gaan weer in ’n posisie wees waar ons ’n bonuspunt moet jaag, en nou weet ons ons kan dit doen.”

Daar sal wel vrae wees oor die vaskopstut Marcel van der Merwe se skrumwerk. Die onbesonge Boan Venter het hom verfomfaai en die Bulle is meer as een keer in dié afdeling gestraf.

Jake White

Die Bulle was duidelik kwesbaar in die skrums toe Van der Merwe op die veld was en dit het meegebring dat Nyakane reeds voor rustyd opgestuur is om die skade te beperk.

White het vir Van der Merwe in die bres getree en gesê hy bly steeds ’n speler van gehalte. In dieselfde asem het hy Nyakane vir sy bydrae geloof.

Fourie sê Venter se skrumwerk was al waarmee hy in die eerste helfte tevrede was.

“Ons het hulle gedwing om vir Marcel af te haal en vir Trevor op te stuur. Boan het baie goed geskrum, maar dis ’n spanpoging.”

Terwyl die Bulle nou ’n buffer boaan die puntelys het, sal die Cheetahs moet sorg dat hulle die Leeus volgende week klop om hul lot in hul eie hande te hou.

“Ons het die seisoen goed begin, maar baie spelers aan beserings afgestaan. Die span is uitgedun, maar ons sal karakter moet toon as ons wil terugkom,” sê Fourie.

“Ons speel gelukkig tuis teen die Leeus, maar dit gaan ook ’n taai wedstryd wees. Dit is tussen ons en die Leeus vir daardie vierde plek, so dit gaan belangrik wees dat ons goed vertoon.”

Die Bulle, daarteenoor, glimlag breed oor hul lot wat in hul eie hande is. Dit lyk of enigiemand wat vanjaar die Curriebeker wil wen, Bul se kind op Loftus sal moet gaan aandurf. En dan bid vir weerlig.

  • Bulle (40) Drieë: Embrose Papier, Marco van Staden (2), Chris Smith. Strafdoele: Morné Steyn (4). Doelskoppe: Steyn (2),  Smith (2). Cheetahs (13) Drie: Reinhardt Fortuin. Strafdoele: Frans Steyn (2). Doelskop: Steyn.

Meer oor:  Weerlig  |  Jake White  |  Cheetahs  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.