Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake White sien uit na ‘hardste WB nóg’

Meer as vyf spanne het ’n redelike kans om die Wêreldbeker-toernooi te wen en daarvoor verdien Wêreldrugby ’n pluimpie, skryf Jake White, voormalige Springbok-afrigter.

In sy rubriek op All Out Rugby sê White vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan, wat van 20 September tot 2 November plaasvind, gaan die mededingendste WB tot nog toe wees.

Jake White in 2007 met die Webb Ellis-trofee nadat Suid-Afrika die Wêreldbeker-toernooi gewen het. Foto: Gallo Images

“As jy enigiemand in Cardiff vra, sal hulle vir jou sê Wallis, die Sesnasies-kampioene, gaan die Wêreldbeker wen,” skryf White, wat die Bokke in 2007 tot WB-glorie gebrei het.

“Wallis se segetog van 14 toetse het ’n rekord van 100 jaar verbeter, hulle is tweede op die wêreldranglys en werklike mededingers om die titel.

“Derde op die ranglys is Ierland, die Europese kampioene van ’n jaar gelede en die een span met ’n positiewe vertoningslys teen die All Blacks ná die laaste Wêreldbeker-toernooi.”

White skryf Engeland sal boonop onkeerbaar wees as hulle weer hul goeie spelpeil van ’n paar jaar gelede bereik, terwyl Suid-Afrika en Australië albei boonop reeds twee keer die beker gewen het.

“Die Wallabies het in 2015 tweede geëindig en die Bokke is positief nadat hulle die All Blacks verlede jaar in Wellington geklop het.

“Skotland het die Wallabies twee keer in 2017 geklop. Al sukkel Frankryk op die oomblik, was hy al drie keer in die eindstryd.

“Die All Blacks is die gunsteling om die titel vir ’n derde agtereenvolgende keer te wen, maar die gaping is baie kleiner as vier jaar gelede toe daar daglig tussen Nieu-Seeland en almal anders was.

“Dit is een van die redes waarom almal opgewonde is vir die 2019-toernooi – daar is meer as vyf spanne met ’n redelike kans om die toernooi te wen.”

Dit is ongelooflik dat die negende Wêreldbeker-toernooi, wat vir die eerste keer in ’n Asiatiese land aangebied word, die mededingendste gaan wees, sê White.

Ons soek nie ’n sport waar 100 spanne speel, maar slegs drie kan nie die beker lig nie.
Jake White

“Dit is iets om op trots te wees en as jy ’n oudit op die spel doen wat op die skouspel gegrond is, sou jy moet sê rugby is in ’n wonderlike toestand.”

White sê Wêreldrugby, die spel se beheerliggaam, is ’n maklike teiken vir mense wat wil fout vind, maar “dit is omdat baie van die werk agter die skerms ongesiens verbygaan”.

“Al word Wêreldrugby gereeld gekritiseer omdat hulle nie genoeg hulp aan tweede- en derderangse lande verleen nie, bestee hulle in die omgewing van £25 miljoen (R460 miljoen) per jaar aan toelae.

“Ongeveer R90 miljoen word bestee om die Suidsee-eilandspanne van Tonga, Samoa en Fidji elke jaar by te staan.”

Volgens White wil Wêreldrugby ’n spel skep waar verskeie spanne ’n kans het om op die grootste verhoog te wen.

“Ons soek nie ’n sport waar 100 spanne speel, maar slegs drie kan nie die beker lig nie.” – Sportredaksie

Meer oor:  Jake White  |  Wêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.