
Jasper Wiese verlaat die afgelope Saterdag die veld na die wedstryd teen Ulster. Foto: Gallo Images
Die Cheetahs se vuurvreter-agtsteman Jasper Wiese is vir vier weke geskors nadat hy ’n speler van Ulster by ’n losgemaal skoongemaak het.
Hy is Woensdag deur ’n tugkomitee van die Pro14-reeks skuldig bevind en sal nou eers weer op 16 April vir die Cheetahs in die Pro14-reeks verkiesbaar wees vir hul wedstryd teen die Glasgow Warriors in Skotland.
Wiese (24) is ná verlede Saterdag se wedstryd teen Ulster uitgewys vir die oortreding teen die seweflank Jordi Murphy in die 15de minuut van die twee spanne se kragmeting in die Kingspan-stadion in Belfast, Ierland in die Pro14-reeks.
Hy sal gevolglik Saterdag se laaste wedstryd van die span op hul toer van drie weke teen die Dragons misloop.
Dis Wiese se tweede skorsing vir ’n soortgelyke oortreding. Hy is in November verlede jaar vir drie weke geskors nadat hy die Cardiff Blues se losskakel Jason Tovey – ook in die 15de minuut – met die skouer geloop het.
Hy het ná dié skorsing sy terugkeer tot die span op 25 Januarie in die herontmoeting met die Southern Kings in Bloemfontein gemaak.
Wiese was Woensdag erg teleurgesteld oor sy skorsing en dat hy die span wéér in die steek gelaat het.
Ek voel regtig baie sleg. Ek laat nie net myself in die steek nie, maar ook die span.
Jasper Wiese
“Ek voel regtig baie sleg. Ek laat nie net myself in die steek nie, maar ook die span.
“Dit was nooit my voorneme om weer geskors te word nie, wat nog te sê van ’n oortreding begaan wat tot so ’n skorsing kan lei. Dit is nie lekker nie en ek vra die span nederig om verskoning,” laat weet Wiese uit Wallis.
“Die skorsing is vir ’n gevaarlike duikslag, oor ek ’n speler skoongemaak het. Ek het eers ná die wedstryd gehoor dat ek uitgewys gaan word en was regtig nie daarvan bewus dat ek oortree het nie.
“Ek gaan egter my skorsing aanvaar en hoewel dit sleg vir die span is, is dit ongelukkig deel van die spel,” sê hy.
Sy skorsing kan meebring dat die hoofafrigter, Hawies Fourie, Saterdag teen die Dragons weer vir Gerhard Olivier op agsteman kan oorweeg.
Behalwe vir Saterdag se stryd teen die Dragons, sal Wiese ook die Cheetahs se volgende drie tuiswedstryde, teen Leinster, Edinburgh en die Ospreys, misloop.