Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Willemse roep Baai nié finaal vaarwel

Dit gaan vir hom ’n “bittersoet oomblik” wees om Saterdag sy laaste wedstryd vir die Southern Kings te speel, sê die haker Michael Willemse.

Die Kings pak die Cheetahs in Bloemfontein in hul laaste Pro14-wedstryd van die seisoen.

Die haker Michael Willemse speel Saterdag sy laaste wedstryd vir die Kings voordat hy die pad Skotland toe vat. Foto: Gallo Images

Willemse verhuis ná die wedstryd na Skotland waar hy vir die volgende twee seisoene vir Edinburgh gaan speel.

“Hoewel ek weggaan, is dit nie vir seker my laaste wedstryd ooit vir die Kings nie,” sê Willemse.

“Ek is van Port Elizabeth en sal sekerlik weer hier ’n draai gooi.”

Volgens Willemse gaan hy ook nie spesifiek oorsee in die hoop om vir Skotland se nasionale span te speel nie.

“In dié stadium gee ek babatreetjies. As so iets vorentoe oor my pad kom, sal ek dit oorweeg,” sê Willemse.

“Ek is nou eers 26 jaar oud en het nog nie opgegee om oor die Springboktrui te droom nie.”

Stephan Greeff het sy wangbeen gebreek en sal nie die Cheetahs Saterdag in Bloemfontein aandurf nie. Foto: Gallo Images

Volgens Willemse wil hy nou vir eers bitter graag met ’n oorwinning oor die Cheetahs afsluit.

“Daar is ’n paar ander manne wat ook by die Kings klaarmaak en ons wil almal graag op ’n hoë noot groet,” sê hy.

Die Kings het nog nie bekend gemaak watter spelers nie weer ’n kontrak aangebied is nie. Volgens gerugte is daar egter heelwat spelers wat in die slag kan bly.

Deon Davids, Kings-afrigter, het wel onlangs gesê van die spelers oor wie daar vraagtekens hang, kan weer vorentoe gekontrakteer word.

Dat die Kings planne het om so gou moontlik nuwe bloed in te bring, is egter die laaste tyd duidelik gemaak.

Woensdag is daar aangekondig dat die Ierse slot Jerry Sexton op pad is na die Oos-Kaap. Courtney Winnaar, ’n veelsydige agterspeler van die Haaie, oefen ook reeds by die Kings. Daar is verder ’n moontlikheid dat ’n paar spelers by die Franse klub Toulon geleen kan word.

Die kans dat die losskakel Demetri Catrakilis, wat tans in Engeland klubrugby speel, weer vir die Kings kan speel, is ook glo nog nie heeltemal daarmee heen nie.

* Die slot Stephan Greeff se seisoen is intussen iets van die verlede nadat hy ’n paar dae gelede in ’n oefening sy wangbeen gebreek het.

Die loskopstut Alulutho Tshakweni kan dalk ook die wedstryd teen die Cheetahs weens ’n rugbesering misloop.

Die Kings kies Vrydag hul span.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Edinburgh  |  Kings  |  Michael Willemse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.