Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wie behoort Rassie as kaptein te kies?

Aan die vooraand van vier belangrike toetse vir die Springbokke, is die leierskaplandskap grootliks gestroop weens beserings, spelpeil, politiek en oorsese verpligtinge wat voorkeurkandidate moontlik van dié amp kan weerhou.

Nietemin is daar ’n klompie kandidate wat die Bokke uit die moeras van die afgelope twee seisoene kan help lei.

Ofskoon daar uit sommige oorde geargumenteer word Suid-Afrikaners maak te veel bohaai oor die kapteinskap, is dit ’n feit dat die land se sportspanne, en veral rugbyspanne, gedy onder die leierskap van ’n sterk en charismatiese figuur wat voor draf.

Hier is moontlike kandidate vir die Springbokkapteinskap:

Gaan Handre Pollard voor draf vir die Springbokke teen Engeland? Foto: Gallo Images

1. Handré Pollard

Pollard as kaptein is waarskynlik die mees logiese en rasionele opsie van die beskikbare kandidate.

Die natuurlike leier het die gepaste stamboek, wat kapteinskap van die Junior Springbokke en die Bulle insluit, en hy is so te sê verseker van sy plek in die Bokke se beginspan.

Rassie Erasmus, afrigter, het ook vroeër prontuit gesê hy sal nie huiwer om ’n jong speler kaptein te maak nie. Moenie verbaas wees as Pollard voor draf vir die Bokke nie, al sal die verantwoordelikhede van losskakelspel, stelskopwerk en kapteinskap swaar op die 24-jarige se skouers weeg.

Sal Siya Kolisi die eerste swart kaptein van die Springbokke word? Foto: Gallo Images

2. Siya Kolisi

Die politieke druk op Erasmus is enorm om Kolisi as die Springbokke se eerste swart toetskaptein aan te wys. Kolisi is, nes Pollard, waarskynlik seker van sy plek in die beginspan en hy sal baie transformasiedruk op die Springbokke verlig indien hy suksesvol is in die leiersrol.

Daar is al gefluister oor die doeltreffendheid van Kolisi se leierskap by die Stormers, maar hy is ’n gewilde speler onder sy spanmaats en het uitgebreide ondervinding as kaptein op Superrugbyvlak. Hy sal ook ’n gewilde keuse as nasionale kaptein wees.

Eben Etzebeth het reeds ervaring as kaptein by die Springbokke. Foto: Gallo Images

3. Eben Etzebeth

Die tyd het so te sê uitgeloop vir Etzebeth om fiks te wees vir vanjaar se toetsvenster en hy sal waarskynlik die reeks teen Engeland misloop, wat op 9 Junie begin.

Etzebeth het ervaring van kapteinskap op die hoogste vlak en het die Springbokke in 2017 op die veld gelei.

Die letsels wat dié goor internasionale seisoen op sy psige gelaat het, moet nog gesien word. Hoe wys dit is om jou vurigste en aggressiefste speler ’n kaptein te maak, moet ook bevraagteken word.

Nietemin sal Etzebeth ’n sterk kandidaat vir die Bok-kapteinskap wees indien hy fiks verklaar word. Hy het vroeg in Desember verlede jaar laas rugby gespeel en volgens die Stormers-bestuur sal hy waarskynlik eers op 30 Junie teen die Jaguares oorweeg word – ná die drie toetse teen Engeland.

Warren Whiteley, die Bokke se agtsteman en kaptein, vroeër vanjaar teen Frankryk in aksie. Foto: Gallo Images

4. Warren Whiteley

Indien Whiteley as Springbokkaptein gekies word, sal hy dit ook met min speelkans in vanjaar se Superrugbytoernooi moet doen.

Die agsteman van die Leeus sukkel reeds geruime tyd met ’n kniebesering en is benewens sy mediese kwellinge nie ’n outomatiese keuse in die beginspan nie. Sy deugde as geesdriftige en inspirerende leier is egter welbekend.

Hy is ook ’n voormalige Springbokkaptein wat voor die kniebesering die span met groot vrug in 2017 se tuisreeks teen Frankryk gelei het.

Indien hy sy fiksheid herwin is hy dus in die tuig, maar daar sal gesien moet word of Erasmus se kop in ’n ander rigting staan.

Duane Vermeulen onlangs in aksie vir Toulon. Foto: Getty Images

5. Duane Vermeulen

Die Bokbestuur sal hoop om ’n kaptein vanuit tuisgeledere te kies, maar as daar geen geskikte kandidaat gevind word nie, sal Vermeulen ’n gewilde keuse wees.

Vermeulen is een van die hardste spelers in wêreldrugby en dis iets waarop Suid-Afrikaanse spelers en toeskouers positief reageer.

Erasmus het ’n gunstige opinie van Vermeulen se spel en sy leierskap, maar die sterk agsteman se betrokkenheid by die Bokke is nog nie bevestig nie. Sy verbintenis met Franse klubrugby sal op kort termyn sy kanse om voor te draf kortwiek.

Francois Louw is ’n ervare kaptein vir Bath in Engeland. Foto: Getty Images

6. Francois Louw

Van al die kandidate het Louw waarskynlik die meeste ondervinding en was vir die meeste van sy 80 verskynings vir Bath die kaptein.

Hy is ook al sedert 2010 by die Springbokke betrokke en het 57 toetse op sy kerfstok. Soos met Vermeulen, sal Louw se klublojaliteite waarskynlik teen hom tel wanneer daar oor die kapteinskap besluit word.

Daar moet daar ook nog gesien word of Erasmus die groot en vaardige baljagter gaan kies.

Meer oor:  Handre Pollard  |  Warren Whiteley  |  Eben Etzebeth  |  Johannesburg  |  Springbokke  |  Kandidate  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.