Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-heelagter Willie bly ’n Wasp

Die Bulle se groot planne vir Superrugby-oorheersing het ’n knou weg nadat hulle moes hoor die Springbok-heelagter Willie le Roux gaan nie sy rugby op Loftus Versfeld kom speel nie.

Boonop het die oud-Vrystater Maks van Dyk ook nee gesê vir die blou trui en eerder vir nog ’n jaar by Toulouse in Frankryk geteken.

Willie le Roux in die trui van sy Engelse klubspan Wasps. Ondanks berigte dat hy ongelukkig is daar, sal hy nie terugkeer Suid-Afrika toe om die Bulle te verteenwoordig nie. Foto’s: Getty Images

Die Bulle se hoëprestasiebestuurder, Xander Janse van Rensburg, het maande lank agter die skerms gewerk om Le Roux en Van Dyk na Loftus te trek as deel van die unie se plan om ’n bulspan aan hul nuwe Super-afrigter, Pote Human, te verskaf.

Die afgelope week moes Janse van Rensburg egter daarmee vrede maak dat die unie ’n groot vis kwyt is. “Wasps gaan Willie nie van sy kontrak vrystel nie,” het hy aan Rapport bevestig.

Die unie het reeds sy kaarte laat sien toe hy die veterane Du­ane Vermeulen en Schalk Brits gekontrakteer het. Hulle het ook verras deur die oud-Bok vleuel Cornal Hendricks en Blitsbok Rosko Specman vir die komende seisoen te teken.

In die Bulle se meesterplan is Le Roux beskou as ’n sleutelfiguur: die anker in die agterlyn wat nodig is vir Superrugby-sukses. Dit was geen geheim nie

dat Le Roux ongelukkig by sy Engelse klubspan, Wasps, was, wat die Bulle ’n welkome invalshoek vir hul onderhandelinge gegee het.

Le Roux moet ’n gedeelte van sy Wasps-salaris inboet om vir die Springbokke uit te draf – iets wat die Bulle as ’n wortel probeer gebruik het. Sy terugkeer na ’n Suid-Afrikaanse span sou ook vir een van die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, se kopsere gehelp het. Le Roux en ander spelers wat in Engeland ponde verdien – waaronder eerstekeuse-spelers soos Faf de Klerk en Franco Mostert – sal waarskynlik nie volgende jaar se Bok-oefenkampe voor die Wêreldbeker-toernooi kan bywoon nie, omdat hul klubs nie bereid is om hulle vry te stel nie.

Met Le Roux nie meer ’n opsie nie, is die hoop by Loftus nou dat Warrick Gelant in die heelagterposisie ingespan kan word. Gelant het die grootste deel van die 2018-seisoen misgeloop weens ’n besering, maar sy aanvallende deugde is welbekend.

Pine Pienaar
Faf de Klerk Foto: gallo images
Franco MostertFoto: gallo images
Maks van Dyk

Divan Rossouw, wat by die Wêreldbeker vir Namibië gaan uitdraf, is die ander heelagter in die groep.

Die Bulle se belangstelling in die stut Van Dyk spruit uit hul relatiewe gebrek aan hardebaarde op vaskopstut.

Lizo Gqoboka en Trevor Nya­kane is die Bulle se enigste Bok-vaskopstutte, terwyl hul ander opsies in dié posisie – Conraad van Vuuren (23), Frans van Wyk (23) en Dayan van der Westhuizen (24) – almal jonger as 25 is. Die Pretoriase unie is wel besig om te onderhandel met ’n ander Suid Afrikaanse vaskopstut (wie se naam aan Rapport bekend is) wat tans in die Noordelike Halfrond speel, maar het steeds gevoel Van Dyk kan groot waarde toevoeg.

Sy Franse klub het egter besluit om hom meer geld aan te bied, wat hom sodoende uit ’n finansiële oogpunt ver buite die bereik van die Bulle geplaas het.

  • Intussen is Human flink besig om sy bestuurspan vir die Superreeks saam te stel.

Die Bulle-breier hoop om teen 3 Januarie, wanneer almal weer saamtrek ná die Kersvakansie, bevestiging te hê dat almal wat hy wil betrek te vinde is daarvoor.

Pine Pienaar, wat die Bulle se verdedigingsafrigter onder Frans Ludeke was en wat self die Curriebeker-span van 2011 tot 2014 afgerig het, tel onder die afrigters wat Human by Loftus gaan bystaan.

Pienaar, die direkteur van sport by die Hoërskool Waterkloof, het die Cheetahs onlangs in hul Pro14-voorbereidings bygestaan. Hy het Loftus verlede jaar verlaat ná ’n afleggingsproses.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.