Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
White glo Bulle se diepte gee deurslag
’n Losskakel van wêreldgehalte in Johan Goosen, tesame met goeie diepte, maak van die Blou Bulle tans ’n uiters gedugte rugbyspan. Foto: Gallo Images

Dit verg diepte om toernooie te wen en in daardie opsig bevind die Blou Bulle en Westelike Provinsie hulle tans in verskillende wêrelde.

Jake White, die Bulle se afrigter, glo dis juis wat sy span tans so gevaarlik maak, terwyl sy eweknie van die Kaap, John Dobson, ’n stryd voer om sy spelersbasis voor die Verenigde Rugbykampioenskap uit te bou.

Die Bulle het die WP Vrydagaand in hul Curriebeker-wedstryd op Nuweland met 34-13 geklop. Scarra Ntubeni, die WP se haker, het vier minute voor rustyd ’n rooi kaart vir ’n hoogvat op Zak Burger gekry en die koeël was toe deur die kerk.

Meer so omdat die WP besig was om sy vierde wedstryd binne 14 dae te speel en voor die afskop waarskynlik al effens vuisvoos was.

Ntubeni se rooi kaart was ’n ietwat omstrede beslissing, want daar was nie doelbewuste geniepsigheid betrokke nie, maar White voel tog dit was die regte besluit.

Dobson wou nie sterk standpunt inneem nie, maar het ook verwys na ’n voorval waar die bal uit Evan Roos se hande geskop is toe die WP-agtsteman in die proses was om ’n drie te druk. Dit is deur die TV-skeidsregter oor die hoof gesien.

“Ek weet nie of jy ’n bal só kan wegskop nie. Dit was op ’n kritieke tydstip. Ons het toe net 14 spelers op die veld gehad. Dit was nóg ’n groot besluit,” sê Dobson.

Ek weet nie of jy ’n bal só kan wegskop nie. Dit was op ’n kritieke tydstip. Ons het toe net 14 spelers op die veld gehad. Dit was nóg ’n groot besluit.
John Dobson

Was daar ’n strafdrie en gepaardgaande geel kaart sou die WP drie punte voor gewees het en nog ’n buitekans gehad het om te wen.

Maar dit sal ’n oppervlakkige beskouing wees om aan te voer dat swak beslissings die WP gekelder het, want die Bulle was die beter span op die veld.

White sê daar’s selfvertroue onder sy spelers en ook vertroue in hul wedstrydplan.

“As jy boonop mededinging om posisies het, wíl spelers goed speel. Dis ’n baie goeie posisie om in te wees. Cornal Hendricks het vleuel toe geskuif en baie goed gespeel. Niks keer ons egter om hom terug binnesenter toe te skuif en ander kombinasies op die proef te stel nie,” sê die Bul-breier.

Jake White

“Die afrigters het hard gewerk aan kombinasies en die interne wedywering om plekke is fantasties. Dís waarskynlik die rede waarom die spelers mekaar só goed vind. Om hierheen te kom en ’n bonuspunt-oorwinning te behaal en só goed te speel, vestig baie selfvertroue in die groep en skep ook goeie herinneringe. Dit dui op goeie dinge wat vir die unie voorlê.”

Die WP is in sleutelposisies, veral onder die skakels en voorryspelers, ’n besering weg van ’n krisis.

Dobson is egter nie pessimisties oor die pad vorentoe nie. Hy meen daar is tekens van groei en die WP gaan na verwagting nog ’n losskakel aanskaf. Die naam van die Haaie se Manie Libbok word genoem, maar of daardie aanwins die WP die soort inspuiting sal gee wat die Bulle by Johan Goosen gekry het, is te betwyfel.

“Ek het hoop vir dié span. Ons het ’n paar tuiswedstryde wat voorlê (teen die Cheetahs, Pumas en Leeus). Ek’s redelik optimisties dat ons enduit in die toernooi in die stryd gaan bly,” sê Dobson.

“Ons het binne die bestek van 14 dae vier wedstryde gespeel. Dit kan nie weggewens word nie. Dis taai en ons moet die spelers se welsyn in aanmerking neem. Die energie wat hulle getoon het, wys vir my dat dit ’n baie goeie span gaan word.”

Meer oor:  John Dobson  |  Jake White  |  Johan Goosen  |  Kaapstad  |  Pretoria  |  Afrigter  |  Losskakel  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Wp  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.