Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Ek en Bokke het mekaar nie nodig’

“Die Springbokke het my nie nodig nie en ek het hulle ook nie nodig nie.”

Uit dié woorde blyk dit die voormalige Bulle-slot Paul Willemse is allermins spyt dat sy rugbytoekoms in die blou van Frankryk, eerder as die Groen-en-goud van Suid-Afrika lê.

Paul WillemseFoto: getty

Willemse, wat sy rugby vir Montpellier speel, het Vrydag aangekondig hy het Franse burgerskap verwerf. Hy is dus verkiesbaar vir Frankryk se veldtog in die Sesnasies-reeks.

“Ek het my naam gisteroggend in die amptelike joernaal gesien,” het Willemse by ’n nuuskonferensie gesê – dít nogal in Frans.

“Ek is verheug. Ek is nou Frans, selfs al moet ek nog twee tot drie weke wag voordat ek my paspoort kry. Dit is ’n groot oomblik vir my en my familie,” sê hy.

Dié gebore Pretorianer het die Wêreldbekertoernooi vir o.20-spanne in 2012 saam met Suid-Afrika gewen. Hy het Suid-Afrika in 2014 verlaat om hom by die Top14-span Grenoble aan te sluit.

Willemse (26) het Vrydag ook aangekondig dat hy sy kontrak met Montpellier tot 2022 verleng het.

“Tans dink ek net aan Montpellier en wanneer die groep aangekondig word, sal ons sien of ek in die Sesnasies-reeks betrokke sal wees,” sê Willemse.

Volgens Wêreldrugby se regulasies, wat bepaal ’n speler mag ná drie jaar se verblyf in ’n sekere land vir daardie land uitdraf, sou Willemse in November reeds vir Les Bleus kon speel.

Bernard Laporte, president van die Franse Rugbyunie, het in Desember 2016 gesê hy het die “politieke besluit geneem dat geen oorsese spelers vir die nasionale span sal speel nie”.

Hy het toe aangekondig dat oorsese spelers voortaan slegs vir Frankryk mag uitdraf as hulle in besit van ’n Franse paspoort is.

Van 1 Januarie 2021 af sal spelers net vir hul aangenome lande mag speel as hulle vyf agtereenvolgende jaar in daardie land gewoon en gespeel het.

– Sport24, Sportredaksie

Meer oor:  Paul Willemse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.