SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Willemse nie weer op SuperSport

Ashwin Willemse sal nie weer op televisie gesien word as ’n rugbyontleder vir SuperSport nie.

SuperSport het Donderdag bevestig Willemse se kontrak met dié uitsaaier het verstryk en is nie hernieu nie, maar dit is onduidelik of dié besluit gesamentlik deur dié oud-Bok-vleuel en die uitsaaier geneem is.

Ashwin Willemse. Foto: Denzil Maregele

“Ashwin Willemse se kontrak met SuperSport het verstryk en hy sal nie weer op die lug verskyn nie,” lui ’n verklaring van SuperSport.

Sandile Luthuli, ’n woordvoerder van SuperSport, wou nie bevestig of Willemse daarvan bewus was dat sy kontrak nie hernieu sou word nie.

“Ons verklaring staan, ek stel voor julle kontak Ashwin self in dié verband,” sê Luthuli.

Hoewel Willemse nie Donderdag kommentaar aan Netwerk24 wou lewer nie, het hy volgens TimesLive nie van dié ontwikkeling geweet nie.

“Julle kontak my oor iets wat ek nog nie gelees het nie en ek weet nie waarvan julle praat nie,” het hy volgens TimesLive gesê.

Willemse was nog nie sedert die uitstap-herrie op 19 Mei op die kassie te sien nie. Willemse het die SuperSport-ateljee in Randburg dié dag tydens ’n regstreekse uitsending verlaat nadat hy sy mede-ontleders Nick Mallett en Naas Botha van neerhalende gedrag teenoor hom beskuldig het.

Kort voordat Ashwin Willemse die SuperSport-ateljee tydens ’n regstreekse uitsending verlaat het. Foto: Skermgreep

Mallett en Botha het albei reeds na die ateljee teruggekeer.

Ná die voorval het SuperSport ’n onafhanklike advokaat, Vincent Maleka, aangestel om ondersoek in te stel en aanbevelings te doen.

Maleka kon geen rassisme in Mallett en Botha se optrede vind nie en het aanbeveel dat die saak na die Menseregtekommissie (MRK) geneem word.

Ná die ondersoek het Willemse se prokureur, Nqobizitha Mlilo, gesê hy wil die saak na die gelykheidshof neem, maar Willemse het in Julie in ’n onderhoud met die radiostasie 702 gesê hy gaan die aanbeveling dat die saak na die MRK geneem word, eerbiedig.

Willemse het volgehou dat hy glo rassisme het wel ’n rol gespeel.

SuperSport het bevestig hulle het nog geen kommunikasie van die gelykheidshof in dié verband ontvang nie.

“Ons het nie van die gelykheidshof gehoor nie. Ons is besig om met die MRK te praat. Ons het adv. Maleka se verslag na die MRK verwys, soos hy in sy verslag ná die ondersoek na die voorval voorgestel het,” lui die verklaring.

Botha en Mallett het albei Donderdag gesê hulle wil nie kommentaar lewer nie.

Mlilo kon ná verskeie pogings nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens Sport24 sal Xola Ntshinga, Victor Matfield, Breyton Paulse, Botha en Hanyani Shimange Saterdag in SuperSport se ateljee wees om die Rugbykampioenskapswedstryd tussen Australië en Suid-Afrika te bespreek.

Meer oor:  Kontrak  |  Naas Botha  |  Ashwin Willemse  |  Supersport  |  Nick Mallett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.