Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Willemse skitter in Stormers-sege
Die Cheetahs se Clayton Blommetjies duik oor in die hoek om ’n drie te druk teen die Stormers op Nuwelamd. Foto: Jaco Marais

Gegewe al die geleenthede wat sy span in die Cheetahs se kwartgebied gehad het, sal John Dobson, afrigter van die Stormers, teleurgesteld wees dat hulle nie ’n bonuspuntdrie kon aanteken nie.

Nietemin kan ’n mens nie stry dat hierdie sege van 30-13 oor die Cheetahs, die Curriebeker-kampioen, ’n goeie poging was nie.

Dit was die Stormers se beste vertoning tot dusver in die Superrugby Unlocked-reeks. Hulle was verlede week goed teen Griekwas, maar moes dit opvolg met ’n goeie wen oor ’n sterker teenstander om selfvertroue vir die pad vorentoe te skep.

Die Stormers se oorheersing van die vaste fasette het hulle uit die staanspoor op die voorvoet geplaas.

Trouens, die Cheetahs se loskopstut, Charles Marais, het só swaar geleef teen die Stormers se Springbok-vaskopstut, Frans Malherbe, dat hy reeds in die 21ste minuut vervang is.

Herschel Jantjies het die Stormers ’n vroeë voorsprong gegee nadat hy opportunisties steelkant om doellyn toe is.

Damian Willemse het ’n strafdoel bygevoeg en ná die eerste kwart van die wedstryd was die tuisspan gemaklik met 10-0 voor.

Juarno Augustus van die Stormers storm voort in Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs op Nuweland. Foto: Gallo Images

Terselfdertyd was die Stormers in die eerste helfte ook hul eie grootste vyand. Hulle het gereeld besoek afgelê in die besoekers se kwartgebied, maar nie daardie geleenthede in punte omskep nie.

Namate die eerste helfte gevorder het, het die Cheetahs die bordjies in die lynstane verhang en die Stormers se verdediging begin toets.

Rosko Specman en Clayton Blommetjies het gevaarlik op die teenaanval gelyk, maar in meer gestruktureerde spel is die Cheetahs deur foute gekelder.

Tian Schoeman het hul druk in punte omskep om dit 3-10 te maak, maar Damian Willemse het in die doodsnikke van die eerste helfte ’n briljante skepdoel deur die pale gejaag om die Stormers met die omdraaislag ’n 10-punt voorsprong te gee.

Van Willemse gepraat, hy was ná al die kritiek die afgelope paar wedstryde baie indrukwekkend. Hy het die Stormers deur berekende skoppe uit die hand op die voorvoet gehou en Dobson pluk straks die vrugte van die mosie van vertroue wat hy weekliks in sy talentvolle losskakel stel.

Die Cheetahs het egter nooit gaan lê nie en het vroeg in die tweede helfte selfs ’n skrumstrafkop afgedwing teen die Stormers se Bok-voorry. Schoeman het die bal deur die pale gejaag om hulle binne trefafstand te bring.

Maar die Stormers het dadelik teruggeslaan met ’n puik drie wat deur Juarno Augustus afgerond is. Warrick Gelant het alles begin met ’n teenaanval en die bal is deur etlike stelle hande voordat Augustus afgerond het.

Die Cheetahs het egter in die geveg gebly en Specman het briljant afgerond nadat die spring van die bal vir Willemse geflous het.

Met ’n kwartier oor en die Stormers wat die pas slegs met 7 punte aangegee het, was dit nog enigiemand se wedstryd. Maar dis net mooi hier waar die Stormers se ervaring na vore gekom het met skitterende bestuur van die spel.

Willemse het ’n strafdoel bygevoeg voordat hy vir Gelant met ’n puik eenhand-aangee gevind het om die Cheetahs planke toe te stuur.

Puntemakers:

Stormers 30 (13): Drieë: Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Warrick Gelant. Doelskoppe: Damian Willemse (3). Strafdoele: Willemse (2). Skepdoel: Willemse.

Cheetahs 13 (3): Drie: Rosko Specman. Doelskop: Tian Schoeman. Strafdoele: Schoeman (2).

Meer oor:  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.