Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Whiteley het nog nie WB-droom laat vaar
Warren Whiteley (middel) in Junie by die bekendstelling van ’n fotoboek oor die Springbokke se omstrede rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981. Links is die oud-Bokkaptein Wynand Claassen en regs Claassen se seun Antonie, wat vir Frankryk toetsrugby gespeel het.Foto: Gallo Images

Warren Whiteley dink niks verder as die volgende vyf minute wanneer dit by sy rugbyloopbaan kom nie.

Dié voormalige Springbok-kaptein en agtsteman van die Leeus, het Dinsdag die sluier gelig oor wat hy as ’n baie emosionele en uitdagende tydperk in sy loopbaan beskryf.

Hy is die laaste twee jaar kwaai deur beserings gery en erken hy het verpletter gevoel oor die beseringspook wat hom so bloots ry.

“Ek stel wel vir my sekere doelwitte in my rehabilitasie, maar op die oomblik vat ek dinge letterlik vyf minute op ’n slag,” het hy Dinsdag gesê.

Ek stel wel vir my sekere doelwitte in my rehabilitasie, maar op die oomblik vat ek dinge letterlik vyf minute op ’n slag.
Warren Whiteley

Whiteley was by die aankondiging dat die lugdiens Emirates sy Leeus-borgskap vir nog vyf jaar gaan verleng.

Tog sal hy wat wil gee as hy weer vir die Springbokke se toets op Loftus Versfeld op 17 Augustus teen Argentinië oorweeg kan word.

Daarvoor hoop hy ook om dalk die voorafgaande week, 10 Augustus, sy terugkeer tot die speelveld vir die Leeus teen die Bulle op Ellispark te kan maak in die Curriebeker-reeks.

“Ek vat dinge egter maar stadig en moet na my liggaam luister,” sê Whiteley, wat weens sy kniebesering nog nie fisieke kontak op die oefenveld kan maak nie.

“Ek voel ondanks alles goed en positief en ja, die Wêreldbeker later vanjaar is gewis ’n doelwit van my.

“Tog dink ek nie nou té veel daaraan nie. My fokus moet net wees om die volgende stap te doen in my rehabilitasie,” sê hy.

Whiteley erken hy het ’n fout gemaak om vroeër hierdie seisoen sy terugkeer teen die Waratahs op Ellispark te gemaak het.

“Daar was voor daardie wedstryd so ’n klein gaatjie in my knieligament, en tydens daardie wedstryd het ek dit vererger toe ek met die bal wou hardloop.

Dit is emosioneel baie uitdagend, want jy moet sit en kyk hoe die ander ouens speel.
Warren Whiteley

“Ek het iets in die knie gehoor terwyl ek hardloop en het maar net gebid dit was nie te ernstig nie. Tog het die gaatjie veel groter geword en die uiteinde was dat dit geopereer moes word.

“Die laaste twee jaar het ek gewoond geraak aan beserings en die terugslae wat dit bring. Dit is emosioneel baie uitdagend, want jy moet sit en kyk hoe die ander ouens speel.

“Tog het ek maniere geleer om dit te hanteer en verwerk. In die begin het dit my ’n week of langer gevat om so iets te aanvaar, maar nou raak dit makliker om berusting te vind.

“Jy raak geestelik veel sterker. Met sulke dinge is daar nie enige grysgebied nie. Dit is of ’n donker diep gat wat jou breek, of jy kan steeds die son sien en dit maak jou sterker.

Rudolf Straeuli

“Tog wil ek weer terugkom op die speelveld en sien of ek weer al die dinge kan doen wat ek voorheen gedoen het. Jy moet jouself egter maar inhou en dinge stap vir stap vat,” sê hy.

Wat die Bokgroep betref, sê Whiteley die talent wat nou daar is, is van hoogstaande gehalte.

“Ek was Saterdag saam met my gesin in die paviljoen met die toets en het daarna gekyk soos ’n ware Bok-ondersteuner. As speler vergeet jy dikwels wat die Springbokke vir die ondersteuners beteken en hoe hulle reageer op hoe die Bokke vertoon,” gee hy toe.

Wat die borgskap-aankondiging betref, het Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, gesê dit is raar om ’n borgskap van hierdie aard te hê, wat al ’n dekade lank strek.

Die aanvanklike borgskap is vyf jaar gelede onderteken, en met die verlenging van vyf jaar, sal dit nou die dekade-merk bereik.

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Johannesburg  |  Besering  |  Leeus  |  Springbokke  |  Kaptein  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.