Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
White se knip en plak besiel Bulle
Hallo ou pêl, welkom op Loftus. Die Bul-kaptein, Duane Vermeulen, pen die Haaie-flank Henco Venter op die gras neer. Foto: Anton Geyser/Gallo Images

Jake White het die Bulle vandeesweek op ’n spesiale manier gemotiveer vir hul wedstryd teen die Haaie op Loftus Versfeld.

“Ek het die mediaverklaring van die nuus dat daar ’n Noord/Suid-eindstryd in die Reënboogbeker-reeks gaan wees, uitgeknip en teen die spankamer se muur geplak,” het White gisteraand ná die wedstryd gesê.

En hoe goed het dít nie gewerk nie. Die Bulle het die Haaie – wat ook voor gisteraand onoorwonne was – met 43-9 oorrompel.

“Die spelers weet daar is iets om voor te speel en hopelik kry ons die kans om onsself teen ’n span van die Noordelike Halfrond te meet.”

Selfs al eindig die Bulle bo aan die puntelys ná die plaaslike Reënboog-wedstryde, sal die eindstryd nie op Loftus wees nie.

Soos die Bulle tans op Fort Loftus speel, is dít ’n seën vir enige Europese span.

Gaaf, sedert die groot pandemie verlede seisoen toegeslaan het, het daar nog nie weer ’n span soos die Crusaders in Pretoria besoek kom aflê nie.

Dit sal ook nog ’n ruk wees voordat ’n grote soos Leinster in die hoofstad aandoen.

So onstuitbaar soos wat die Bulle deesdae op Loftus Versfeld is, sal dit nietemin vir enige besoekende span ’n steil berg wees om uit te klim.

White het die Haaie die afgelope week lekker heuning om die mond gesmeer, maar sy Bulle was gisteraand op hul tuisveld nie in ’n bui om hulle verder te vlei nie.

Dit was veral in die tweede helfte dat Duane Vermeulen en sy span korte mette gemaak het van die besoekers.

Die Bulle het 31 punte onbeantwoord opgestapel nadat hulle teen rustyd ’n voorsprong van 12-9 gehad het.

Lizo Gqoboka en Zak Burger van die Bulle vier die sege oor die Haaie. Foto: Gallo Images

Daar is vele maniere om ’n rugbywedstryd te wen.

Gisteraand op Loftus het nie die Bulle of die Haaie aanvanklik daarin belang gestel om hul kragmeting met aanvallende rugby te wen nie.

“Ons het hulle stadig onder gekry. Dit en die lugdruk het gehelp. Hulle het amper alles oorheers in die eerste helfte. Dit was frustrerend,” sê White.

Die eerste helfte was by uitstek ’n skop- en skrumstryd met albei spanne wat in dié faset ’n kans wou melk om aan te lê pale toe.

Gebiedsvoordeel was prioriteit nommer een en in die proses het Morné Steyn dinge op die telbord vir die tuisspan met vier strafdoele aan die gang gehou.

Sy direkte teenstander, Curwin Bosch, se bydrae was nege punte voor rustyd. Kyk jy na die telbord, was die Bulle in die kol met die benadering en die Durbaniete minder so.

Dit beteken die Bulle is in die White-era onoorwonne in die hoofstad en die Curriebeker-kampioen is met dié vertoning ook nou die voorloper in dié reeks.

Daar sal vrae wees oor die besluit om die Haaie se stutte, Ox Nche en Thomas du Toit, te vervang toe Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane opgestuur is.

Veral Gqoboka was briljant en is ook met ’n drie beloon.

Die jong Elrigh Louw was iets ysliks nadat hy die flank Arno Botha vroeg in die wedstryd vervang het.

Die slot Ruan Nortjé se reputasie groei Saterdag ná Saterdag en die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, moet sekerlik in sy rigting begin kyk met Lood de Jager en RG Snyman wat albei nog beseer is.

Nortjé en Walt Steenkamp kan, op grond van hul eerste paar vennootskappe, ’n gedugte kombinasie vir die Ligbloues word.

Maar die aand het behoort aan die veteraan-generaal Morné Steyn wat weer knap aan die stuur van sy span se aanslag was.

Vir die Haaie se afrigter, Sean Everitt, was daar min om oor opgewonde te wees.

“Ons was goed in die eerste helfte, maar in die tweede het ons nie ’n skoot afgevuur nie,” sê hy.

“Strafskoppe het ons doodgemaak en die Bulle se voorspelers het ons oorheers. Ons het gesukkel om hulle te stuit. Ek is baie teleurgesteld met hoe hulle ons oordonder het.”

  • Bulle (43) Drieë: Lizo Gqoboka, Stravino Jacobs, Schalk Erasmus, Chris Smith.  Strafdoele: Morné Steyn (5).  Doelskoppe: Steyn, Chris Smith (3).
  • Haaie (9) Strafdoele: Curwin Bosch (3).

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.