Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Casper Steyn
Wie kan skop? Toe verskyn Loftus se Spook
Wat het geword van?.?.?.

In Naas Botha het Loftus Versfeld sy Goue Seun gehad. In Derick Hougaard sy Liefling.

En dan was daar Loftus se Spook.

Casper Steyn storm deur die Crusaders-verdediging in ’n Super-wedstryd in 2001 op Loftus. Foto: gallo

“Casper die Spook”, oftewel Casper Steyn, die puntemasjien van die Blou Bulle wat gedurende die 1999-seisoen met sy 361 punte, wat 16 drieë ingesluit het, ’n rekord opgestel het vir die meeste punte in ’n seisoen. Teen die einde van sy loopbaan op Loftus het sy totaal op 854 gestaan – die derde meeste deur ’n Blou Bul ná wyle Chris Luther se 892 en Naas Botha se verstommende 2 511.

Steyn (46) is steeds in Pretoria woonagtig, waar hy aan die stuur staan van die Gautengse tak van West Cape Projects, ’n maatskappy wat spesialiseer in glas-, staal- en aluminium-projekte.

“Nadat ek ’n paar jaar gelede uit Italië teruggekeer het, het ek aanvanklik as ’n finansiële adviseur gewerk,” sê hy.

“Maar toe het hierdie geleentheid in die konstruksiebedryf opgeduik en ek geniet dit terdeë.”

Steyn het twee kinders uit ’n vorige huwelik.

“Jaden (13) het eerste span gespeel op die Laerskool Stellenbosch en gaan volgende jaar Paul Roos Gimnasium toe,” vertel hy trots. “En Kiara (11) is ook op die Laerskool Stellenbosch.

“Ek is ongelukkig vyf jaar gelede geskei, maar is tans in ’n verhouding met Charmaine Joubert, en sy het ook twee kindertjies.”

Steyn is in Pretoria gebore in die tyd toe die magtige Ligbloues onder wyle brig. Buurman van Zyl SA rugby oorheers het.

Maar eers ná ’n draai in die Vaaldriehoek het Steyn hom as Pretorianer ingeburger.

Casper en sy vriendin, Charmaine Joubert.

“My oorlede pa, Peet, het skoolhoof geword by die Laerskool Frikkie Meyer in Vanderbijlpark,” verduidelik Steyn. “Dus het ek in Vanderbijlpark skoolgegaan en aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer.

“My pa se invloed was beduidend en hy het my aan rugby blootgestel. Hy was oor die jare spanbestuurder van ’n aantal provinsiale ouderdomsgroepspanne, en ek het as ’n tjokkertjie in sy skadu rondgehardloop en lief geraak vir die spel.

“Ek was ook bevoorreg om onderwysers soos Ricardo Erasmus en Johan Koekemoer te gehad het, wat my deur my skoolloopbaan gemotiveer het en die beste uit my gehaal het.

Casper se seun, Jaden (13).

“Ek was toe reeds ’n Noord-Transvaal-aanhanger en Ligblou-legendes soos Naas Botha, Johan Heunis, Adolf Malan, wyle Jan Lock en Deon Oosthuysen was my helde.”

Steyn het Vaaldriehoek op die Cravenweke vir sowel laer- as hoërskole verteenwoordig en in 1997 sy debuut vir die Blou Bulle in die eertydse Super 12-reeks gemaak.

Dit was ook die jaar wat die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika kom toer het – teenstanders teen wie Loftus se Spook sy ere-naam verdien het.

Kiara, Casper se 11-jarige dogter.

Sy 20 punte, wat ’n skitter-drie ingesluit het, het die Britse span geknak met die Bulle wat met 35-30 as oorwinnaars van die veld gestap het.

“Ja, dit was ’n unieke oorwinning,” onthou Steyn. “Ons was die enigste provinsiale span wat die Leeus kon klop.

“En, dit was ’n sterk Leeu-span, met groot name soos Guscott, Townsend, Dallaglio en Johnson in hul geledere!”

Eienaardig genoeg was Steyn, wat op vleuel en heelagter uitgedraf het, aanvanklik nie die Blou Bulle se stelskopper nie.

“Graeme Bouwer was die gereelde skopper, maar in die Super 12-wedstryd teen die Gauteng Leeus het hy ’n pyn in sy been gekry. Toe vra die coaches of iemand anders kan skop, en, aangesien ek van tyd tot tyd saam met Graeme geoefen het, het ek probeer, en dit het goed gegaan.”

Drie weke ná die oorwinning oor die Britse en Ierse Leeus teken Steyn ook 17 punte vir die Blou Bulle aan teen Skotland, maar dié slag verloor die tuisspan met 22-33.

Ná 57 wedstryde vir die Bulle is hy Pumas toe. Daar het ’n nekbesering hom gedwing om sy tokse op te hang.

“Ek het eintlik my oogbank gekraak,” verduidelik hy, “en toe hulle X-strale neem, het dr. Henry Kelbrick toevallig agtergekom dat een van my nekwerwels al geruime tyd gekraak was.

“Ek was onbewus van die beseerde werwels, en op grond van dr. Kelbrick se raad het ek toe besluit om op te hou speel.”

Vier jaar ná sy uittrede moes Steyn die taaiste stryd van sy lewe voer, toe hy by die dood omgedraai het ná ’n gru-ongeluk in 2010. Hy is uit sy Ford-bakkie geslinger toe dié gerol het, en hy het ernstige kop- en gesigbeserings opgedoen.

Hy was vir langer as ’n week in ’n koma en dokters het hom ’n skrale kans van sowat 10% gegee om weer by te kom.

“Ek is ongelooflik dankbaar om deur daardie situasie te kon kom,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.