Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Whiteley: ‘Ek bly klou aan hoop’

Warren Whiteley het nog nie heeltemal ophou hoop dat hy weer eendag op ’n rugbyveld sal uitdraf nie.

“Maar ek kry al hoe meer vrede in my hart daaroor dat dit dalk nie weer vir my beskore sal wees nie,” sê die voormalige Springbok-kaptein.

Warren Whiteley is deesdae in ’n waterdraers-hempie wanneer die Leeus speel, maar hy sê sy rol as afrigter verdof die pyn van die onsekerheid oor sy loopbaan. Foto: Gallo Images

Die 33-jarige Whiteley is sedert Mei verlede jaar op die kantlyn nadat hy sy linkerknie ernstig beseer het in ’n Superrugby-wedstryd. In die eerste maande daarna het die Leeus hom as hulpafrigter begin inspan, en begin vanjaar is hy amptelik in hul afrigterskorps ingesluit om die lynstane te brei.

Dít, sê hy nou, was sy reddingsboei.

“Ek is mal oor die afrigting. Ek kry soveel vreugde daaruit om die spelers te sien beter raak en presteer, om te sien hoe hulle groei as spelers en as mense. Dis lekker om te dink ek het so ’n bietjie bygedra tot hul ontwikkeling,” sê Whiteley.

As jy ’n coach is, of ’n teacher van enige aard, kan jy ’n verskil maak in iemand se lewe.

“Ek is dankbaar dat ek die kans gekry het en ek kan voel hoe ek ook beter raak as afrigter. Ek kan myself dit vir baie lank sien doen, want ek dink dis so ’n spesiale ding. As jy ’n coach is, of ’n teacher van enige aard, kan jy ’n verskil maak in iemand se lewe. Dit was nog altyd vir my lekker om dit te doen.”

Whiteley was die leier van ’n Leeus-span wat drie agtereenvolgende Superrugby-eindstryde gehaal het. Hy en sy spanmaats het altyd beklemtoon dat hul hooftaak was om mense te inspireer en ’n verskil te maak. Dit is ’n filosofie wat steeds sterk staan by Ellispark.

Oor hoe die voorreg van afrigting ook ’n verskil in sy lewe gemaak het, is Whiteley eerlik.

Dít, sê hy, is wat gekeer het dat hy in sak en as gaan sit toe die eerste donker gedagtes aan die einde van sy speeltyd begin vorm het.

Warren Whiteley en die stut Steven Kitshoff nadat die Springbokke in 2018 in Wellington oor die All Blacks geseëvier het. Die agtsteman sou daarna net twee keer weer die Bok-trui aantrek, vir ’n totaal van 23 toetse.Foto: Gallo Images

“Dit is ’n seëning, want dit help my soms vergeet van die vraagteken oor my eie loopbaan,” sê hy. “Maar dan hardloop ek weer ’n paar treë saam met die ouens of ek raak opgewonde oor iets, en ek voel my knie seer raak. Dan onthou jy vinnig hoekom jy nie ook saam met die ouens uitdraf nie en dat daar een of ander tyd weer ’n operasie voorlê.

“Ek het altyd gedink as ek moet klaarmaak nadat ek 10 of 12 jaar beroepsrugby gespeel het, sal dit ’n heel maklike oorgang wees na wat ook al daarop volg. Maar nou is ek in daardie werklikheid.

“Meer as ’n dekade lank was rugby wat ek elke dag gedoen het en toe skielik word dit van my weggeneem. Skielik moet ek daaraan dink dat dit vir ewig verby is, en dis scary, dis nie so maklik om te aanvaar soos ek voorheen sou dink dit gaan wees nie.

“In ’n mate is die moeilikste ding dat dit voel of jy opgee as jy dink dis beslis verby. Ek klou die laaste jaar aan enige moontlikheid wat daar is dat ek weer sal kan speel.”

Whiteley sê hy sal “tien teen een” weer aan sy knie moet laat opereer, maar hy stel ’n besluit daaroor in die stadium nog uit.

“Ek wil op my voete wees wanneer ek afrig, en as ek laat opereer, sal ek so agt weke op krukke wees. So vir nou is ek geduldig en fokus ek 100% op die span. Sodra die Curriebeker klaar is, sal ek begin dink aan wanneer ek die knie kan uitsorteer.”

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Leeus  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.