Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-groep: Allister wil kook met Leeus-resep

Meer gevestigde kombinasies, onder aanvoering van ’n besielende leier, wat ’n duidelike en eenvoudige wedstrydplan nastreef.

Die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, by die bekendmaking van sy groep vir die Junie-toetsreeks teen Frankryk. Foto: Gallo Images

Allister Coetzee, die Springbok-afrigter, het Dinsdag gesê hy wil ’n herhaling van sy span se rampspoedige 2016-seisoen vanjaar met hierdie bestanddele verhoed.

En die Bokke kan selfs ’n groter aanvallende ingesteldheid hê, het hy aangedui.

“Die spankultuur gaan beslis beter wees en ons benader die seisoen anders. Jy is nooit te oud om te leer nie en dit was vir my belangrik om spelers wat deurgaans goeie vertonings lewer, te beloon.”

Dis waarom nege Leeus in die groep van 31 gekies is en die maanhare se kaptein, Warren Whiteley, ook die Bokke in aanstaande maand se toetsreeks teen Frankryk sal aanvoer.

As jy kyk wat in Superrugby gebeur het met die aanvallende ingesteldheid van ons franchises, dui dit die pad aan.
Allister Coetzee

Die ander groot brandpunt is die terugkeer van die vergete wonderkind van Suid-Afrikaanse rugby, Frans Steyn.

Coetzee sê gevestigde kombinasies was verlede seisoen een van die span se tekortkominge. 

“As jy holisties na die spel kyk is ’n kombinasie van spelers soos Warren, Courtnall Skosan, Andries Coetzee en Ross Cronjé ’n troefkaart in gebroke spel.

“Ek het ’n fantasiese geleentheid om daarby te hou. Ek het spelers soos Ross en Andries beloon omdat hulle deurgaans bestendig was, maar ook omdat hulle deel uitmaak van ’n baie ervare kombinasie (by die Leeus).”

Die Bok-breier het Whiteley en Duane Vermeulen, wat slegs een van vier oorsese spelers is wat die groep gehaal het, as ’n “logiese kombinasie” in die lostrio beskryf.

Warren Whiteley is die nuwe Springbok-kaptein. Foto: Gallo Images

“Toe ek op Warren as my kaptein besluit het, het ek hom eerstens gekies op grond van sy skitterende vertonings op agtsteman.

“Ek het verskeie kere met Duane gepraat. Dit is nie ’n moeilike besluit wie waar moet speel nie, omdat hulle mekaar goed komplementeer.

“Duane speel in elk geval baie soos ’n 7-flank. Hy verdedig sterk, is ’n goeie baldraer en kan grond toe speel.

“Met Warren het jy ’n klassieke agtsteman met die vermoë om uitstekend tussen voor en agter te skakel.”

Whiteley gaan die mandaat kry om te hou by dit wat hom en die Leeus so gedug maak in Superrugby, het Coetzee verseker.

“As jy kyk wat in Superrugby gebeur het met die aanvallende ingesteldheid van ons franchises, dui dit die pad aan.

“Ons sal natuurlik ’n groter balans tussen aanval en verdediging nastreef.”

Dit is waarom ’n speler soos Frans Steyn soveel waarde toevoeg.
Allister Coetzee

Coetzee het voorts toegegee hy begin die jaar met ’n losskakel-krisis, met sowel Handré Pollard as Pat Lambie wat nie teen die Hane kan speel nie.

“Dit is waarom ’n speler soos Frans Steyn soveel waarde toevoeg. Hy is deeglik gemonitor en het vanjaar verskeie kere op losskakel vir Montpellier gespeel.”

Die 30-jarige Steyn het in 2012 die laaste van sy 53 toetse gespeel en is saam met Elton Jantjies een van net twee erkende losskakels in die groep.

Volgens Coetzee is dit belangrik dat die 19-jarige Curwin Bosch die Jong Bokkies in Junie by die Junior Wêreldtoernooi verteenwoordig en volgende seisoen weer in die Superreeks presteer.

“Hy is ’n opsie vir ons vir die derde toets (ná afloop van die o.20’s se Wêreldtoernooi), maar daar is ook geen rede waarom ons hom nie vroeër kan betrek nie.”

Daar is altesame agt nuwelinge in die groep: Coetzee, Cronjé, Skosan, Lukhanyo Am, Dillyn Leyds, Raymond Rhule, Ruan Dreyer en Lizo Gqoboka.

Rhule, Cronjé, Dreyer en Gqoboka het al saam met die Bokke getoer, maar het nog nie ’n toets gespeel nie.

Nog ’n speler wat ná n lang afwesigheid terugkeer, is die Haaie se haker Chiliboy Ralepelle. Hy het self laas in 2013 ’n Boktrui oor die kop getrek.

Allister Coetzee, die Bok-breier, Dinsdagoggend by die oefenkamp in Johannesburg. Foto: Gallo Images
Ruan Dreyer. Foto: Gallo Images
Andries Coetzee. Foto: Gallo Images
Lukhanyo Am (links). Foto: Gallo Images

Die Springbok-groep is:

Voorspelers (in alfabetiese volgorde): Lood de Jager (slot), Pieter-Steph du Toit (slot), Ruan Dreyer (stut), Eben Etzebeth (slot), Steven Kitshoff (stut), Siya Kolisi (flank), Jaco Kriel (flank), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker), Bongi Mbonambi (haker), Oupa Mohoje (losvoorspeler), Franco Mostert (slot), Tendai Mtawarira (stut), Lizo Gqoboka (stut), Coenie Oosthuizen (stut), Chiliboy Ralepelle (haker), Duane Vermeulen (losvoorspeler), Warren Whiteley (agtsteman, kaptein).

Agterspelers: Lukhanyo Am (senter), Andries Coetzee (heelagter), Ross Cronjé (skrumskakel), Damian de Allende (senter), Francois Hougaard (skrumskakel), Elton Jantjies (losskakel), Jesse Kriel (senter), Dillyn Leyds (veelsydige agterspeler), Rudy Paige (skrumskakel), Raymond Rhule (vleuel), Jan Serfontein (senter), Courtnall Skosan (vleuel), Frans Steyn (losskakel/senter).

Meer oor:  Frankryk  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.